Elna Crouse. Gestaltes van ‘n dogter – in
konfigurasie. Genugtig! Uitgewers, 2007. 9 780980 260632.
Resensent: Joan Hambidge
Gestaltes van ‘n dogter – in
konfigurasie is ‘n bundel van Elna Crouse. Dit het by Genugtig! Uitgewers
verskyn en volgens die agterplat word daar in hierdie bundel ‘n volledige en
tipiese beeld gegee van verkragting. Die klassieke simptome en verwerking
daarvan, glo. Deborah Steinmair loof hierdie bundel as ‘n ongewone en
merkwaardige versameling gedigte wat met verbysterende ambisie die haas
onverwoordbare verwoord.
Verbysterende ambisie is dit nou
helaas nie. ‘n Mens is strykdeur bewus van die persona se Hades en die
worsteling met die ontstellende pyn.
Pyn, verwerping, ellende is egter
geen waarborg vir goeie poësie nie. As dit so was, sou daar meer digters op
aarde gewees het reëndruppels. Trouens, die bundel laat by hierdie leser die
indruk van iemand wat nog met die eerste fase van gedigte werk. Dit is gedigte
op soek na vorm, distillasie, afstand, beheer.
Dit is jammer dat die bundel in so
‘n rouvorm gepubliseer is. Die leser word bewus van ‘n Jungiaanse insig,
naamlik dat daar geen lig sonder skadu kan wees nie, en geen psigiese heelheid
sonder onafheid en pyn nie. ‘n Gedig soos “In die woud” (63) wys dat hier
talent is. Die bundel beoordeel aan die eise van die digkuns faal egter.
Miskien moes dit eerder binne die
private ruimte van ‘n sielkundige spreekkamer gebly het of as ‘n skryfstuk aan
vriende en geliefdes.
Die mitologiese verwysings
(Demeter, Hades, Persephone, ensomeer) kon met groter afstand die gedigte gered
het.
Die verwysings na Nietzsche en
Jung onder andere wil die gedigte anker in ‘n groter verwysingsveld, maar dit
word niks meer as los motto’s rondom die gedigte nie.
Met die pyn en verwerking daarvan
het hierdie leser wel eindelose erbarming.
Steinmair skryf verder: “Die
gedigte is outentiek, eg en reverbereer tot in die rugmurg om dae lank by die
leser te spook.”
Miskien het sy ‘n ander bundel
gelees as hierdie leser. Nee wat. As ‘n mens psigiese geskondenheid en die
verwerking daarvan in gedigte wil lees, tel liefs ‘n Sylvia Plath of Anne
Sexton op.
Ongewoon, merkwaardig,
verbysterend ensoaan is woorde wat vir werklike digters van formaat gebruik
word. Anders word dit leë, niksseggende woorde wat later soos ‘n tafel se poot
‘n dooie metafoor is.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]