Rosa Smit. Die begeleiding van duiwe. Protea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 869 19 199 3.
Resensent: Joan Hambidge
Rosa Smit se
debuut Krone van die narsing het in 1986 verskyn. Dit is indertyd bekroon met
die Ingrid Jonker-prys en nou, na ’n lang stilte, verskyn haar tweede: Die
begeleiding van duiwe, uitgegee deur Protea.
Dis ’n lywige
bundel, soos Marlise Joubert se passasies en passasies en in toonaard herinner
dit sterk aan die tradisie deur Joubert gevestig.
Opvallend
hier is die praataanslag wat die leser reeds aantref in die openingsgedig, “Dis
nie ’n gedig nie”, waarin die skryfproses voortdurend ondermyn word deur die
spreker se beklemtoning van die lewe wat sterker as die digkuns is. Maar dit is
uiteraard net ’n truuk, want daar voortdurend na die lewe gekyk om gedigte te
maak. In die aangrypend-pynlike “Tuinstoel” word die man “katatonies versonke”
in sy wegkyk, wegbeur van die vrou.
Daar is sterk
beelde (“o my lief, die maan kurk / in die bottel van die nag”, 32) en soos wat
kritici dikwels verwyt, word hierdie soort gedig oorwoeker deur die
sentimentele of die fraaie. By Marlise Joubert word daar intertekste, soos die
Peruviaanse of Mexikaanse lied aangewend om die sentimenteel of soete weg te
weer. By Antjie Krog is daar woede en by Elisabeth Eybers is daar die krag van
ironie.
Rosa Smit se
gedigte oor Israel aktiveer die verse van Olga Kirsch en die Joodse
verwysingsveld, soos onder andere in “Uitlewering” , 38) en die gebruik ook van
oorlogbeelde in die knap “Teëspraak” (40) om die liefde te beskryf. Kirsch se verse is
meer ingehoue, teruggesnoei; Smit se verse bely sonder skroom liefde en passie.
Ons vind ook
hier religieuse of spirituele verse soos in die debuut.
“Dearg-Dues” (43) in sy beskrywing van ’n
vampier – wie is wie hier? – word daar ’n treffende gedig gelewer, nes die knap
reeks oor Sylvia Plath. Veral wanneer sy met min woorde die waansin van Plath
vasvang, werk die gedig.
Die verse oor
skilders en skilderye (Monet, Jan van Eyck, o.a.) lewer interessante
vergelykingsmoontlikhede met Johan van Wyk se uitstaande beoefenings in hierdie
genre (veral in Heldedade kom nie dikwels voor nie).
Trouens, die
vers na aanleiding van skilderye of oor musiek of herdigtings (soos die
lieflike “Van drie of vier in ’n kamer”
wat op ’n Amichai-teks gebaseer word), is werklik sterk.
Maar dan is
daar weer dadelik die te uitgesponne “Papirus” wat te geselserig is en die
sterk, samesnoerende krag van die korter verse mis.
Die digteres
verken temas van die Midde-Ooste en sy dig oor figure soos Eli Cohen,
sinagoges, die vlaktes van Hebron, Jesus wat bid in Getsemane en ander aspekte
van hierdie leefwêreld.
Moeder Teresa
in Kolkatta teenoor Andrew Murray.
Laasgenoemde
vers steek sterk af by wat Robert Pinsky onder andere al vermag het met hierdie
tematiek oor Jesus.
Dieselfde
geld die gedig oor Savonarola wat ook al deur ander digters skerper beskou
is.
Dit is
uiteindelik ’n bundel met ’n handvol sterk verse, dáár waar vorm
en inhoud één word. ’n Sterker en strenger keurdershand kon van die verse
meer geslyp het. Maar aan die anderkant is dit dalk juis die ongebreidelde
emosie wat sekere lesers sal onthou en aanspreek.
Met ’n tweede
lees, benader ek ’n bundel van agter na voor om ander leesknope te vind. Juis
so word die meeste verse te lank, te woordryk vir my smaak. Die gedig oor
Petrus, Eli Cohen, Ariel Sharon, Die noenmaal op die gras”, verdien vermelding,
maar die leser voel, oppas, wat van Mendelssohn kan soms hier van toepassing
gemaak word, naamlik te veel sentimentaliteit.
Die voorblad
na ’n skildery van Marcella de Boon getiteld Lemontree is besonder oogvangend.
En word ’n
ikoniese voorstelling van die bundel: wanneer in fokus, is daar aangrypende,
selfs goeie gedigte. Soos die skildery in die agtergrond, is te veel verse net
dáár.
’n Streng
snoeisker sou waarskynlik gedeug het.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]