Jane Bennett. Porcupine. Kwela, 2008. ISBN 978 0
7957 02655.
Resensent:
Joan Hambidge
Porcupine is
‘n versameling kortverhale van Jane Bennett, medeprofessor en hoof van die
Afrika Gender Instituut aan die Universiteit van Kaapstad. Bennett is veral
bekend as gender-teoretikus en met hierdie versameling verhale lewer sy ‘n teks
wat jou aan die keel gryp.
Die verhale
gee ‘n blik op ‘n wêreld wat ten beste beskryf kan word wat buite die normale,
die gewone of die alledaagse val. Die “out-of-the-ordinary”, die buitengewone
is die uitgangspunt van hierdie tekste. Op die buiteblad is daar ‘n swart hand
wat rus op ‘n wit lyf en dikwels word die opposisies tussen wit / swart; manlik
/ vroulik ondersoek. In die skitterende en hartgrypende verhaal “Disarmament”
ervaar ons ‘n verteller se ervaring van ‘n baba-verkragting. Wat Bennett hier
vermag, is ‘n kragtoer want die ervaring word aanvanklik verintellektualiseer
(“After she’d read the paragraphs, deconstructive tools leaped forward to sever
linguistic skeins, expose hierarchies and interests, but it was too late,”63),
maar dan word dit emosioneel vergestalt. Die hele bundel staan in die teken van
die ellendes waarmee ons daagliks in hierdie land gekonfronteer en die teks
word bevolk met die stemloses en haweloses van hierdie land. In die
openingsverhaal, “Domestic skills” (‘n uiters ironiese titel) word ‘n
simbiotiese verhouding tussen ‘n wit en swart vrou binnegedring deur geweld.
Die vreemde
verbintenis word deur ‘n geloof in engele gereël en dan waaier die verhaal na ‘n
volgende dimensie: die bo-sienlike wat gelees kan word as ‘n skisofreniese
dimensie of kontak met die bonatuurlike? Of fantasie? Die slot artikuleer ‘n
komplekse tuiskoms, in sowel liggaam as gees; Suid-Afrika en New York.
In ‘n
ongelooflik-skokkende verkragtingstoneel in “Michael” bewys Bennett haar métier as
skrywer. Hierdie gang-bang word realisties beskryf en die leser ervaar al die
emosies van pyn en vernedering. Dit is iemand anders se storie, vertel uit die
hoek van vertroue wat opgebou is. Daar is min verhale, wat hierdie leser ken, wat
sielkundig so pakkend en oortuigend vertel word as hierdie vertelling.
Ironies
genoeg soek die verkragte na die eksamenskrifte waarin haar studente ‘n vraag
moes beantwoord: “To the
Lighthouse is more about art than life. Discuss.”
En hierdie
verhaal is meer oor die lewe as oor kuns wanneer ons die bewussynstroom van
hierdie verteller meemaak wat op ‘n harde kontinent moet oorleef waar Virginia
Woolf as élitisties ervaar word. Maar Woolf is ‘n belangrike kode vir
die hele bundel as sodanig, omdat dit gender-kompleksiteite aktiveer,
sielkundige probleme en selfmoord. Die eiesinnige vrou op soek na haar “a room
of one’s own”.
In haar
outobiografie skryf sy dat ‘n mens nie enige bystand van manlike skrywers moet
of kán verwag nie.
Hierdie
verhaal moet saam met die multi-vlakkige “Whodunnit” gelees word, die
slotverhaal waarin al die kodes van geweld, gender-identiteit, moord,
haweloosheid, ras-identiteit en die lewe binne ‘n stad voltrek word.
Dit is ‘n
puik bundel. Die verhale is geskryf deur ‘n sekure hand en talle verhale
verraai ‘n digterlike aanslag.
Daar is
soveel pyn wat mense beleef wat buite die orde van die sekure of aanvaarbare
bestaan. En dit is wat Porcupine ráákvat.
Dit is ‘n
verbluffende boek.
Dit is hoe
Virginia Woolf sou geskryf het as sy die ellendes van hierdie land moes verteer
en beskryf het.
Daar is amper
‘n dosyn stories in hierdie Rooikappie se mandjie. En teoreties sou vele van
die verhale baatvind by ‘n Hélène Cixous-interpretasie van die
Rooikappie-vertelling.
En Cixous, die Franse feministiese
teoretikus, se bekende teks : Exits / Uitgange.
Die verhale sou tipeer kon word as
tekste van die liminaliteit. Daar word vele drumpels oorgesteek in hierdie
bundel wat saamgesnoer word deur ‘n vrugbare fantasie wat die leser laat
terugblaai, terugkyk en ander leesroetes laat volg.
Die kodes is dikwels so subtiel
weggesteek dat die leser met ‘n tweede en derde herlees anders daarna kyk. Die
boek karteer die geweld teen vroue in hierdie land en die veelseggende titel
verraai dan iets van die komplekse aard van die tekste.
Daar word stem gegee aan die stemloses,
aan die verwondes en verminktes. Veral in hierdie dae van xenofobia vertel dit
soveel van waar ons staan.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]