Stephen Watson. The Light Echo and
Other Poems. Penguin, 2007. ISBN 978 0 143 02 553 5.
Resensent: Joan Hambidge
I
Die geskiedenis van weemoed,
melancholie sou die beste opsomming kon wees vir die liefdesverse in Stephen
Watson se The Light Echo, die digter se sesde bundel.
In hierdie bundel word die
metafoor van die ‘light echo’ gebruik om die impak van ervarings tussen mense,
weer te gee. “A phenonomenon in space that occurs when light from a star that
has erupted, sometimes several years ago, continues propagating outwards
through the cloud of dust surrounding that star. The light reflects or ‘echoes’
off the dust and then travels to Earth”.
In spaars, onopgesmukte reëls
karteer hy die moderne liefdesverhouding soos James Dickey en Anne Sexton op
hul beste. Die ‘modern love’ waar mense mekaar ontmoet, saamwoon, maar altyd
wag op iets beters, meer uitdagends of opwindend as die verhouding wat beleef
word, soos skitterend verwoord in “How things turn out” (p. 10). Daar is reisgedigte, geskryf in Bellagio –
soos “Confiteor’’, p. 47 - in ‘n skrywers-retreat, wat meer word as ‘n
reisvers: dit word ‘n meedoënlose afrekening met ‘n ouer, selfsugtige self. Dit
is wat die leser voortdurend opval in hierdie bundel: die vermoë om agter
maskers in te klim en leuens of konvensies aan die kaak te stel.
In hierdie verband is “The Light
Echo” (p. 50 ) ‘n soort ars poetica. Watson is by uitnemendheid ook ‘n digter
van die landskap (“The Gift”, p.64), maak selfs van die liggaam na die
liefdespel ‘n soort landskap in die verruklike “The Imminence’’ (p. 65). Die
digter benoem stilte en afwesigheid ( “a metaphysics of the atmosphere’’) in
gedigte wat die onsêbare en die ‘unheimliche’ wil opvang.
Die mens se verwondering voor die
grootsheid van die landskap word geëggo in natuurbeelde en die spreker word één
met dit wat hy beskryf.
II
Die verse oor die San speel terug
op verse in Return of the Moon met “The House of the Dream” as ‘n absolute
hoogtepunt:
When
a Bushman
dies,
he becomes
a dream.
The house
of that dream
is small, a
bird’s house.
It wears
a little apron
like a Bushman’s
apron; it wears
a black dress
of mouse’s skin (p. 77….)
Droom en dood word een in hierdie
verruklike vers waar die digter op ‘n behendige wyse die tegelykertyd-aspek
illustreer van die digkuns: die dood ‘n droom word deel van die aarde, die
konkrete. En in hierdie folklore word dit van alle boosheid ontkrag deur dit te
begrawe. Direk na hierdie verse is daar reise na eksotiese ruimtes, speels
beskryf as ‘travelogue’, maar in die reis is daar ‘n konfrontasie met die
vreemde én bekende. Hierdie gedig word ‘n ars poetica en spirituele waarneming
van die skryfdaad via Dante, Eliot, Borges, e.a.
Inderdaad oor “the nameless
transits of life” word hierdie gedig ‘n metafisiese ondersoek na die betekenis
van lewe en dood. Dit word ‘n spirituele aanvaarding dat ons Jungiaans deel
word van ‘n soort kollektiewe onbewuste ná ons dood.
Daar is elegiese verse teen die
einde van die bundel en hierdie lykdigte reflekteer eweneens die stand van die
digkuns: die gedig word ‘n poskaart gelaat in verlate plek (“Relic’’, p. 116).
Die bundel sluit met twee gedigte oor die Himalajas, sowel reis- as spirituele
verslag met die sluiting die ervaring van sneeu, en dalk, die dood.
III
Dit is ‘n bundel wat die reputasie
van Stephen Watson as digter gestand doen, ‘n digterskap waarin stad en natuur,
die binnelandskap met besondere helderheid gekarteer word.
Dit is ‘n bundel wat helder voor
die geestesoog staan met onthoubare reëls en insigte oor menswees.
Die sekelmaan wat lyk soos ‘n
skyfie suurlemoen; die geliefde se begeerte wat met sy begeerte sinkopeer; ‘n
blik op die geliefde voordat hulle verlief geraak het, bekyk met ‘n kliniese
skildersoog.
Dit is opwindend, aangrypend. Watson
is tans binne die Engels-Suid-Afrikaanse digkuns, ‘n uitstaande digter wat
hoogs emosionele onderwerpe beheersd weergee.
Dit is ‘n lywige bundel, wat met
elke lesing geheime prysgee.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]