Wednesday, February 6, 2013

Henk Rall - Geskrifte van ’n vermiste digter (2012)



Henk Rall. Geskrifte van ’n vermiste digterProtea Boekehuis, 2012. ISBN 978 1 869 19 187 0.

Resensent: Joan Hambidge

Henk Rall het in 1966 gedebuteer met ’n Son breek. In 1982 verskyn Proefskrif en na ’n stilte van ses-en-twintig jaar verskyn sy bundel Geskrifte van ’n vermiste digter by Protea. Die bundel is lank: 164 bladsye.

Wat het alles in hierdie tyd van stilte gebeur?

Hierdie bundel verskyn saam met Rosa Smit se Die begeleiding van duiwe, eweneens ’n digter wat lank nie met ons was nie.

Die digter skep ’n uitgewer as persona wat die laaste deurdagte digterswerk van die ‘vermiste’ digter vir ons aanbied. Die skep van sodanige personas vind ons terug in die digkuns van o.a. Fernando Pessoa wat vier verskillende stemme gehad het. 

Dit is ’n bundel waarin daar dikwels rymdwang voorkom (p. 27) en vreemde uitinge soos “tyd se droewe vlae” of die skrywer as ’n verdoolde enkeling (p. 41). Die metriese patrone van gedigte is nie altyd oortuigend nie en in ’n eksperiment oor die sonnet, mis die gedig fokus omdat die besondere eise van die sonnet nie nagekom word nie (p. 39).

Daar is ’n handvol goeie gedigte soos die verse oor Pasternak, Graves, Hemingway, beeldverse waar die digter buite homself staan. Die gedigte oor Gauguin en Turner roep vergelykings op met Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie. Met van Van Wyk wat sterker uitstaan.

Daar is egter dikwels argaïese taalgebruik aanwesig (“en woes en grensloos”, p. 68) en die dwingend-steurende gevoel dat hier ’n digter is wat wil poësie skryf, kom wat wil. Of die verhewe aanslag (“Ekstase”, p. 74) en ’n onbedoelde simpel aanslag soos in “Sirkusperd” (p. 76) wat liefs tussen die minnaars moes bly.

Versoek

Om liefde
gegee
te word,

vra dat liefde
mooi teruggegee
sal word (p. 82)

is ’n voorbeeld van ’n niksseggende gedig wat eerder in ’n studentejaarblad tuishoort.

’n Gedig soos “Besinnings” duisel onder die verhewe, vername aanslag. Daar is enkele mooi omblikke, soos “Olyfboorde” (p. 129) met sy inteligente gesprek met Van Wyk Louw. Maar dit is van die min oomblikke.

Die gedig oor VIGS en ’n prostituut val in swak smaak, nes die simpel vers oor die Ontugwet. Gedigte is dikwels niks meer as versies nie (“Bladsak”, p. 117).

Of “Bladsak” (p. 88):

My skryf
is gedryf
deur die verrukking
van jou lyf.

’n Mens is dikwels bewus van die groot gebaar, die groot verwysing wat in die vers maar platval.

En die spel met die sonnetvorm in “Belletrie” (p. 65) steek af teen wat digters al vermag het met so ’n gesprek rondom die vorm. Dieselfde geld “Sonnet” (p. 39): die vorm an die hierdie gedigvorm word nie genoegaam ontgin nie. En selfs in ’n dekonstruksie daarvan, moet jy steeds die metrum en ander eise nakom.

Henk Rall is soos ‘n digterlike Rip van Winkel. Niks wat die afgelope tyd gebeur het, word van kennis geneem of in die gedigte geregistreer nie.

‘n Besonderse bundel lui die publikasie-dokument. Oomblikke is daar in die jeugherinneringe.

Wie skryf hierdie verslae?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]