h. Parker. The Interloper. ihilihili press, . ISBN 978 1 920 103 07 1.
Resensent: Joan Hambidge
Die roman vertel die verhaal van
‘n mislukte romanskrywer wat na haar dood ‘n skrywersgroep ontmoet met Olive
Schreiner, Katherine Mansfield en die Brontë-susters.
Die roman word tipeer as ‘n
interaktiewe roman met ‘n bymekaarplasing van ‘n veelheid van tekste soos
essays, kortverhale, herinneringe en wat nog.
In die voorwoord tref ons alreeds
‘n persoon aan met haar tong diep in haar kies en sy verwys na alles wat in
verlede verdwyn het: soos ‘n skool wat toegemaak het en ‘n
universiteitsdepartement waar sy gewerk het waar die naam verander het. Boonop
besef sy dat haar skryfwerk niks tot gevolg gehad het nie: sy het nie pryse
gewen nie, nog minder is sy genooi na skrywersfeeste of boekpromosies.
Nog nooit is sy gevra om iets te
te teken nie – behalwe verkoopslippies!
Vir hierdie leser is
‘interaktiewe’ romans of roman wat begaan is oor die skryfproses ‘n aangename
leeservaring. Op die voorblad is daar ‘n familiefoto: die getroudes staan egter
op die agterblad en nie die voorblad waar die leser hul sou verwag nie.
Dieselfde geld die vertelling met
sy onverwagse draaie, maar die leser wat belangstel in metafiksie á la
Barthelme is hierdie soort wendings presies wat die teks wil wees.
Hierdie soort roman werk altyd met
die oog-knip of ‘in’-grappie. Op bladsy 25 verneem ons dat dit ‘work in
progress’ is en die teks voorveronderstel o.a. ‘n kennis van Katherine
Mansfield se lewe en tekste om die pastichering daarvan te begryp.
Daar is ook ‘n e-pos met
aanwysings van wat lesers verwag van ‘n boek: lesers hou nie daarvan om
ge-cock-tease te word nie. Maar party van ons hou wel van hierdie soort spel.
Die ‘roman’ wat ons lees, is self uitgegee en die skrywende verteller neem die
hele proses in oënskou.
Jane Austen word deur Katherine
Mansfield beskou as die ‘chic-lit dolly from the Regency Period’ en die roman
sit vol van hierdie soort kostelike
opmerkings. Of Mr Foster wat opmerk oor resensente: “One grows accustomed to
being praised or blamed, or being advised, but it is unusual to be
understood”(p. 169). Plek-plek is die boek myns insiens te selfkoesterend en
sou dit by beter redigering of verkorting gebaat het. Maar die konsep is knap
en tersydes interessant.
Die roman bevat ‘n uitgebreide
verwysing na die Brontës, Charles Dickens, Mansfield, Beatrix Potter en Karel
Schoeman se studie oor Olive Schreiner.
Ons vind ook ‘n verduideliking van
wat ‘circle dance’ behels. Daar is sterk spirituele onderbou in die teks met
verwysings onder andere na karma.
Daar is selfs ‘n resep om seep te
maak op bladsy 77 , foto’s, familiebome en verwysings na werklike mense. Die
Kaapse leser sal sekere bakens herken en retro-ervarings soos vrye liefde, die
ontdekking van die pil en The twist.
Of die roman uiteindelik getipeer
kan word as ‘faction’ is die uwe nie so seker van nie.
Lees die boek gerus as jy van
selfrefleksiewe prosatekste hou, maar ‘n sterker redigerende hand sou die roman
sterker kon maak.
Interloper in die sin van
indringer, smokkelaar, onderkruiper ja.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]