Monday, February 4, 2013

Mariël le Roux - Wilhelmina: Kampkind op Java (2007)



Mariël le Roux. Wilhelmina: Kampkind op JavaProtea Boekehuis, 2007. ISBN 978 1 86919 162 7.

Resensent: Joan Hambidge

Wilhelmina: Kampkind op Java vertel die verhaal van Will van Halewijn se belewenis van ‘n konsentrasiekamp saam met haar moeder en sussies. Dit speel op Java af. Die vader is ‘n skeepsbouer in Roemenië en die gesin vlug na Indonesië met die uitbreek van WOII. Die besetting van die eiland deur die Japannese bring ‘n wending in hul lewens met die gepaardgaande ellende wat so ‘n situasie inhou. Die uiteindelike emigrasie is na Suid-Afrika en die leser beleef die oorvertelling van die verhaal aan Mariël le Roux.

Die boek is besonder mooi uitgegee met ‘n foto op die omslag van die kampkind. Hirosjima en Nagasaki en die atoombomme is die een oorlog; daar is egter ook die Javaanse opstand teen die Hollandse oorheersing. En Wilhelmina is Nederlands. Die dubbele oorlog word verder bemoeilik wanneer die vader terugkeer, onwetend van die werklike ellende wat beleef is, omdat hy in Simonstad was tydens die oorlog. Die groter oorlog word gesinkopeer met ‘n binne-oorlog van verdere onsekerhede.

Hierdie roman aktiveer vir hierdie leser Alice Miller se The Drama of Being a Child – The Search for the True Self (Virago, 1987) en in welke mate die geskonde kind deur stem te gee aan verdrukking tot genesing kom. Deur die verhaal aan ons te bied, word daar nie alleen ‘n belangrike en relevante letterkundige teks gelewer nie, maar word ’n dokument van oorwinning en vryheid vir Wilhelmina.

Hierom die begin van die teks waarin sy bely dat sy moes vrede maak met die oorlog wat haar geknyptang het (p. 7).

Dit is bekende kode van die belydenisroman om ‘n verhaal aan ‘n ander te vertel wat dit dan in soort dokument vir die leser aanbied.

Daar is sewe kussingslopies volgestop met klere en linne, die werklikheid van die Rooikruis en die onrustighede wat só ’n bestaan inhou.

Daar is ‘n Japannese soldaat wat Nederlands kan praat en hulle word teruggeneem om bestittings te gaan haal. Dit blyk egter dat hul huise in Perak beset is en dat hulle niks mag wegneem nie.

Hulle is die flapkeppe met lemgewere (p. 81). Gestereotipeer, ontmenslik. Waargeneem deur die oë van ‘n kind.

Horlosies moet volgens Tokiotyd gestel word en daagliks is daar nuwe reëls en regulasies.
Verbod op BBC en Radio Nederland. ‘n Afsluiting van die buitewêreld.

Japannese geld word toiletgeld genoem; dis waardeloos.

Die prosa in hierdie gedeeltes is dringend en dit verraai iets van die ontsteltenis van die waarnemer. Dit is duidelik ‘n knoop in die psige soos Lacan hierdie soort trauma beskryf.
Soerabaja is die kamp vir die vroue en kinders met hoë heinings van hakiesdraad. Ons sién die hakiesdraad en heinings.

Met subtiele implikasies oor wat mans kan doen aan vroue. Die ma waarsku immers dat mans se onheil broei in die nag…

Daar is vele anekdotes oor hoe die vyand uitoorlê word en die oorlewingstaktieke is geloofwaardig.

Die verveling van oorlog en die uitdaging van die vyand (deur hulle in die oog te kyk), kom eweneens aan bod. Moenie ‘n soldaat in die oog kyk nie. Oppas vir verkragting.

Daar word skoolgehou, in klein groepe, om die kinders besig te hou, en met Juffrou Bot wat vir hulle vertel wat aangaan. Interneringskampe bestaan en die smokkel van kos en klere na die gevangenes.

Die verraaiers neem deel om besig te bly en ter wille van vergoeding.

Rooirissies, grondbone, eendeiers en ander kossoorte word beskryf en hoe die kos gemaak word sodat die leser amper ‘n filmiese wêreld beleef. Bikkieskos en lewertraan.

Die gevaar van tifus bestaan soos die verdwyning van jong seuns…

Die mure is dun, die humeure word kort.

Nagte word in onsekerheid ómgesweet.

In die kursiefgedeeltes, met sy erge emosionele pyn, beleef ons die hede. Het vriende die oorlog oorleef? Hier word beskryf hoe gesinne van mekaar geskei word en hoe haar moeder hul altyd bymekaar gehou het. Twee vragmotors kon verskillende bestemmings bereik.

Die verhaal word in ‘n sober prosa aangebied sodat die emosionele impak des te groter word vir die leser. (Daar is ook humor, soos die omkeer van ‘n pot op ‘n Japannees wat probeer inkom.)

Hierdie stuk geskiedenis het my nog altyd gefassineer. Besoeke aan die museums in Hirosjima en Nagasaki gee uiteraard ‘n ander kant van die munt, nes Pearl Harbour.
Maar die mens, die klein onskuldige kind veral, wie se lewe oorweldig en verander word deur ‘n oorlog, dis waaroor hierdie verhaal handel teen die ‘backdrop’ van ‘n groot omwenteling in die geskiedenis en sy skending van menseregte. 

Op die agterplat word vertel dat ‘n mens nie maklik hierdie boek kan neersit nie. Dit was hierdie leser se ervaring van hierdie dokumentêre fiksie. Alles gebeur op twee vlakke: ’n verhaal vertel aan ‘n ander; twee oorlog-situasies en ‘n voortdurende beweeg tussen die hede en die verlede.
                                                     
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]