Patrick McCabe.
Winterwood. Bloomsbury, 2006. ISBN 0 7475 86934 4.
Resensent: Joan Hambidge
Patrick McCabe se roman Winterwood sou ‘n mens as ‘n moderne Gothic kon beskryf. Dit is ‘n
roman wat tussen fantasie en werklikheid huiwer en boonop het die skrywer die
vermoë om alles te laai met implikasie. Niks word direk vertel nie.
Ons beleef alles vanuit die perspektief van ‘n
uiters onbetroubare karakter wat waarskynlik as kind gemolesteer is, deur sy
vrou verneuk word, ten spyte van ‘n gelukkige verhouding, ‘n grusame moord op
‘n kind weergee, om enkele hoofmotiewe uit te wys.
Maar, ‘n regter se uitspraak dat die vrou deur die
man aangerand is en dat sy hierom die kind moet versorg, onderstreep die leser
se groeiende besef dat die houvas op die werklikheid nogal prekêr is. Boonop is
daar besoeke van ‘n spook wat die hoofkarakter moet laat kies tussen goed en
kwaad, patologiese gedrag, verandering van identiteit na ‘n oënskynlike
selfmoord, angsaanvalle en obsessionele gedrag wat die leser bekend stel aan
die binnelewe van – waarskynlik – ‘n “borderline personality disorder”.
Jy is immers altyd (onbewustelik) aan die
fokalisator se kant, omdat jy vanuit sy perspektief waarneem, orden, beoordeel.
In hierdie roman word elke baken omvergewerp deur ‘n buite-kwalifikasie of
objektiewe mededeling: ‘n koerantopskrif, ‘n terloopse opmerking of juridiese
uitspraak.
So word die boek geadverteer deur die
uitgewershuis: The chilling, spellbinding and highly original new
novel from the prize-winning author of Breakfast on Pluto and The
Butcher Boy. Beter kan geen resensent die komplekse gegewe
van hierdie Ierse roman opsom nie.
Op ‘n vernuftige wyse word die spel tussen
fantasie en werklikheid volgehou. Die Ierse folklore speel ook in op die gegewe
te verduidelik: die geloof in spoke en “tall stories”, drankmisbruik en dies
meer, help die leser om die verwikkelde drade vas te knoop en die sprong tussen
fantasie/beswyming en die werklikheid vas te knoop.
Die plek Winterwood is magies, gelaai met onheil
en onverwerkte konflik.
Redmond se liefde vir Catherine en sy verhouding
met Immy word emosioneel eg beskryf. Die beginjare van die verhouding is goed,
ten spyte van ‘n ouderdomsverskil.
Die verhouding later met Casey wanneer hy ‘n ander
identiteit aanneem – en hier wil ek nie leesplesier ondermyn deur te verklap
hoe en hoekom dit gebeur nie – as ene Dominic Tiernan maak van hierdie roman ‘n
voorskryfboek vir ‘n Sielkunde dosent.
Met sy nuwe identiteit beweeg hy in die TV-wêreld
in, ‘n gekonstrueerde lewe wat in opposisie staan tot die onskuldige,
primitiewe lewe van folklore en Ierse liedere.
Auld Pappie Ned, die vioolspeler en sy folklore
(en wat Red van hom weet) laat by hierdie leser die vrmoede ontstaan dat die
skrywer McCabe se doel was om die Ierse gewoontes, folklore, legendes aan die
kaak te wou stel. Dit word dan op die
skutblad as “savage satire” beskryf.
Die roman lewer kommentaar op sigself wanneer die
dokumentêr wat vervaardig word There are
my mountains as volg beskryf word:
“...is an anatomy of a society in flux, a
magnificently detailed view of the journey from the almost medieval atmosphere
of 1930s rural Ireland to the buoyant postmodern European country it is today,
and must be considered, a uniquely seminal and passionate work” (p. 233).
By ‘n tweede lees, was ek minder onder die indruk
van die roman en het ek gevoel dat die skrywer sy leser “dupe” in iets wat
half-parodies wou/wil wees. Miskien is ek verkeerd. In hierdie genre verkies
hierdie leser ‘n roman wat jou nie snuf in die neus laat kry nie. Maar dit is
alles uiteindelik ‘n kwessie van smaak!
Dalk die “savage satire” waarvan die buiteblad
praat?
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die
Volksblad geplaas.]