Harry Kalmer. Groceries: 56 Stories oor huishoudelike produkte. Lapa Uitgewers, 2006. ISBN
0 7993 3639 3.
Resensent: Joan Hambidge
Onder die versamelnaam Groceries word 56 stories opgeneem of in die verbeelde inkopiesak
gepak. Dis Harry Kalmer se jongste boek
waarin ‘n verhaal langs ‘n skildery/kunswerk geplaas word en sodoende aan
betekenisse wen, meerduidig inspeel op die leser se herinneringe uit sy/haar
jeug. Kalmer is waarskynlik – soos die Amerikaners Richard Brautigan en Kurt
Vonnegut – die meester van die sub-teks.
Hy skryf op die oog af toeganklik, maklike
verhale, maar onder draai die duiwels rond van weerlose mense uitgelewer aan
hul drifte, verlangens, onvervuldhede, transgressies en dies meer.
Verhale word in bykans kinderlike standerd
drie-sinne aangebied – gaan lees weer Trout
fishing in America (1967) – maar dis alles ‘n blufspel waarmee die skrywer
die leser om die bos lei en dikwels word ‘n mens psigies só ontroer deur ‘n
insident soos ‘n bloedskendige oomblik
tussen vader en kind wat lei tot die spieëls wat in die huis gebreek word,
omdat die vader homself nooit weer in die gesig sal kan kyk nie; ‘n pynlike
wete dat die persoon met wie jy jou lewe sou wou sluit nie daar gaan wees nie
en hierom kan daar ja gesê word vir jou
tweede keuse. Daar is nog meer (en ek wil werklik nie die leser se leesplesier
bederf nie) soos ‘n man wat terugkyk na sy digter-vader wat hom as kind versaak
het, ‘n tweede keer in die digkuns verraai en die derde keer finaal weggaan.
(“My pa was nog altyd goed as dit by verdwyn kom”). Die verteller herhaal egter
onbewustelik ‘n soort afstandelikheid met sy eie kinders wat hy net op Kersfees
en op verjaarsdae bel (“Die man op die stoof”, p. 11).
Die verhale is vinjette wat verwys na groter
oomblikke in lewens. Nie alles is is egter hoogdrawend of pynlik nie. Daar is
skreeusnaakse humor ook te vinde, soos die “waarsegster” wat aangesê word om
van teeblare na teesakkkies oor te skakel.
Ek lees tans Margaret Atwood se jongste teks Moral disorder waarin sy verskillende
stories, verhale of uitinge probeer saamsnoer in ‘n eiesoortige roman. Wat
Atwood wou doen, kry Kalmer reg. Sy verhale speel in op ander verhale en word
‘n bonte mengelmoes van indrukke, ervarings, teleurstellings wat die idee
bevestig dat die lewe dit is wat gebeur, terwyl jy planne beraam om elders te
wees òf iets anders te doen.
Vir my persoonlik is die retro-aspek van die
versameling boeiend. Kalmer verwys na verdwene kultuurbakens (soos ‘n roadhouse
met ‘n Dagwood, langspeelplate, radioverhale). Hierdie versameling het my
teruggeneem na Brautigan se In
watermelon sugar (1968), daardie aweregse blik op die Amerikaanse kultuur,
wat op sy tyd ‘n “counterculture” stelling was. Almal het ‘n plek in die
geskiedenis, het Brautigan op ‘n keer opgemerk: myne is die wolke.
By Kalmer is daar ‘n gevoelige analise van die
invloed van die grensoorlog op ‘n gemeenskap. In ‘n “n Moontlikheid” word dit
pyn en verontrusting van hierdie ervaring beskryf uit die perspektief van ‘n
broer en moontlik is die boer nie dood nie, omdat die plek op die kaart nie
gevind kan word nie. Di verteller kan dus nie dood verwerk van hierdie
briljante broer nie. Gesinkopeer met die ellendes van die nuwe-Suid-Afrika
(dwelms, moord, diefstal, werkloosheid) kry ‘n mens ‘n blik op ‘n skrywer –
soos Raymond Carver – wat nie skroom om die “dirty realism” van ‘n gemeenskap
te ontbloot nie. Dikwels in onskuldige onthou-oomblikke (‘n onderwyseres wat
mal word; ‘n man wat sy laaste brekfis maak voordat hy sy vrou verlaat; ‘n
oorledene wie se pen uit die hospitaal gesteel word sodat die waarnemer sy
erfstuk kwyt is) word met wyer implikasies weergegee. Brautigan was ook digter
voor sy ontydige selfmoord en Kalmer se kort-kortverhale het dieselfde
kompleksiteit as ‘n gedig wat rondom sekere motiewe uitgebou word.
Dikwels moet jy ‘n tweede keer lees om te besef
dat jy reg verstaan het. “Jammer” (p. 114) met ‘n koki-skets van die outeur,
kan as ‘n soort skrywerscredo gelees word.
Hoe die simmetrie van beplanning deur die lewe se
verloop omvergegooi word, uiteindelik.
Dit is verhale wat nie met ‘n maaghou tref nie,
eerder met ‘n pynprikkie wat indrukke wat jou bybly, onrustig maak en jou laat
terugkeer na verhale. Boonop met prag-kunswerke langsaan: selfs ‘n Ingrid
Winterbach en Diek Grobler is hier te vinde!
Brautigan, soos Kalmer, het met verskillende
genres geëksperimenteer. Ek is van mening dat hierdie boek ook by Kalmer se
navolgers sal aanklank vind. In “As van die liefde” word ‘n Huisgenoot-gegewe
met nuwe betekenisse gelaai.
En dis waarskynlik die grootste krag van die
vertellinge: dat dit wat aan ons almal bekend is (o.a. die vloed van waansin
wat ons hier te lande beleef en ervaar het) op ‘n aweregse, dwars en menslike
wyse beskryf word.
Hoe lyk jou inkopiesak? Wat weeg dit? Koop jy vars
kos of ingelegde vrugte? Koop jy by Pick & Pay of Woolworths?
Enige psigoanalis se droom om iemand se inkopiesak
uit te pak en te beloer.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]