Monday, February 4, 2013

Rainer Maria Rilke - Duino-Elegieë. (Vertaal deur H.J. Pieterse) (2007)



Rainer Maria Rilke. Duino-Elegieë. (Vertaal deur H.J. Pieterse). Protea Boekehuis, 2007. ISBN   978 1 86919 151 1.

Resensent: Joan Hambidge

Waarom verskyn daar in die jaar 2007 ‘n vertaling van Rilke beroemde Duino-Elegieë in Afrikaans? Om verskeie redes bly Rilke ‘n baken binne die letterkunde en sy invloed op die Afrikaanse digkuns is al deur D.J. Opperman aangestip in Digters van dertig.

Die invloed van Rilke op Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers kan juis nou, na die vertaling van H.J. Pieterse, opnuut beskou word. As voorste Simbolistiese digter word hy steeds as ‘n baken beskou binne die Europese digkuns.

Sowel Henning Pieterse as Protea moet lof toegeswaai word vir die vertaling en publikasie van hierdie moeilike, dog belangwekkende teks. Dit is ‘n belangrike teks vir die navorser wat die invloed van Rilke op die Afrikaanse digkuns wil karteer en wat iets meer van die Simbolisme wil begryp. (Ek het ‘n vroeër weergawe van die teks gesien en ‘n minimale inset gelewer.)

Geen vertaler wat sy sout werd is kan die probleme rondom vertalings ignoreer of pypkan nie. Pieterse verwys hier tereg na die uitsprake van Leon de Kock en Antjie Krog en hy imponeer met sy eie bydrae tot die kwessie.

Pieterse som sy siening van die vertaling soos volg op, naamlik ‘n sentripetale (na die Rilke-teks) en sentrifugale (na die Afrikaanse teks) spel wat dus tussen getrouheid en vryheid beweeg (p. 21).

Tussen 20 en 21 Januarie 1912 toe Rilke die prinses Marie von Thurn und Taxis-Hohenlohe by die Duino-kasteel besoek het, het hierdie gedigte hul beslag gekry. Dit is dan – volgens verskillende kommentare – geskryf tydens ‘n moeilike fase in die digter se lewe. Hy het selfs in hierdie tyd psigoanalitiese behandeling oorweeg en tydens ‘n wandeling langs die see, het die volgende woorde in hom opgekom:

"Wer, wenn ich schriee, hörte mich denn aus der Engel Ordnungen?"

Pieterse wys tereg in sy inleiding hoe Rilke getransformeer het van ‘n middelmatige tot ‘n uitmuntende digter van wêreldstatuur. Die eiesoortige struktuur van hierdie vorm word behandel en vir die speurende leser is daar relevante aantekeninge wat ‘n mens begelei by hierdie uitstekende vertaling.

Rilke se breidwilligheid om moeilike vrae te beantwoord, word vermeld.  Die relasie met Lou Andreas-Salomé,wat hom terloops teen psigoanalise gewaarsku het, word kortliks betrek. Pieterse wys daarop dat hierdie gedigte waarskynlik gelees kan word as selfterapie.
Die derde elegie het bepaalde Freudiaanse momente en een van die belangrikste bydraes van Pieterse se teks is dat hy die tydgenootlike aspek van hierdie teks beklemtoon. Hy situeer die elegieë en verwys na ander tekste waarvan Rilke direk of indirek kennis moes geneem het. En die Freudiaanse diskoers was ‘n uiters belangrike diskoers van die tyd. Dit moes vanselfsprekend die wyse waarop hy simbole geskep het, help bepaal het en ‘n tydsgees is immers, soos die Duitsers beweer, “In der Luft”.

Die kanttekinge getuig van deeglike besinning deur die Afrikaanse digter en navorser. Hy maak ons opnuut attent op die invloed van Rilke op Wilma Stockenström en ja, selfs op Breytenbach. (Natuurlik kan die effek van Rilke se poësie ondersoek word op Pieterse oeuvre.)

Die strukture van die elegieë word bespreek en verskillende tydvakke waarin die gedigte hul beslag gekry het, word eweneens behandel.

En die vertalings self?

Pieterse vang die verinnerliking van die gedigte ten beste op:

Nêrens, geliefde, sal daar wêreld wees, as binne nie (p. 69).

En dan:

Die tydsgees verskaf vir homself ruim voorraadskure vol krag, vormloos (p. 69).

Of ook:

Oorvloedige bestaan ontspring in my hart (p. 83).

Die negende elegie het besonder met my gepraat.

‘n Mens kan die oorspronklike teks deurgaans vergelyk met die vertaling waarin die vertaler iets behou het – tereg – van die verhewe Rilke-aanslag.

Daar word insigryke kommentaar gelewer oor hierdie teks van transformasie. Vir die jong digter is daar belangrike leersame inligting oor die metriese patroon, wat bykans deurgaans in vyfvoetige jambes geskryf is. Die afwykings van die skema is egter nie genoegsaam nie en Pieterse verskaf die volende redes oor waarom ‘n mens dit as klassiek kan tipeer:

“Alhoewel daar dan nie sprake is van ‘n noukeurige navolging van die klassieke metrum nie, verskaf die dikwels voorkomende daktiliese metrum (as een van die vormgewende beginsels) tog die ‘gevoel’ dat mens hier met ‘n klassieke elegie te make het. Die metriese opbou van elke afsonderlike reël word ten slotte irrelevant, aangesien die struktuur van elke reël ook deur sy sintaktiese verbande met voorafgaande en daaropvolgende reëls bepaal word” (p. 15).

Uit so ‘n opmerking is dit duidelik dat die vertaler lank nagedink en geslyp het aan sy vertaling.

Dit is ‘n uiters belangrike vertaling en vir die ernstige leser van die digkuns ‘n absolute moet.  Wie sou kan sien vir ‘n vertaling van Baudelaire? Ons het immers herdigtings van Rimbaud en Verlaine en toespelings in Breytenbach se poësie. Wat van Stefan George? Of Mallarmé?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]