Ronelda S. Kamfer. Noudat slapende honde. Kwela Boeke, 2008. ISBN 978 0 7957 0273 0.
Resensent: Joan Hambidge
Toe ek die eerste keer Ronelda S.
Kamfer se gedigte gelees het in Nuwe
stemme 3 het ek geweet: hier is dit!
‘n Nuwe vrouestem.
Haar gedigte breek deur alle
grense. Taal, die kanon, fatsoenlikheid, noem maar op.
Sy spreek alle kwinte en kwale
aan: familieskap, gender, ras, politiek, drugs, bloedskande, armoede,
verwerping, outsiderskap, jeugervarings in Blackheath…
Elke gedig is ‘n kompromislose
segging met hier-is-ek. En ek gee nie ‘n fok om wat jy dink nie. (Ek kan by
voorbaat sien hoe sy my resensie aflag. Wat weet jy, ‘n whitey en intellectual
van my pyn?)
Dit is iemand wat deur baie pyn
beweeg het en alle selfbedrog minag. En paradoksaal is dit juis die
weerloosheid wat agter alles skuilhou, wat my aangespreek het.
Sy is al met ‘n jong Antjie Krog
vergelyk. En dit is so. Dis praatverse, vrye verse, ‘n ampere
traak-my-nie-agtigheid.
Maar om so te kan skryf, moet jy
baie gelees het. En geleef het. (Bukowski en Walcott pryk as motto’s.)
Die bundel sal vele slapende honde
wakker maak. Hier het jy iemand wat “postcards from the edge” skryf. En sy was
amper oor die “edge” weet jy.
Waarvan het ek gehou? Van alles.
Van die voorblad van Michiel Botha tot die ontluisterende verse.
ek braak heeltyd vuil woorde
maar dit maak my nie skoon nie
(“Tweeling”, p. 28)
kan as ‘n soort ars poetika gelees word.
Ontnugtering en weerloosheid loop
soos ‘n swart draad deur hierdie bundel en in die aangrypende “Lolla” (p. 25)
word ‘n heldin se sinnelose en geweldadige dood beskryf. Hier vind die leser
dan, soos dikwels in die gedigte, ‘n identifikasie met outsiders en verskoppelinge.
Maar daar is ook humor en ironie in die verse ingebou sodat die leser die
pynlike gegewe kan hanteer, soos “To all the boys I loved before” (p. 26).
Die vader des huises en
verskillende soorte pa’s word raak beskryf. Die afwesige pa is egter die een
wat die dogter die meeste verwond.
“’n gewone blou Maandagoggend” (p.
15) behandel die skrynende werklikheid van lewe waar selfs geloof nie meer ‘n
uitkoms of troos bied nie. Die knap hantering van die enumerasie van die
beroemde uitskotwoord, loop uit in die besef dat dit alles deel is van die lewe
(“Pasop vir depressie”, p. 44).
‘n Mens vind lewensinsigte wat jou
ontstig (p. 45). Die desperate poging om in die nou te leef, word gekelder deur
die onmmontlike van vergeet. Die nuwe geslag is in elk geval te jonk om te
weet, maar te sinies om te aanvaar dat alles reg is. Oor Afrikaans het sy ‘n
mening. Oor die boereooms ook. “vergewe my maar ek is Afrikaans” (p. 32) speel
klaar met etlike mites oor aan wie Afrikaans nou eintlik behoort:
ek praat julle taal
ek eet julle kos
ek bly in julle vaderland
ek drink julle wyn
ek sing julle musiek
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry
met julle seuns.
Dis ‘n aangrypende debuut.
Praatverse. Vry, loslit, keelgrypend. Ek lees hierdie bundel op GRA-dag, 14
Augustus en dink hoe het Afrikaans nie verander en verruim nie.
Waarvoor moet sy oppas? Dat minder
getalenteerde woordvrate haar tot ikoon verhef en haar stem so mag stilmaak.
Kwela Boeke moet geluk gewens word
met hierdie helder, suiwer debuut. Ek was laas met Jeanne Goosen se Elders aan diens so
opgewonde oor ‘n digbundel.
Lyk my die ongekunstelde, uit die
hart uit-gedig is aan die terugkeer.
Dis ‘n dun bundeltjie. Maar elke
gedig ontplof soos ‘n klapper.
Ja, luister hoe tjank die honde
oor die geraas.
Fokkit.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]