Eugène N. Marais. Die volledige versamelde gedigte. (Geredigeer deur J.C. Kannemeyer, Marissa Baard, Kristèl Roets, Nicol Stassen en Mari Viviers). Protea Boekhuis, 2005. ISBN 1 86919 122 6.
Resensent: Joan Hambidge
Rondom die figuur Eugène Marais is daar
steeds polemiek. Onlangs het Johann Lodewyk Marais en Leon Rousseau, die
biograaf van die voortreflike Die groot verlange, byltjies geslyp in Beeld.
Johann Lodewyk Marais het ‘n ander siening van die figuur en hy verskil van
Rousseau se interpretasie van Marais. Johann Lodewyk Marais het al insigryk oor
Marais se wetenskaplike prosa geskryf. Waarskynlik sou ‘n mens ook in gedagte
moet hou dat in die tyd toe Rousseau navorsing gedoen het oor Marais was dit
moeiliker om inligting oor ‘n persoon te bekom.
Die volledige versamelde gedigte is ‘n welkome publikasie vir alle lesers van die digkuns en
meer spesifek vir die dosent van die Afrikaanse digkuns. In ‘n kursus oor ouer
Afrkaanse digters is dit altyd die immer-gewilde Marais en Leipoldt wat
studente inspireer. Dit is dan relevant om die biografiese studies en die wyse
waarop hierdie digters gekanoniseer is, te vergelyk en krities te ondersoek.
Verkeerde opvattings is dikwels aan die orde van die dag en dit is belangrik om
al die biografiese studies oor hierdie digters te lees.
Verder is dit die eerste studie waarin
die beginsels van die edisie-wetenskap uitgegaan word. Die leser word beend
gestel aan al die probleme rondom die versameling van gedigte en die
regstelling van foute. Vir die soveelste keer, moet die leser sowel die
monnikearbeid van Kannemeyer (hier met die hulp van studente) as die
uitgewersvernuf van Nicol Stassen loof.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]