Sunday, February 3, 2013

P.J. Haasbroek - Die ander vennoot (2009)



P.J. Haasbroek. Die ander vennootHuman & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5041 5.

Resensent: Joan Hambidge


Op pad terug van Johannesburg sit ek langs Germiena Groenblaar, die bekende feminis. Sy lees P.J. Haasbroek se Die ander vennoot.

Ek is sopas klaar daarmee.

“Wat dink jy hiervan?”, vra sy.
“Haasbroek se boek val in  drie dele uiteen. Anders as Patrick White se The solid mandala. Die storie van Herklaas Pretorius en John Heckrodt, in die ou Suidwes. Stories oor ‘n beesplaas, mooi beskrywings van die natuur, ‘n ametismyn en safaris. Dan ‘n beskrywing van die ”struggle”-jare en hulle entrepreneurskap. En ‘n blik op geweld en swart ekonomiese bemagtiging.”

“Ja,” sê Germiena,” die man kan die natuur raak beskryf. Hy weet kennelik baie van die veld. Maar vaderland, moet ons lees van presies hoe hy sy karakter van ‘n sweetpak laat ontslae raak en ‘n vrou bydam? Of  hoe ‘n hings ‘n merrie bestyg?”

“Kyk, Germiena. As ons Antjie Krog en ander vroue se lyflike details mag beleef, kan ons sekerlik ook die macho-blik verduur, nie waar nie?”

“Ja, die maskuliene-aanslag het waarskynlik sy plek in die letterkunde, maar wil ek lees van ‘die verpleegster met die tollende tiete’, soos John ‘n vrou noem op bladsy 222? Of die manlike geslagsorgaan as ‘n soldaat ervaar?”

Ons sitplekgordels is nou al vas.

“Germiena, ek hoor jou. Maar dis hoe sulke karakters dink en praat. Kyk byvoorbeeld na die feit dat die karakter as Pretorius droom van Martia en nie as Herklaas nie. Dis ‘n boek vir die manne dié. Jy sien dit in vele vinjette: die braai van ‘n koedoefillet op gloeiende kole. Met ‘n dik sny bruinbrood en botter smaak dit vir hom lekkerder as enige biefstuk in ‘n snobrestaurant in Pretoria. Daar word baie gesmul en brandewyn gedrink in hierdie boek.”

“Ja. En die manlike blik op die vrou in die gimnasium. Ons het beslis ‘n ‘male gaze’ hier.”

“Dis ‘n boek wat kommentaar lewer op geldmaak: ek dink jy moet dit lees saam met
Carel van der Merwe se Geldwolf / Shark en Jaco Kirsten se Om na ‘n wit plafon te staar. Dan kry ‘n beter prentjie op ekonomie en die kommentaar op swart bemagtiging wat die roman wil maak, Germiena.”

“Ja, die negatiewe kommentaar op Tswane in die derde afdeling bevestig dit. Plaasmoorde. Geweld. Gierigheid. Diefstalle.”

“Haasbroek was op sy dag ekonoom, jy sien. Maar hy is ook ‘n closet digter. Sy Heupvuur, ‘n kortverhaalbundel, werk met kragtige metafore.”

“Wat probeer jy sê, dat hy eerder kortverhale moet skryf?”

“Daar was al drie romans vantevore. Hy het ‘n langasem. Dit gaan eerder of die tema van die politiek en ekonomie vir die leser boeiend is. Soos verkies jy Moby Dick bo Fear of flying.” Die lugwaardin bedien koffie. Dis nog te vroeg vir polisiekoffie.

“En is daar intertekste?”

“O ja vele. Herakles, die seun van Zeus, wat deur koning Euristheus twaalf onmoontlike take opgelê is. En jy as leser moet dan hierdie verwysingsknoop maak en besef Herakles speel in op Herklaas. En daar is toespelings op James Bond, jy weet. Diamante wat gesteel word deur ‘n boef. Martia verwys na “Oktobermaand, die mooiste aand”’. Gaan kyk net wat alles gebeur op bladsy 304. Dorslandtrekkers. My boek sit vol donkie-ore.”

“En die Moldau wat soos ‘n rivier vloei – wat weer inspeel op die Kunene en die Gariep.”

“Germiena, wat maak jy van die slot? Dit is oop, verskillende interpretasies is hier moontlik.”

“Ek het iewers gelees dit het die AfrikanerBond-prys gewen.”

“Dit is die 300 jaar Africander-prys. Die skrywer het glo verkies om dit nie op die agterblad te vermeld nie.”

“Hoekom nie?”

“Glo om polities gevoelige lesers nie af te skrik nie, Germiena.”

“Ja, wat ‘n karakter sê – ek dink aan die raspejoratief van ‘n karakter in ‘n toilet – kan seker nie op ‘n outeur se rekening gesit word nie. Of kan dit?”

“Germiena, gun elke diertjie syn ou plesiertjie. Die werklike skrywer skep karakters hier wat hul blik gee op die oorgang van die ou Suid-Afrika na die nuwe Suid-Afrika.

Van Suidwes na Namibië.”

“Ken jy die woorde van die Suidwes-lied?”

“Germiena, ons gaan binnekort land.”

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]