Pieter Fourie. Jasmyn. Protea Boekehuis, 2009. ISBN 978 1 86919 260 0.
Resensent: Joan Hambidge
Pieter Fourie is ‘n gedugte
dramaturg. Sy naam staan in die ligte saam met P.G. du Plessis, Bartho Smit,
Adam Small, Deon Opperman, onder andere. Deur die jare het hy die drama vernuwe
en eksperimenteel-ondersoekend gewerk. Sy jongste teks heet Jasmyn, met ‘n
hoofkarakter Beulah (gay sleng vir pragtig) en in hierdie teks ondersoek hy op
‘n vernuftige wyse die lot van die ouerwordende ouer vrou. Hoe voel dit om soos
Brigitte Bardot oud te word? Marilyn Monroe se skoonheid bly bewaar omdat sy
vroeg gesterf het.
Jasmyn is ‘n bedrewe teks, geskryf
deur iemand wat dialoog ken en vir my gevoel is hierdie teks belangrikste
interteks ‘n terloopse verwysing na Tennessee Williams se Sweet bird of youth,
daardie briljante dramaturg wat besondere analises van veral die vroulike psige
kon gee. En Yerma van Lorca ook, as ‘n tersyde. ‘n Slim verwysing want hierdie
drama is al ‘n teks van fertiliteit en steriliteit genoem, die twee asse waarop
Jasmyn draai.
In Jasmyn is daar etlike
verwysings na ander tekste soos Scent of woman, daar is boerewyshede,
skunnighede (“Die Kaap is op horings”), Grace Kelly is hier saam met Nefertiti
en Cleopatra. Joan Collins en Miss Piggy. Mae West. Brigitte Bardot (die
verrimpelde ou pelsjashater.) Ons lees van Paris Hilton en ander skoonhede,
werklik en gesilikoniseer. Ook mans maak hier ‘n draai: Jack Palance, Rock
Hudson, James Stewart, o.a. Te veel om op te noem. Die teks het in sy oorvloed
van tekste en name ‘n kamp-aanslag in die sin wat Susan Sontag dit gebruik het.
"Indeed the
essence of Camp is its love of the unnatural: of artifice and exaggeration. And
Camp is esoteric -- something of a private code, a badge of identity even,
among small urban cliques" (uit “Notes on camp”, 1964).
Ons bly bewus van ‘n teks wat sy
gemaaktheid wil vooropstel.
Die verhaal handel om Beulah se
erfporsie. ‘n Afgestorwe minnaar laat ‘n klomp geld agter, mits sy ‘n minnaar
vind wat twintig jaar haar junior is. Daar is dan ‘n verjongingsprogram en met liggaamlike en geestelike
manipulasie. Daar is eweneens ‘n nuwe skoonheidseep, Beulah Jasmine, wat
internasionaal bekend gestel word. My opsomming laat nie reg geskied aan die
plot nie (p. 16). Waarskynlik sal hierdie teks in die hande van Marthinus
Basson ‘n interessante en opwindende teaterervaring kan word.
Dalk is hierdie teks op papier
gedagteteater, maar in Basson se hande kan ek my voorstel gaan hier wonderlike
OTT (over the top) karakters wees. Fourie kan toor met woorde en hy kan wissel
tussen hoë en lae registers.
Vanuit ‘n genderperperspektief is
dit tersaaklik dat ‘n man hier ‘n vrou skep. In hierdie opsig lewer die drama
fassinerende metakommentaar: Beulah is uitgelewer aan die wense van haar
oorlede minnaar wat op sy beurt die skepping is van die man, Pieter Fourie.
Fourie se taalspel is heerlik:
kunshaarknoetsie byvoorbeeld en die dialoog op bladsy 57 tussen Beulah en
matrone is ‘n gil. Indien ek die regissseur sou kon wees, sal Beulah deur ‘n
bonkige rugbyspeler vertolk word. Almodóvar, eat your heart out.
Van Pieter Fourie is daar al gesê:
“As dramaturg
het veral vier soorte mense in sy skryfwerk belang gestel: die
toneelliefhebber, die resensent, die akademikus en die sensor. Met die lojale
en entoesiastiese ondersteuning van die toneelliefhebber het hy die ander drie
seëvierend oorleef. “ Hierdien wyse woorde is geuiter deur Daniel Hugo wat die
huldigingswoord gespreek het met die toekenning van die Hertzogprys aan hierdie
dramaturg. ‘n Mens gaan verder akkoord met die stelling dat Fourie aan die
begrip volksteater ‘n besondere diepgang gegee het.
Vir die werk van
hierdie dramaturg – hy is al vir veertig jaar op die toneel – kan ‘n mens net
die hoed lig!
En vir die werk
by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.
Bron:
Pieter Fourie se biografiese besonderhede is beskikbaar by:
Erika Terblanche. LitNet | Pieter Fourie (1940 - ). Litnet.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]