Abraham H. de Vries (Samest.). Van heidebos en Skepper. ‘n Keur uit die poësie van R.K.
Belcher. Protea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919 248 8.
Resensent: Joan Hambidge
R.K. Belcher (Ronnie, vir ons
almal) was ‘n voorbeeld van hoe om die speelse vers te bedryf. ‘n Mens dink
hier aan klassieke treffers soos:
Dis die
juk dis die skei
ek is hier om te bly
as my besie vannag
in jou klofie kan wei
*
Die
rooihaarflerrie
met ’n kop van kerrie
vir almal sê sy
I love you very
‘n Paar
jaar gelede het hy in die H.B. Thom-teater die gehoor op die vloer gehad met sy
voordrag. En as ek reg onthou: het hy al die gedigte voorgedra sonder ‘n boek
of nota voor hom. Die gedigte was deel van hom en sy lewe.
Sopas
het Protea uitgewers ‘n keur uit sy gedigte (115 bladsye) gepubliseer met
Abraham H. de Vries as die samesteller. En dis reg so. ‘n Gestorwe digter moet
bewaar bly vir die digterlike nageslag. Hopelik sal Protea dieselfde doen vir
onlangs gestorwe digters en wil iemand nie Casper Schmidt se gedigte bundel
nie?
Breedweg
is daar in Belcher se digkuns twee Belchers aanwesig. ‘n Ernstige Digter en ‘n
parodies, satiriese volksrymer. Mens en Skepper (1956), Ver land (1960), So is
die lewe vir een pond sewe (1978), ‘n Ding om te skil in die maand April
(1980), Ringe in ‘n geelhoutboom (1982), My hart sing sewe moppies (1996) en
Van heidebos en klip (2000).
Ek het
nie veel erg aan die ernstige, verhewe Digter nie. Vir my is die essensiële en beste digter die een van die moppies, die parodie,
die vinnige lopervers en speelse gedig.
Miskien
het dit iets te make met ons tradisie dat die speelse gedig, waaroor Daniel
Hugo al uitvoerig geskryf het, nie na waarde geskat word nie. Hierdie leser het
‘n bepaalde voorliefde vir die speelse vers wat op die oog af na ‘n grap lyk,
maar onder draai die duiwels rond.
Hierom
is Ogden Nash en Philip de Vos geliefde digters.
“Nonsense
verse”, soos dit op Engels heet, het sy
bekoring, bepaald. Dit is dikwels die gedig wat in die geheue bly vassteek en
jou laat glimlag. Dieselfde geld A.G. Visser se verse.
Die
versoeking is groot om elke gedig waaroor ‘n mens opgewonde raak, hier aan te
haal.
Trouens,
‘n mens se lagspiere word so gekielie dat jy later uitasem is van die lag.
En wie
kan dit regkry om jou vir ‘n hele bundel te laat lag en vol bewondering te laat
staan voor die woordvernuf, astrante ryme, belaglike wendings – en,
lewenswysheid?
So is
die lewe vir een pond sewe, ‘n Ding om te skil in die maand April en My hart
sing sewe moppies is van my mees geliefkoosde bundels.
Deur
menige melancholie het hierdie boeke my al gedra en gewys dat Belcher se
onhebbelike sin vir humor alles regmaak. Die humoris / satirikus is in wese ‘n
ernstige persoon en ‘n mens kan dit sien aan sy ander gedigte. Maar ek hou van
die veerligte aanslag, van die vers wat sommer so speels én spuls uit die hand glip.
Die
gedigte is politiek-inkorrek soos op bladsy 100:
Ons kan
toor
en ons
kan moor
want ons
dra ons keps
agterstevoor
of
Kaapstad
se lessies
drink
wyntjies uit flessies
maar
Stikland se stukke
sluk
bliksem uit blikke
Humor is
egter selde politiek-aanvaarbaar. Jy trap dikwels op ‘n toon of misbruik ‘n
stereotiep om ’n effek te kry. Trouens, die speelse verse en uitinge hiervan
soos die limerick gedy op die skunnige.
Belcher
hanteer die fyn balans tussen en beeld en toepassing behendig. Hy is immers ‘n
skrywer van ‘n gesaghebbende studie oor die sonnet en “Besoek aan ‘n
letterkundemuseum”’ (p. 83) parodieer hierdie digvorm met ‘n ontluisterende
slot:
“wat is
die slaap ‘n wondersoete ding.”
Die kort
verse parodieer dikwels ook lewenswyshede soos op bladsy 91
Kerktaal
bring sy loon
jou siel
kan daarin woon
maar ‘n
vloekwoord op sy tyd
dit hou
die mangels skoon
Die
spanning tussen die verhewe en die banale is waarop hierdie soort gedig se as
draai. Sy volta of keerpunt is die teenstrydighede wat in die gedig skuilhou:
kerktaal versus vloekwoord. En dan die ontlading: die mangels wat skoongehou
word.
Die
teenoorstaandes word dan verder beklemtoon deur die inbring van die mangels wat
kwansuis deur die vloekwoord skoon gemaak word!
Op die
oog af lyk die gedigte maklik en selfs verspot, maar met ‘n dieper lees en
uitmekaarskroef, besef die leser hoe die knap die verse gefabriseer is.
Die
ernstige digter is nie vir my nie. Ek vind hierdie verse retories en selfs
breedsprakig.
Toe hy
op die toneel gekom het, was die Dertigers se Verhewe Verse al passé. Gee vir my die
grappige / parodiese / satiriese / speelse vers, want hierin munt Belcher uit.
In “Poësie-aand” word daar geskerts oor voorlesings in die
Dorpstraat-kafee met ‘n raak tekening van hoe sulke aande verloop:
Sal ek
vanaand in Dorpstraat se kafee
my siel
ontbloot for everyone to see?
Hier
tussen die geskinder en gepraat
my siel
ophang aan ‘n doringdraad?
Met
ander se geroggel en gerook
my
sielsgeheim met nikotien bestook?
Hier
tussen al die waaiers en die fans
myself
beskinder saam met also rans?
Nee,
eerder lieg en skruwe rympies maak
oor
snaakse goed wat ander siele raak
soos
ghoffels wat kafoefel op ‘n trein
and
other dear souls crying in the rain.
Maar
smokkel met sy sel se brood-en-jêm
voor al
dié vreemde wesens? Not-a-dêm!
‘n Mens
kan hoor hoe Ronnie hierdie gedig voordra en hoe die gehoor lag.
Kyk ook
na hierdie enetjie:
Die graf
is toegegooi
jou plek
is leeg in die kooi
die
suster wat die kranse pak
hoe buk
sy dan so mooi (p. 98)
en
Die
trassie
van
Makwassie
hy dra
sy bloemer
in ‘n
tassie (p. 67)
en die
speel met lewenswaarhede:
Die gat
is gegrou
die
mense staan en rou
mar die
hele okkasie
bly ‘n
one man show (p. 70)
Politiek-inkorrek,
seksisties, over-the-top, maar soos dit met boeregrappe ook gesteld is.
Wag,
wag. Gaan koop jou eie boek.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]