Karina Magdalena Szczurek (Red.). Touch. Stories of Contact by South African
Writers. Zebra
press, 2009. ISBN 978 1 77022
0461.
Resensent: Joan
Hambidge
Waarom moet ‘n
mens die versameling kortverhale Touch van Karina
Magdalena Szczurek aanskaf? Aanraking, en die afwesigheid daarvan, bepaal ons
lot. Vir my was dit ‘n besondere leeservaring, omdat dit die belangrikste
aspekte van die kortverhaal bevestig. Daar is onder andere verhale met ‘n verrassende slot of wending:
André Brink se
“Surprise visit” is ‘n gedronge verhaal waarin die konfrontasie met die moeder
in ‘n siekeboeg komplekse herinneringe aktiveer. Die misverstand rondom die
herkenning van die moeder, ‘n verhaal gelade met oedipale spanninge, bring
interessante perspektiewe na vore. Dit is vintage-Brink
met fyn toespelings vir verdere naspeur en herlees. Met die wete van die slot
lees jy ook Emma van der Vliet se “Threesome” anders, omdat sy jou verwagting
ten slotte ondermyn. Die driemanskap is nie die seksuele een nie, maar die vrou
se ervaring van die durende aanraking, naamlik die ervaring van moederskap.
Damon Galgut se
“The Crossing” ondersoek die impak van die toevallige ontmoeting of aanraking.
‘n Vrou op haar wittebrood het ‘n gesprek met ‘n vreemdeling. In die terloopsheid
van hierdie aanraking word die spanninge in haar huwelik uitgespeel: wou die
man haar dalk besteel? En wat sou gebeur het as sy wél die oorvaart meegemaak
het? Tentatiewe ontmoetings, huidige en afgelope verhoudings word saamgebring
in haar gemoed. Die aksie, of die
afwesigheid daarvan, verander haar lewe. Die vreemdeling het verdrink. Sy gaan
hom nooit weer sien nie en in hierdie Katherine Mansfield-verhaal word die
leser voorgestel aan die binnespraak van ‘n karakter. (Dit is ook belangrik dat
mans met groot gevoeligheid in hierdie versameling skryf oor intiem-vroulike
emosies.) Imraan Coovadia se “File
under: Touch (Avoidance of, Writers); Love (Avoidance of, Writers). (1000
Words)” is ‘n metarefleksiewe verhaal waarin die struktuur van die opdragverhaal
onder die loep geneem word met die Duisend-en-Een-Nagte as ‘n sub-teks. Die
verwisselbaarheid van karakters en hul
universaliteit is hier ter sprake, soos in Maureen Isaacson se verhaal waarin
Tolstoi se Anna Karenina ‘n
interteks en romantiese toespeling is.
Nooit sal reis
weer meegemaak word sonder die herinnering aan Ivan Vladislavic se “Lullaby”
nie! Wat ‘n verhaal! Die atmosfeer wat in hierdie verhaal opgeroep word, en die
uitbeelding van ruimte is so pakkend,
dat die verhaal met sy onafwendbare slot, ‘n mens se kop laat draai. Die dood
van ‘n toeris tydens ‘n reisbesoek en die impak hiervan op sy ervaring van ‘n
vakansie en die terugreis, aktiveer die boodskap van weerloosheid. ‘n Moeder se
wiegelied vir haar baba, kry ‘n groter, dwingende impak vir al die reisigers op
die vlug wat slaap onder hul babakombersies. Willemien Brümmer se verhaal, “A
cat of many tales”, skep besondere atmosfeer; ‘n inbeweeg in die “unheimliche”,
nes die verhaal van Alistair Morgan:”Living Arrangements”. Hierdie verhaal
lewer fel politieke kommentaar op ons huidige situasie en die kwessie van
haweloosheid.
Fokalisasie en
perspektief kom knap aan bod in Michiel Heyns se “Long perspectives” waarin die
hede en verlede gesinkopeer word. Die verhaal speel af in ‘n skoolbadkamer en
rondom ‘n seksuele aanraking met ‘n skolier kry die
hoofkarakter perspektief op homself en ‘n jeug-maat, nou die onderwyser in
die skool. Twee wêrelde, twee perspektiewe wat beklemtoon word deur die
hoofkarakter se bril vol vingerafdrukke. (Waarom die voetnoot dat die omstrede
gegewe fiktief is? Dis tog onnodig!)
Vanselfsprekend
het elke kortverhaalskrywer sy / haar eie styl, maar in die algemeen is die
kort en kragtige segging, amper poëtiese aanslag, van hierdie sub-genre
algemeen bekend.
Die tema in hierdie versameling handel oor
aanraking in al sy vorme. Die kort, kragtige impak van die kortverhaal
waarin ‘n situasie of ‘n konflik uitgebeeld word, is algemeen bekend. Dit is ‘n
sterk versameling en die meeste verhale tref jou so sekuur dat jy ‘n blaaskans
moet neem om eers ‘n verhaal of vinjet te verteer. Goeie kortverhale werk soos
gedigte: jy lees ‘n tweede, derde keer om ‘n beeld se effek te verstaan:
soos Mary Watson of Susan Mann by uitnemendheid doen.
Al die verhale
is nuut, behalwe vir die bydrae van Nadine Gordimer, ‘n wonderbaarlike verhaal
waarin jy as leser uiteindelik moet besluit of die man werklik ontrou was. Ons
weet egter dat net die vermoede die vrou se verhouding met hom verander het.
Interessant hoe
mans oor (hul) moeders skryf (Brink, Johnny Steinberg) en ‘n klein kragtoer is
“Your stop” van Byron Loker.
Bekendes en
bekroondes, minder bekend en debutante lewer boeiend verslag oor menswees:
letterlike, simboliese of metafisiese aanraking. Hoekom is daar net twee Afrikaanse skrywers
in vertaling?
Die opbrengs van
die versameling gaan na die Treatment Action Campaign vir die stryd teen Vigs.
Bronne:
Cleanth Brooks,
e.a.: An approach to
literature. Prentice Hall,
New Jersey. 1975.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]