Stephen Gray (Ed.). Invitation to a Voyage. French language Poetry of the Indian Ocean African Languages. Protea Book House, 2008. ISBN 978 1 869 19 169 6.
Resensent: Joan Hambidge
I.
Hierdie versameling wil die Suid-Afrikaanse leser bekendstel
aan die Franse poësie van die Indiese Oseaan se Afrika-eilande. Plekke soos
Mauritius, Madagascar, Réunion, die Seychelle, Komoro, Mayotte kom dus hier aan
bod.
Gray is self digter en hy het gebruik gemaak van die hulp van
Carole Beckett om die teks vir hom te versorg. In vertalings is dit altyd goed
as daar so ‘n dubbelloop-aksie plaasvind: ‘n digter en konsultant; of twee
digters wat beloer en bekyk. Min digters is in elk geval so behendig en vlot as
Uys Krige wat Afrikaans verruim het met sy skitterende Portuguese en Spaanse
vertalings. Wil Nicol Stassen nie asseblief M.M. Walters se Spaanse dans aan
die vergetelheid ontruk nie? Daardie lelike ou geel Perskor-boekie met die
pragverse in van Neruda en ander voortreflike digters. Protea was weer eens
hier bereid om ‘n vertalings uit te gee soos in die geval van H.J. Pieterse se
vertaling van Rilke se Duino-elegieë. Die Franse Instituut van Suid-Afrika het
eweneens ‘n bydrae gelewer.
Gray plaas ook Roy Campbell se vertaling van Baudelaire en
Wilma Stockenström se weergawe van Flavien Ranaivo.
Daar is ‘n kaart sodat die leser sigself kan oriënteer en die
samesteller verskaf foto’s wat die gedigte verder konkretiseer.
Die titel is natuurlik afgelei van Baudelaire. Daar is die
bekende “Aan ‘n Kreoolse dame” wat in 1973 in Rapport verskyn het en deur Gray
en Stockenström vertaal is. Hierdie
prag-vers waar die Kreoolse dame ‘n versinnebeelding word vir die kreatiewe
prosesse gekoppel aan die besoek van hierdie lande, vertel hoe daar ‘n duisend
sonnette sou kon ontkiem in die harte van digters (p. 10). Joan Neethling het
weer op haar beurt probeer om die beroemde “Die albatros” te vertaal en dit is
oorspronklik in 1975 in Rapport gepubliseer.
II.
Die boek is geïndekseer met foto’s en verduidelikende tekste.
Daar is digters uit Réunion (soos Dayot, Parny, ea.), Mauritius (soos Maunick,
Carl de Souza), Madagaskar (Flavien Ranaivo, Allain, e.a.), die Seychelle (‘n
tradisionele vers en gedigte van Antoine Abel), die Komoro (Salim, Salim
Hatubou, e.a.) en Mayotte.
Uiteraard word die leser deurgaans gekonfronteer met gedigte
geskryf in ‘n tussentaal: verse wat huiwer tussen die hartstaal en vertaling
deur ‘n ander persoon. Wat gaan verlore, maar wat word gewen? Robert Frost meen
dat dit wat in ‘n vertaling ‘verlore’ gaan die eintlike gedig is. Maar sonder
vertalings kan geen letterkundige leser bestaan nie. Ons is dus in die hande
van die kundige vertaler wat ons bekendstel soos ‘n buikspreker wat namens iemand
praat, inlig of vertel.
Met hierdie bundel sou ‘n mens na die eilande kan reis en
iets kan opteken van die leefwyse aldaar. Wat ‘n frustrasie was dit nie vir
hierdie reisiger om geen poësie van Mosambiek te ken nie. Hierom het ek
waarskynlik sommer self ‘n gedig gekomponeer, “Lykdig in die trope”, om iets
van die huidige bestaansdilemma op te vang.
Vir my is ‘n besonderse vers “Malay Pantoum” (p. 28), ‘n
skitterende spel met hierdie nogal moeilike vorm. Dit is ‘n gedig van Charles René Marie Leconte
de Lisle. Ook sy “Palanquin” is hartgrypend mooi. Hierdie gedig is in 1845
geskryf. Dan is daar die “Love Song” van Ranaivo – vertaal deur Stockenström en
Gray – en hierdie leser hóór Wilma voordra!
A, kyk hoe knap is hierdie vers getransporteer!
Die geliefde is troue gesel: soos ‘n kalbas. As dit heel is,
‘n skepding vir water. Stukkend: bruggies vir my kitaar! (p. 104).
Vele van die gedigte wil voorgedra wees. Jy moet dit nie net
lees nie, maar hóór. Soms is ‘n vertaling hortend, soos Joan Neethling se “Die
Vrou, Die Man” (p. 47). Of wil die gedig juis die dilemma van die vrou wat
vasgevang is in ‘n onmoontlike situasie representeer? ‘n Vrou wat nie kan werk
vind nie en hierom moet sy by die man bly…
“Mea Culpa” skeer die gek met die Rooms-Katolieke boetedoening
(p. 64), ‘n gedig van Clifford Ng Kwet Chan, wat in ander verse sterk sosiale
kommentaar lewer. By ander digters is daar woorde wat sing en dans (p. 57). Van
hierdie gedigte het in Contrast en Staffrider ‘n publikasie-ruimte gevind, wat
opnuut bewys hoé belangrik letterkundige tydskrifte as tydsdokumente is.
III.
En waarom ‘n intense belangstelling in hierdie letterkunde?
Gray verklap dit in die voorwoord: die goewernante, Nesta Williams het van ‘n
stoomboot op Mauritius afgeklim en vir hulle as kinders die wonderbaarlikste
stories vertel.
Maar om haar te verstaan, moes hulle haar taal leer ken en
hier weet ons hoe die digkuns gekoppel is aan die taal van die moeder.
Die samesteller werp ook lig op die haglike
publikasie-toestande (veral in Madagaskar) en die hele postkoloniale debat word
aangeraak via veral Fanon. Begrippe soos negridute, migritude word eweneens
behandel.
Waarskynlik moet ptit op p. xxx petit wees.
Stephen Gray het belangrike bewaringswerk gedoen vir die
leser met ‘n belangstelling in die digkuns.
Agter hom staan kundige medewerkers en natuurlik die digkuns.
En Gray betrek Irma Stern, Batiss, Alexis Preller. Hy verwys eweneens na Elsa
Joubert se reisbeskrywing: Suid van die wind. Hier is ‘n koloniale en
postkoloniale blik dus met gedigte, prosas en verklarende tekste en
reisbeskrywings.
“Bemin my soos ‘n lieflike droom’’ sou die gepaste titel vir
hierdie bloemlesing wees.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]