André P. Brink. Ander lewens: ’n roman in drie dele. Human & Rousseau, 2008. ISBN 978-0-7981-4958-9.
Resensent: Joan Hambidge
Dit is algemeen bekend dat romanskrywers dikwels die wêreld
van fiksie bó die werklike lewe verkies. Dikwels word ’n romanskrywer so
verbind aan ’n karakter dat hy homself van die karakter moet distansieer:
Flaubert se bekende uitspraak was dat Mevrou Bovary hy is; Nabokof het opgemerk
het dat Lolita beroemder is as hy.
In die jongste roman van André P. Brink word die ‘ander
lewens’ van sy eie romankuns onder die loep geneem. Dit is asof die behendige
Brink hier implisiete kommentaar lewer op die kritiek en opmerkings oor sy
romankuns wat sowel politieke / ideologiese temas as persoonlike / seksuele
dimensies verken het. ’n Skrywer hoor sy kritici en internaliseer dit deur op
’n implisiete manier kommentaar te lewer op die kritiek. Hierdie roman bestaan
uit drie dele wat soos ’n kaleidoskoop inmekaar skuif. Op bladsy 107 gee die
outeur vir die speurende leser ’n belangrike aanwysing: die trompe-l’oeil. En
hiermee word die vlakke vir die leser dan duidelik. Daar is ’n verwysing op
bladsy 67 wat lees:”Laat vaar alle hoop, jy wat hier binnegaan”, woorde van
seshonderd jaar gelede. ’n Tersluikse verwysing Paulo Coelho, ’n
kinderverhaaltjie wat inspeel op die Drie Beertjies; die skilderkuns van Seurat
en Monet.
Jostein Gaarder se Sophie’s World en natuurlik Haruki
Murakami se Sputnik Sweetheart waar die jong vrou haar self sien. Sy is op ’n
Groot Wiel by ’n kermis en dan wanneer sy rondkyk sien sy haarself in haar eie
woonstel (p. 46). Daar is eweneens ’n verwysing na Alice in Wonderland (p. 153)
vir verdere ontsyfering.
Walt Whitman se opmerking oor die ek wat meer as een ek is (“
I contain multitudes”, p. 161) laat ons na ander manvertellers by Brink kyk
(o.a in Gerugte van reën).
Genoeg aanduidings dan – behalwe dat karakters skilder en
argitekte is – om ’n eiesoortige “mapping” van die innerlike landskap weer te
gee. Die outeur Brink is dus hier besig die boksie-binne-die-boksie oop te
maak. Nie om dowe neute nie is die titel van die middelste verhaal Spieël. Hou
Brink dis vir ons ’n spieël op van wat hy in sy binneste dink van ons
kommentare oor sy siening van seksualiteit en politiek?
Waarom ontdek ’n karakter een oggend dat hy swart is? Waarom
is daar ’n sekstoneel wat grú en met openlike beskrywings van die mossel?
Die teks verwys ook na ’n rooftoneel: hier hoor ons Brink se
skrywe in die Sunday Independent met sy klag aan Mbeki & kie. Dié leser
voel hier die verwysing na ’n werklike rooftoneel wat Brink se dogter
deurgemaak het en die ontnugterde vader, die erstwhile vegter teen apartheid,
se opstand teen die nuwe regering.
Hoe ver het alles nie teruggewaaier nie? Is hierdie toneel
nie ’n gevoel van magteloosheid nie? Kennis van die aand en die opofferinge
rondom hierdie boek; die opstande teen
die indertydse regering het op ’n nuwe soort geweld uitgeloop.
In die slotvertelling word die musiekwêreld betrek en daar is
’n verwysing na
Nina Berberova se Die begeleidster. (Ons lees ook dikwels van
sy bewondering vir Netrebko...)
Ook hier sypel die geweld die verhaal binne.
Binne die hoogs estetiese wêreld van musiek – waar Brink ’n
verbluffende kennis openbaar – is daar geweld. Op die vooblad van Die Burger
van 16 Mei word berig dat Brink se susterskind vermoor is, die seun van die
literator Dawie Steenberg en die skrywer Elsabe Steenberg. Het fiksie hier die
werklikheid vooruitgeloop?
Daar is min mense wat ’n verhaal so vlot as André P. Brink
kan vertel.
Trompe l’oeil beteken letterlik oë-verblindery en dit is hoe
’n mens hierdie roman moet benader: Brink is hier triekster waar die illusie
geskep word dat iets in drie dimensies bestaan, terwyl dit eintlik net twee
dimensioneel is (byvoorbeeld in die skilderkuns). En een van die bekendste
skilderye in hierdie genre is Escaping Criticism van Borrell del Caso uit die
laat negentiende eeu. Met hierdie roman bewys Brink dat hy waarskynlik ’n
antwoord skryf op wat hy sien as misverstande oor sy werk. Of altans: dis hoe
hierdie leser sy teks benader...
Die werklike skrywer gee immers vir ons aanwysings van watter
musiek by watter dis pas (p. 254) en waarskynlik moet ons dan hierdie boek ook
as ’n soort opera benader!
Droom versus
werklikheid. Die boek begin met ’n droom en word dan uitgespeel en karakters en
situasies word in teskte herhaal om as’t ware ’n ander perspektief te gee op ’n
bepaalde gegewe. Karakters beweeg ook van verhaal na verhaal, van dimensie na
dimensie...
Lesers het beswaar gemaak teen ongeoorloofde seksuele
beskrywings. My siening is dat die werklike outeur waarskynlik sy resensente
wil skok of irriteer, omdat hierdie roman ’n soort Antwoord aan die Kritiese
Leser is wat vit en fout vind.
Die
perspektiefwisseling is flink – karakters duik op in ’n verhaal wat ’n
korreksie
bring of ander
blik gee op ’n ervaring.
Op bladsy 94 staan daar Maggie Laubscher, in plaas van
Laubser. En die grappie oor Sir Thomas Beecham is al afgesaag.
Dieselfde geld die een oor die Ouma wat staan en Oupa wat sit
na die wittebrood (p. 248).
Die slot van die roman is skokkend. Alles is dus nie pluis
met die vrou nie en die redes vir die ander minnaars se vreemde eindes nie. ’n
Mens kan dit ook lees as ’n kommentaar (en vrees) op die vrou se seksuele krag
en dat jy juis skryf oor dit wat jy moontlik vrees.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]