Thursday, February 7, 2013

Fred de Vries - The Fred de Vries Interviews. From Abdullah to Zille (2008)



Fred de Vries. The Fred de Vries Interviews: From Abdullah to ZilleWits University Press, 2008ISBN 978 1 86814 469 3.

Resensent: Joan Hambidge

I.

‘n Goeie onderhoudvoerder is ‘n buikspreker. Of ‘n puik vertaler. Of ‘n verkleurmannetjie. Daar is waarskynlik nog veel meer metafore om hierdie soort deugsame persoon te beskryf, maar ‘n mens dink byvoorbeeld aan die onderhoud wat Edmund White met Truman Capote gevoer het in New York. Hy beskryf Capote tydens ‘n hittegolf in New York waar die lugreëling af is. En hoe sy bril toewasem, terwyl hy elke nou en dan badkamer toe vlug om ‘n knertsie te gaan skink.

In White se woorde:

“He took off his glasses and stared at me with two perfectly clear blue eyes, the pupils tiny as gnats in the poisonous yellow light” (98).

In die onderhoud stel hy Capote so op sy gemak, dat Capote sy mond verby praat. Hy vertel hoe hy eenkeer saam met sy Puerto Ricaanse bediende gaan koekeloer het hoe lyk die huis van ‘n ryke. Daar raak die twee so weggevoer dat hulle sommer beginne dans. Metsdese kom die Madam en Meneer terug met funeste gevolge vir Capote en Mary Sanchez.

Capote was ‘n egter kunstenaar. Hy het mense aan die kaak gestel in sy laaste roman en terselfdertyd was hy verontwaardig toe die rykes en gesienes hom nie hul deftige partytjies wou nooi nie. Die onderhoud heet: “Sweating mirrors: A conversation with Truman Capote” opgeneem in The burning library (1994).

In hierdie fantastiese onderhoud sien ‘n mens die kwintessensiële aard van ‘n goeie onderhoudvoerder: hy/sy staan terug en die objek van ondersoek word as’t ware gedissekteer. Daar moet ook ‘n vars blik wees op die persoon, ‘n betrokkenheid en genoegsame kennis van wat die persoon se bydrae (of vergryp) is sodat jy hom goed kan voorstel. ‘n Resepmatige onderhoud waarin die persoon in die slotsin verneder of verminder word, begin op die lange duur die leser verveel.

En ‘n objek wat jou nie interesseer nie,  maar gewoon as opdrag uitvoer, wys soos ‘n ‘home-perm’.


II.

Edmund White is Edmund White. Sy studie oor Jean Genet het grense verskuif. So ook sy werk oor Rimbaud, Proust, essays oor Marguerite Yourcenar, Tennessee Williams.

‘n Goeie onderhoudvoerder vertel vir jou wat jy behoort te weet en verras jou met ‘n nuwe insig. ‘n Goeie onderhoudvoerder probeer nie ‘n gek maak van sy / haar onderwerp nie. Dit slaan altoos deur. André le Roux het op sy dag puik onderhoude gevoer met skrywers en sy een oor Karel Schoeman is onvergeetlik.  Hy weet waar ‘n skrywer se Achilles-hiel sit sonder om die mes te draai.

Murray La Vita doen eweneens goeie onderhoude in sy “Oop kaarte”. Fred de Vries is ‘n Nederlandse reisskrywer, joernalis, outeur, en in sy eie woorde, ‘n “coffee shop intellectual”. Hy probeer in sy versameling ‘n representasie gee van die kulturele scéne van ‘n post-apartheid Suid-Afrika.

Hy is ten eerste joernalis in hierdie onderhoude. Die boek word in verskillende afdelings ingedeel: “The Strings”, “The Office”, “The Pen”, “The Brush”, “The Pamphlets”.
Dit sou uiteraard onmoontlik wees om by elke onderhoud stil te staan en hierom sal daar eerder gelet word op sy tegnieke.


III.

Hy stel sy subjek in sy eie woorde aan ons voor. Adam Levin bely:”As a travel writer I’m more of an irresponsible vagabond than a flâneur who sits on a terrace with a notebook” (298). En skielik kan jy hierdie reisskrywer se werk beter begryp.

Ná die kort teks, vind ons ‘n handige CV en ‘n siening oor wie die helde en invloede is / was.

De Vries is nie ‘n Steve Hofmeyr-bewonderaar nie en hy probeer dit nie wegsteek nie.

Hy word egter oorrompel deur die man se sjarme en eerlikheid.

De Vries gee hier ‘n besondere blik op ‘n komplekse man. Of jy hou van hom of nie: Steve is nie enkellynig nie. Punt. (Jammer dat daar staan “wit owerheersing” in plaas van oorheersing, 292).

Een van my gunstelingskrywers Kleinboer kom ook aan bod. Dit is ‘n skitter-onderhoud waarin die ware aard van hierdie skrywer na vore kom wat begin skryf het ná die dood van sy hond. Dit is ‘n besonder ontroerende onderhoud: eerlik, maar veral met die wete dat sy vrou onlangs oorlede is, verander ‘n mens se siening van Kleinboer se verhoudings. (En natuurlik sal Tom Waits en Pink Floyd sy helde wees; maar Beethoven en Chopin is ook daar.)


IV.

Ek is nie persoonlik bekend met Adam Levin nie; so die onderhoud met hom was vir my interessant. Die uwe is wel bekend met sowel Steve H. as Kleinboer en by hierdie onderhoude kan ‘n mens skryf: waarheidsgetrou. Dis presies hoé ek hierdie twee persone ervaar. Ons weet Kleinboer is in Benoni gebore en dat hy met Kontrei iets vermag het waarvan die meeste skrywers net kan droom.

En dat hy taalgevoelig is.

En al ken jy ‘n persoon, moet die onderhoud tog iets ‘nuuts’ bybring. Ek onthou jare gelede toe Sandra Prinsloo die media se ikoniese liefling was van die mooi blondine wat kan ‘act’, het elke onderhoud presies dieselfde inligting verskaf.  Dus ‘n goeie onderhoudvoerder moet iets nuuts bybring en dit doen De Vries dan. Of (fabrieks)geheime verklap: soos dat Ingrid Winterbach se helde/invloede Saul Bellow is met Philip Guston (die skilder) en Louise Bourgeois (die beeldhouer).


V.

Natuurlik sou ‘n mens ook jou mond vol kon hê oor wie nie daar is nie. Maar terselfdertyd is dit belangrik om te beklemtoon dat daar leersame (ten minste vir hierdie resensent) onderhoude was. Soos oor Toast Coetzer en sy ‘band’. Wie en wat Marlene van Niekerk beïnvloed het, is aangrypend.

En terloops: Ivan Vladislavic noem Muhammed Ali!

Dit is boek met ‘n veelheid van onderhoude en ‘n aangename leeservaring.

Die boek is pragtig uitgee met ‘n illustrasie van Lorcan White.

Bronne:
Edmund White: The burning library. Writings on Art, Politics and Sexuality 1969 – 1993. Picador, 1994.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]