Wednesday, February 6, 2013

Patrick Cullinan - Escarpments. Poems 1973–2007 (2008)



Patrick Cullinan. Escarpments: Poems 1973 – 2007Umuzi, 2008. ISBN 978 1 4152 0048 3.

Resensent: Joan Hambidge

Die swenkslag van die digterlike indruk of beskrywing is Patrick Cullinan se sterkste eienskap. ’n Mens sien dan in die titelvers die kloppende hart van die akkedis . . . In die beskrywing van ’n oorlogsgeteisterde stad, gaan die lewe op die oppervlak oënskynlik normaal aan; onder draai die duiwels rond.

Dit is ’n omvangryke digbundel met uiteenlopende verse: oorlogsindrukke, politieke waarnemings (of die verset daarteen), die geboorte van ’n kleinkind, opstande aan die UWK in die tagtigerjare wat teenoor ’n gedig van John Donne geplaas word, natuurwaarnemings, ’n besef dikwels van tyd wat verbygaan, en dies meer.

Die vers lyk op die oog af dikwels eenvoudig of maklik. Dit is helaas die bedrog of oëverblindery van die meeste van die verse: die gedigte dra iets oor wat lank ná die lees steeds bly naklink of draal in die leser se gemoed.

Een van die belangrikste aspekte van hierdie bundel is dat dit die leser bewus maak van ’n uiters beskaafde, belese persoon se perspektief op die wêreld waarin hy dikwels nie behae het nie. In die gedig "The Passion. Western Cape. 1985" word daar politieke kommentaar uitgespreek en die funksie van die digkuns beklemtoon. Hierdie gedig aktiveer al die argumente van die struggle-tydperk waarin mense Westerse skryfwerk as élitisties en onbelangrik afgemaak het.

Hy spreek die digter Douglas Livingstone direk aan wat ook die sentimente gedeel het:

Sorry, Douglas
Sorry, Douglas, you’re out of fashion,
unversed in die prosody of shit:
your poems are only born of passion –
revealing, merely, your radiant wit.

Hierdie gedigte vind dan hul pendante in die vers "Venice" waar die dubbelaard van die stad iets van die digkuns se dubbelbestaan opvang: ook die digkuns is ’n “sleight of hand”... In "Grammar" vind ons eweneens ’n spanning tussen stilte en artikulasie wat ’n ander motief is wat regdeur hierdie bundel loop. Hier artikuleer die gedig die lot van die stemlose, die weggeraakte, die stilgemaakte.

Of dit wat paradoksaal behoue bly, soos die Etruskiese meisie wat in die gedig oor haar, tot lewe verwek word.

Dikwels is die sentimente polities-inkorrek, soos in "The beach, The evening" waarin ’n “nigger” se versteuring van die orde beskryf word. Of buikspreek die digter?

Die gedig vang iets op: ’n versteuring van orde en dan uiteindelik weer rus, die terugkeer na die normale – iets waarin Cullinan uitmunt.

Die perfekte bly altyd net-net buite ons belewenis van die aardse of die lewe . . . ("The Garden").

Die leser kry met hierdie bundel ’n versameling van verse tussen 1973 tot 2007, dit wil sê, ’n besondere lang periode. ’n Mens sou tog ’n deeglike inleiding of naskrif verwag het om die gedigte te begelei. Nou is daar net notas rondom of by sekere gedigte. So byvoorbeeld verneem ons dat die gedig "Venice" geskryf is alhier en dat die digter ’n hartaanval beleef het. Dus word die gedig vir die digter ’n meditasie oor die dood.

Dit verander weer die lesing van die gedig en dit open ander perspektiewe. Dit is vir hierdie leser altyd interessant en selfs relevant om te verneem hoe digters voel oor hul digkuns, watter vorme verkies word of wat ook al. Wat bedoel die digter as hy homself as liberaal sien en dan weer in gedigte minder politiek-korrekte uitsprake maak? Of stel die digkuns uiteindelik ander eise wat met die politiek van die dag nie veel te make het nie?

Daar is ’n handvol gedigte wat my altyd sal betower in hierdie versameling. Vir die speurende leser is daar ’n spel met digvorme, soos die nabootsing van die villanelle in "High summer", die kwatryn, tersine, en ’n duidelike voorkeur vir die vrye versvorm. Daar is sterk beelde in die bundel en ’n besondere blik op die geskiedenis: van die hier en nou se politieke uitbarstings (Soweto, toespelings op Verwoerd, John Harris) tot by Francois Le Vaillant, en verder terug tot by Dante.

Die digter het onder andere Italiaans bestudeer. Die klassieke wêreld van onder andere die Grieke en Etruskiërs, die skilderkuns van Carpaccio (1460 – 1526) maak van die bundel ’n ryke testament van ’n welbelese en belangrike digter binne ons Suid-Afrikaans-Engelse landskap. Die buiteblad van Caroline Cullinan maak van hierdie Umuzi-publikasie iets heel besonders. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]