Sebastian Barry. The secret scripture. Faber & Faber, 2008. ISBN 978 0 571
239610.
Resensent: Joan
Hambidge
Die roman
behandel die tema van verlies en dit is geskryf in die toonaard van die caion (cian), die Ierse lamentasie.
Sebastian Barry is gebore in Dublin en hierdie roman vertel die verhaal van
Roseanne McNulty, ‘n pasiënt van die Roscommon Regional Mental Hospital wat
gesluit gaan word. Niemand is presies seker hoe oud sy is en war sy vandaan kom
nie. Haar verhouding met die psigiater, dr Grene, is die tema van hierdie roman.
Die leser word bekendgestel aan hul onderskeie joernale en ons ervaar dus
eerstehands hul persoonlike ervarings. Ons lees van haar verhouding met haar
vader,’n eenvoudige grafgrawer en ons beleef sy verwerking van die dood van sy
vrou, Bet.
Die outeur presteer
dit om die verskillende persoonlikhede oor te dra en die tekstuur van die
vertellings verskil.
Die roman werk
met ‘n buite-spanning, naamlik die sluiting van die gestig teenoor die
binnespanninge van die twee karakters: die ou vrou wat haar jeug herroep die
dood van haar vader en die psigiater wat terugkyk op die verbintenis met sy
vrou. Die subtiele interaksie tussen psigiater en pasiënt word in die
verskillende joernale gejukstaponeer met mekaar. Die intense Ierse geskiedenis
en die verhouding tussen die Katolieke en Protestante kom aan bod. Sligo in die
dertigerjare word met presisie beskryf en die eenvoudige vader en die
verhouding met sy dogter word met subteks gelaai.
Sy noem haarself
die vroedvrou van haar lewensverhaal en die leser is toeskouer van hierdie
ingewikkelde en dwingende proses. Sy beskryf haar psigiater se baard en hoe dit
iets wegsteek. Amper nes ‘n voël wat in ‘n toegemaakte kou skuil. “Or a hedge
around a secret garden”(97). Hierdie is dan ‘n metafoor vir a die geheime en
onthullings wat ons beleef. Die psigoanalitiese leser sal by uitstek hierdie
roman opwindend vind in die voortdurende spel tussen analis en analysand
(Lacan) of selfs ‘n Jungiaanse lesing hiervan kan maak. Vir die buiteleser is
die beskrywings van die Ierse gewoontes en geskiedenis eweneens ‘n belangrike
reistog.
Die romanskrywer
se digterlike beelde is opvallend: ons verneem van ‘n cornucopia van verdriet,
‘n beeld wat die leser duidelik neem na die mitologie, maar ook na die
oordadigheid en bykans skoonheid van hierdie proses.
En die slot wat
deur sekere wysneuse as té melodramatise afgemaak word?
Ek vind dit een
van die ongelooflikste beskrywings, want in hierdie hellevaart van die vrou
besef ‘n mens watter rol ‘n gemeenskap speel met hul etikettering van mense
sodat ekstreme dade uiteindelik die enigste wyse is waarop so ‘n mens tot
stilstand kan kom.
“Morality has
its own civil wars…”(278) besef die psigiater wanneer hy verwonderd staan voor
haar ontboeseminge wat hy voel vir hóm geskryf is.
Dit is ‘n
aangrypende roman. Die toespelings op die politieke ongeregtighede in Ierland
wat soos trauma werk, naamlik leuens wat waarheid word, is ‘n ander leestog.
Reading in the
dark van Seamus Deane en Frank McCourt se Angela’s ashes het my laas so
aangegryp. The secret scripture is ‘n ryk geskakeerde roman wat reeds ‘n
gesogte prys ingepalm het.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]