Carel van der Merwe. Geldwolf. Umuzi, RandomHouse, 2009. ISBN 9781415200773.
Resensent: Joan Hambidge
Carel van der Merwe het
gedebuteer met die roman Nasleep in 2007, ‘n besondere debuut. Trouens, dit is
vreemd dat hierdie boek net kortlyste vir verskeie pryse gehaal het – soos die
UJ-prys (vir die Afrikaanse weergawe), terwyl die Engelse weergawe No man’s
land op die kortlys was vir die M-Net-literêre Toekenning en die Commonwealth
Writer’s Prize. Miskien het dit te make met die feit dat hy sowel in Afrikaans
as Engels skryf en dat die kritiek nie mooi weet hoe om hom te hanteer nie. Die
Afrikaanse letterkunde kan dikwels nie skrywers wat buite die klein vakkies
waarin skrywers geplaas word, reg inskat nie. Die jongste roman heet Geldwolf
en dit verskyn terselfdertyd met ‘n Engelse weergawe: Shark.
Die skrywer het in 2005 ‘n
MA in Skryfkuns aan die Universiteit van Middlesex behaal en dit is duidelik
dat hy weet hoé om ‘n storie te vertel.
Stephen Winter is ‘n
sakeman, meer spesifiek ‘n ryk sakeman. Sy herehuis is R50 miljoen werd. Hier
woon hy saam met sy beeldskone (trofee)vrou en hy onderhandel met die regering
vir ‘n transaksie van R50 miljoen.
Geld en gierigheid is een
van die doodsondes, weet ons en die roman aktiveer dan ‘n spanning tussen dit
wat die hoofkarakter begeer en ‘n onderwêreld waar mense korrupsie pleeg.
Trouens, enige leser weet vandag in welke mate politieke figure nie skroom om
hul mag te misbruik vir eie gewin nie en nou onlangs beleef ons selfs ‘n
interdik teen ‘n biografie wat sinspeel op politieke vuilwassery.
Geld wat stom is, maak alles
reg wat krom is.
En Stephen Winter word in
hierdie proses gekonfronteer met homself en sy eie verlede. Hy was eers ene
Winterbach en wanneer ‘n skoolvriend hom herken, is hy ontstig.
Die roman begin met ‘n motto
van Balzac (“Behind every great fortune there is a crime”) en die vraag is:
waarom is dit nie in Frans en dan in Afrikaans weergegee nie?
Die skrywer vertel helder en
pakkend. ‘n Besoek aan ‘n clairvoyante word in besonderheid vertel. Ons kan die
muwwe omgewing sien en ruik. Ons weet presies hoe die hoofkarakter motor
bestuur. Ons beleef alles dus van binne af.
Dit is ‘n tipiese ‘rags to
riches’-verhaal met ‘n spanningslyn wat jou laat duisel. Die outeur weet
kennelik baie van die sakewêreld en ons sien as’t ware die kaartehuis van
hierdie geldmagnaat wat in duie stort. Die redes vir sy dryfkrag word algaande
vir die leser duidelik: ‘n ongelukkige jeug wat diep wonde laat. In sy
verhoudings – met sy kinders, sy eksvrou en lewensmaat – bly hy in beheer. Hy
skep die reëls waarvolgens alles gespeel kan word.
En dan ‘n transaksie waarin
hy nie die implikasies kon voorsien nie, laat sy lewe skielik uit die veilige,
suksesvolle baan swaai.
Die roman is vlot geskryf en
dit is nou maar eenmaal so: Carel van der Merwe kan ‘n storie vertel. Hy werk
dikwels met implikasie. Die vader se ontmoeting met sy seun, ‘n begrafnis van
sy dogter, ‘n telefoongesprek met sy eksvrou, die vrees wat van hom besit neem
wanneer hy besef dat hy verraai is, maak van die boek ‘n kragtige vertelling.
Ons deurgaans bewus van ‘n mens met innerlike konflik en woede. Sy waarneming
van ander karakters is dikwels onsimaptiek en kil.
Op twee plekke het die
komputer woorde verkeerd afgebreek en Tolstoy word eers op syn Engels dan op
syn Afrikaans gespel (234).
Hy is ‘n karakter wat feite
bo fiksie verkies, weet ons uit sy eie onderhandelinge met ander mense. Vir hom
gaan dit alles om onderhandelinge en uiteindelik: oorwinning.
Die slot is waarskynlik vir
die leser van spanningsverhale ‘n verrassing, veral met die Bybel as interteks
hier.
Dit is ‘n vlot geskrewe
roman wat my enduit geboei het. Ek het dit letterlik in een aand deurgelees en
geniet.
Slim spanningsverhale het
hul plek op my boekrak. Carel van der Merwe staan langs
Raymond Chandler, Ian
Fleming en John le Carré.
Die roman is uitgegee deur
Umuzi en beslaan 254 bladsye.
‘n Onneersitbare roman.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]