Johan Myburg. Kamermusiek. Lapa Uitgewers, 2008. ISBN 978 0 7993 4259 8.
Resensent: Joan Hambidge
Wat ‘n heerlike verrassing is dit
nie om weer van Johan Myburg te hoor nie. In 1984 debuteer hy met Vlugskrif en
tien jaar is Kontrafak daar. Vir hierdie bundel is hy bekroon met die Eugène
Marais-prys.
Myburg se verse het nog altyd ‘n
fyn balans gehandhaaf tussen intellek en emosie, vorm en musikaliteit en die
enigste gevaar van sy soort gedig was in die verlede dat die gedigte té sterk
onder die invloed van T.T. Cloete gestaan het. Dit is egter in hierdie jongste
bundel afgeskud en ons vind in hierdie bundel ‘n trefsekere, helder stem. Die
bundel terloops is deur Lapa gepubliseer en met hierdie bundel bewys hierdie
uitgewershuis dat kleiner of randuitgewers ‘n belangrike rol kan vervul vir die
digkuns.
Behalwe vir aksenttekens wat op
Franse titels afgeval het, is die bundel andersins netjies uitgegee. Op die buiteblad
word die gedigte van Myburg geloof deur Daniel Hugo, eweneens ‘n digter van die
kamermusiek. Nie minder as die groot simfoniese konstruksies nie, want vele
gedigte tref eintlik júis om die dwarssegging of mineurtoon.
In hierdie bundel word daar in gesprek
getree met Virgina Woolf en Roland Barthes. Daar is ‘n aangrypende gedig oor
Biko. Daar is gesprekke met Neruda, Lorca, Ted Hughes, Totius, Ina Rousseau en
vele ander slim toespelings wat van die bundel ‘n opwindende leeservaring maak.
Daar is egter ‘n balans tussen interteks en eie teks. Die geleerde verwysings
oorwoeker nie die verse en dikwels word die leser gekonfronteer met die
onthutsende ontbloting van die self soos “Laager”(p. 45). Hier word die ‘ek’
gekonfronteer met die vryhede van die stad, uitnodigings, maar voel die deur
agter hom sluit:
….Lyfwarm sleutel in die hand.
Immer sleutel in die hand. Ek is
so gewis buite.
Ek bly onuitgaanbaar binne.
Op talle maniere word hierdie
“onuitgaanbaar”-heid ‘n refrein in die bundel waar die spreker / persona
uitreik na ander. Daar is ‘n genadelose blik op die self en hoe die geskiedenis
– en veral ons brutale jare – ons gevorm en ónt-vorm het.
In die hoogs ironiese “Erfgoed”
(p. 11) herhaal die geskiedenis van die oujongkêrelooms sig. Die spreker sit
met presies dieselfde ellendes…
Aangrypend is die gedig
“Ontknoping” (p. 19) oor die moeder met ‘n knap toespeling op al die
betekenisse wat die woord knoop in sig dra. En dis waarskynlik wat hierdie
digter dikwels regkry: om die ‘n vae assosiasie werklikheid te maak en vir die
leser van Lacan verwys dit ook na ander knope in die psige.
“Om weemoed te beskryf” (p. 21)
speel met Derrida se “sous rature”-gedagte. Jy skrap iets, maar behou dit
terselfdertyd. In hierdie opsig is dit ‘n belangrike gedig om die nostalgiese
en pynlike idees te begryp wat agter gedigte skuilhou. Hoe flenters ervarings
en indrukke uiteindelik tot gedig omvorm word.
Die digter spreek die ewige
strydpunt van die skryfkuns aan: wat is privaat, wat is openbaar? Hy gebruik James Joyce as voorbeeld wie se
allerintiemste notas na vyftig jaar oopgemaak is. En hoe word alles nie
uiteindelik gelees en dalk deur ‘n leser anders geïnterpreteer nie.
“Aangepaste argitektuur” (p. 48)
speel weer slim in op die geskiedenis en die keiharde realiteite van die nuwe
Suid-Afrika. En “Bestek” (p. 54) is eweneens ‘n soort selfgesprek, selfportret
wat konkludeer dat die spreker lig reis, sonder kind of kraai.
Die self, die lyf is net die gedig
‘n kriptogram. Die leser moet dikwels raaisels oplos, intertekste naspeur in ‘n
bundel wat soveel leesplesier verskaf. Dit is ‘n melancholiese bundel en die
titelgedig vra die spreker dan ook is daar ‘n ander lewe wat hy elders leef? Ja
daar is. Die digter het dit vir ons in hierdie mooi bundel gegee.
“Boeke word series vrae rondom
Afwesigheid”, soos die digter opmerk.
Kriptogram
Hy loer deur ‘n vergrootglas na my
vel,
dieper as ‘n oog kan sien, op soek
na verdonkerings, klein
pigmentasies
op perkament. Hy ontsyfer ‘n teks
wat ek self nie kan verstaan nie.
Ek lees sy mond, die tevrede lip
wat lig
as sy voorvinger spoor vat op ‘n
vorige sny,
egalig streel oor die bekrabbelde
lei.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]