Saturday, February 2, 2013

Salman Rushdie - Luka and the fire of life (2010)



Salman Rushdie. Luka and the fire of lifeJonathan Cape, 2010. ISBN 978 0 224 09021 6.

Resensent: Joan Hambidge

Salman Rushdie sal waarskynlik altyd onthou word om die fatwa wat sy lewe in ‘n hel verander het en vir sy oneindige ego. By ‘n Booker-prys-toekenningsaand jare gelede was hy op die kortlys. Toe hy nie die prys wen nie, het hy sy stoel agteruit geskop en die saal brommend verlaat.

Maar daar is ‘n verdere komplikasie: ‘n skrywer van sy statuur, wat enorm belangrike werke gelewer het soos Midnight’s children, die omstrede The Satanic verses, en natuurlik The ground beneath her feet, sal altyd gemeet word aan sy beste. Immers het Midnight’s children die Booker of Booker’s verower: die beste roman vir die eerste vyfentwintig jaar. Sy jongste teks Luka and the fire of life word opgehemel deur resensente en die Guardian noem hom sommer “ons” allerbeste romanskrywer. Nie dat hy in Brittanje werklik meeding teen die grotes nie – die groot romanskrywers vertoef in die VSA: Roth, De Lillo, McCormac, Auster, en verder terug, Bellow…

Maar dit ‘n tersyde. Skrywers soos Rushdie bly goed selfs met kleiner tekste soos Luka and the fire of life. Dit is die verhaal van Luka, ‘n linkshandige kind, wat agtien jaar na sy ouer broer, gebore word. Sy vader is ‘n storieverteller en die jonge Luka het ‘n ryke verbeelding waarin hy telkens ander wêrelde voorstel en beleef. Hy het twee diere, ‘n beer wat Dog heet en ‘n hond, ‘n Labrador, met die naam Bear. Die Beer is ‘n wonderlike danser wat kan polka en wals en rhumba en so voort. Op ‘n dag besoek ‘n sirkus die dorp. Hierdie sirkus bekend vir hulle “Famous Incredible Fire Illusion” verniel hulle diere en hiervan hou Luka net mooi niks nie. Hy vervloek die sirkusbaas met die woorde dat hy hoop die diere sal nie langer na hom luister nie en dat die tent sal afbrand. Dit gebeur dan presies net so en die dorpinwoners dink dan dat Luka oor magiese kragte beskik.

Die sirkusbaas neem egter wraak op Luka se vader wat in ‘n diepe slaap verval en dan moet Luka deur middel van ‘n avontuur sy vader red. Op hierdie reis ontdek hy karakters uit sy vader se verhale

Luka se verbeelde bestaan aktiveer op verskillende vlakke die mag van stories en hoe ons deur middel van verhale ontkom van die ellendes van ‘n alledaagse en bedreigende bestaan.
Rushdie kan skryf. Hy is ‘n imposante meester van die vertelling wat in die werklikheid begin en dan in die fantasmagoriese dimensie letterlik begin dans. Sy taalgebruik is soepel en helder.

Die roman is geskryf vir sy tweede seun se twaalfde verjaarsdag, terwyl die voorganger Haroun and the sea of stories ‘n geskenk was vir sy oudste seun. Die roman speel kennelik in op jong kinders se liefdes vir playstation en die skep van verskillende identiteite.
Miskien het Salman Rushdie met hierdie verhaal, op ‘n tweede vlak, finaal ‘n antwoord gegee op die persoonlike ellende wat hy moes deurmaak: deur verhale, soos in die Duisend-en-een-Nagte, kan jy die dood afweer en terselfdertyd die vuur van die lewe beheer. Die roman vra eweneens vir ‘n saamlees met Alice in Wonderland.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]