Philip Liebenberg. Daar’s ‘n gay
pastoor in my kop. Penguin, 2008. ISBN 978 0 143 025771.
Resensent: Joan Hambidge
Die afgelope tyd was daar ‘n hele
paar polemieke rondom die gay-kwessie. ‘n Predikant is ontslaan nadat sy
gay-lover hom in die Son aan die kaak gestel het. ‘n Orrelis van die
Moreletapark-gemeente word na ‘n onbillike ontslag deur die gemeente finansieel
vergoed.
Hieroor het prof. Andreas van Wyk
uiters insigryk geskryf.
Ek is self gay, skryf oor die
kwessie, en is soos alle gay-mense bewus van die prys wat jy betaal vir ‘n
openlike standpunt en uitbasuin van ‘n Kas is nie net vir klere nie.
Terselfdertyd het elke beroep ‘n ingeboude stel reëls en voorskrifte. Jy kan
nie ‘n renjaer wees as jy bang is vir spoed nie; nog minder ‘n go-go-danseres
as jy ‘n lekeprediker in Mamre is.
Dis hoe dit is, sal my Oom Frikka
seg.
Maar dis waar ‘n mens ‘n film soos
Priest weer aan die vergetelheid moet ontruk. Om gay te wees, beteken nie dat
bek-en-klouseer het of deur ander mense ge-‘other’ mag word nie.
Jy het regte. Al is dit dan net
konstitusioneel.
Hoekom en waarom word gay-wees
steeds (sug) as abnormaal, afwykend, transgressief, ensoaan ervaar? As ‘n mens
kyk na boeke soos Philip Liebenberg se Daar’s ‘n gay pastoor in my kop, dan
weet en besef jy dat ons nog ‘n lang pad het om te loop.
Ouers weet dat hulle kinders gay
is en wanneer die belydenis gemaak word, soos ons hier lees, is die skade reeds
gedoen.
In die sestiger/sewentigerjare het
die gay-kind geveg teen ‘n allesoorweldigende stilte wat jou versmoor. Vandag
word daar studies oor die ‘queer’-kind in die VSA gedoen en as ek na my
studente luister, is gay-wees ‘n keuse / reg soos ek verkies ‘n waatlemoen bo
‘n spanspek.
Die boek is met skepsis benader en
‘n mens kyk eers vas teen die taalfoute en die onbeholpe skryfstyl, maar dan wen die
skrywer jou vir sy saak. Jy beleef die gemoed van ‘n kind wat deur die vader
geboelie word, en eers wanneer hy dit erken, kan hy vorentoe beweeg. Die
skrywer is eerlik oor sy ambivalensies. Ons beleef die gemoed van ‘n kind waar
die ouers dikwels rondtrek, die vader dwase finansiële waagstukke aangaan en
die kinders as’t ware uitgelewer is aan sy humeur. Dan begin die vertroebelde
ontdekkings van die seksualiteit en die feit dat hulle aan die AGS-kerk behoort
en ontsettend baie kerk toe gaan. Kerkfiksheid is die begrip wat gebruik word.
Alle plesiere word as sonde gesien en ook die seksuele ontdekkings van die jong
liggaam gaan met skuldgevoelens gepaard.
Ek kon die boek aanvanklik nie
neersit nie, omdat dit ‘n retro-reis was van hoe dit was om gay te wees in die
sestiger-, sewentigerjare. Dit het sekere ervarings van my eie dubbelbestaan
skerp na die oppervlak gebring. Die naïewe uitdrukkings en belewenisse van ‘n
wit Afrikaanse kind uit daardie jare is ‘n ongelooflike leeservaring. (Hoe hy
en sy meisie sit en vry in die drive-in.) Hoe het alles nie genadiglik verander
nie.
Die boek begin met ‘n besoek aan
die vader se kis en Jacques Lacan en ander psigoanaliste sou waarskynlik
hierdie boek kon lees in terme van God die Vader en die vadergod. Die kind se
vergeefse poging om die Simboliese Orde in te beweeg en die vader te behaag.
Miskien hou die boek te lank aan
en waarskynlik sal party (gay) lesers dink: hoekom probeer jy enigsins ‘n
staanplek kry binne ‘n (kerklike) gemeenskap met sy vooroordele?
Die skrywer is dikwels ook uiters
naïef: die duiwel word die skuld gegee vir sy drifte en ‘n hele paar keer wil
‘n mens die arme man verlos uit sy bestaan waar hy sy vrou begin afknou weens
sy eie onsekerhede. Hoe hy uitgelewer is aan ander se menings (byvoorbeeld oor
die
Okkulte) en waarskynlik die produk
is van ‘n gemeenskap se breinspoeling. Bladsy 171 som dit op:
‘Ek was geestelike oorwinnaar en
gesneuwelde psige in een persoon.’ Die ironie van hierdie boek is verskriklik:
dat die pastoor in sy verdrukte jare soveel pyn en ellende ervaar binne die
kerk en die dogma! Maar hy bly daar…
Want hy glo in Satan en sulke
dinge. (Nogal ironies dat hy Gloria Gaynor van egosentrisme beskuldig, terwyl
die hele boek in hierdie greep staan.)
Maar hoekom mag gay-mense nie as
gelykes behandel word nie?
En waarom aspireer ons steeds om
erkenning te soek op plekke waar dit nie sommer gaan gebeur nie?
Gay-bevryding kan net gebeur as
gay-mense hul ambivalensies en dubbel lewens / leuens staak en hul regmatige
plek inneem.
‘n Boek wat ons attent maak op die
houvas wat die samelewing se eise op mense kan hê en ‘n blik op iemand wat nie
in staat is om daardie lewe te kan verlaat nie.
Die Addendum moes gebly het. Dis
hinderlik prekerig. Die eerste gedeelte wat ‘n storie vertel van sy komplekse
jeug, is aangrypend. Die worsteling met identiteit wat later ‘n komplekse en
ambivalente persoonlikheid tot gevolg het. Die Addendum is sielig met uitsprake
dat ons boetekaartjies ontvang as ons die spoedgrens (lees: sonde) oortree. Die
verwysing na die Beeld-skandaal is waarskynlik net ‘n uitvloeisel van die
(dubbel)bestaan.
‘n Belangrike bydrae, maar dit
moes ‘n sterker geredigeer gewees het.
En?
Daardie pa het ‘n geweldige impak
op hierdie kind gehad.
Die boek raak self-komplimenterend
en uiteindelik irriterend.
Sy vrou is die prinses wat haar
tiara verloor het.
En die naïewe uitsprake maak ‘n
mens moedeloos.
Maar as dit iemand sal help om uit
die kas te klim, lees dit.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]