Marlene van
Niekerk. Die Sneeuslaper. Human &
Rousseau, 2010. ISBN 9780798151818.
I. Is daar lewe na Agaat?
Na die enorme
sukses van Agaat, wat selfs deur Toni
Morrison aangeprys is, staan die leser voor Marlene van Niekerk se jongste
teks, Die sneeuslaper. Dit is ’n teks wat, soos Memorandum, selfrefleksief
omgaan met die skryfproses en die leser plaas binne die komplekse problematiek
van die moderne dosent as kreatiewe begeleier, die dosent wat as skrywer sy eie
fabrieksgeheime aan jong studente moet verduidelik. Wat is myne? Wat is joune?
Binne die
Afrikaanse letterkunde het DJ Opperman die eerste letterkundige laboratorium
hier te lande gevestig en Van Niekerk (soos die uwe) is ’n produk van daardie
skool. Party skrywers het nooit hiervan herstel nie; ander het vurig met die
mentor in gesprek getree, soos Antjie Krog wat Opperman later debunk in Otters
in bronslaai.
Van Niekerk se
Die sneeuslaper (met ’n skildery van Marlene Dumas, Measuring your own grave,
op die band) is ’n letterkundige skryfverslag. Dumas as ikoon (Krog het oor
haar gedig en mindere ligte het ook probeer) begin reeds die voetwerk. Ons
beleef aan die begin die skrywer se werklike intreerede (“Die
swanefluisteraar”) wat met ’n vriendelike vergunning van die Universiteit van
Stellenbosch hier sy lê kom kry, terwyl die slotakkoord, “Die vriend”, weer ’n
Nederlandse gedenklesing is. Dus twee redes, die aanvaarding van die leerstoel
aan die US en die Albert Verwey-gedenklesing gehou op 15 Oktober (jaartal nie
vermeld) in Leiden. Die transponering van die gedenklesing en intreerede binne
die ruimte van fiksie verander die aard van die teks. Soos die lewerike
migreer, migreer die tekste. Soos die konteks verander, sal die leesaksie
eweneens verander. In die vierde voetnoot verduidelik die skrywer dat die
lewerikspieël vanaf die derde eeu vC gebruik is om voëls na nette of skutters
te lok. Die voëls kom gehipnotiseerd op die draaiende spieël af en kan dus
maklik afgeskiet word. Hulle sou dink, lees ons, dat dit water is, die son, of
’n swerm vreemde lewerike, of ’n nuwe aarde en hemel. Dit is dan presies wat
met die leser gebeur wat hierdie teks verkeerd sal benader. As jy dus nie die
spelreëls en al die knipogies (nudge nudge wink wink) begryp nie, gaan jy
tweede kom. Hoe ironies dat ’n voormalige student die boek reeds blinkoog
benader het. [1]
Die teks is dus
’n opgawe van wat van die moderne skrywer wat sig aan die universiteitswese
bevind, verwag word. Etienne van Heerden se Asbesmiddag was eweneens so ’n
verslag, soos Nabokof se Pnin en Lolita. Dikwels word die akademiese roman of
’n speurverhaal of ’n parodie. David Lodge is ons getuie hiervan. Tekste word
deur die tyd ingehaal of mag voortydig met modes, giere en grille flirteer.
II. Trompe-l’oeil
’n Intreerede,
’n grafrede, ’n veldwerkverslag en ’n gedenklesing speel telkens in op mekaar
sodat die grense van die verhaal as afgeslote eenheid geproblematiseer word.
Die vrou wat haar verkyker vergeet het, ’n bundel kortverhale, word eweneens
aan die vergetelheid ontruk, en die leser word telkens voor Van
Niekerk-hebbelikhede (met opset) geplaas: ou uitdrukkings, vername woorde,
Neerlandismes, toespelings, ruie verbeeldingsvlugte, en so meer. Dis hoe ek
skryf, dis hoe ek dink, dis hoe ek lees en ervaar, is die grondbeginsel van
hierdie vertellinge.
Uiteraard is
daar oëverblindery en vals bodems en ek het hierdie teks gelees saam met Mario
Vargas Llosa se The perpetual orgy wat in 1975 by Faber & Faber verskyn
het. La orgia perpetua. Lees as ’n plesier wat buite woorde bestaan, is die basiese
uitgangspunt van Vargas Llosa se siening van Madame Bovary. (Helaas het my
voetnoot vir Die Burger nie die internet gehaal nie en ek plaas dit graag as ’n
eindnota[5].) Lees as jouissance, soos Barthes en Kristeva dit benoem het, en
die leser word uiteraard toegelaat om eerder ’n scriptile as lisible lesing te
maak.
Die oog vir die
kleinste besonderheid en die spanning tussen Stellenbosch en Amsterdam is van
meet af part en deel van hierdie teks.
III. Die (ont-) blote storie
Aan ’n blote
verhaal is daar geen plesier nie, het hy beweer, dis die glipraam van die
aanbod wat tel, en die verskole tersydes. Handelinge en gebeure moet herhalend
wees, of omgekeerd of geminiaturiseerd, of verlangsaamd, of versnel binne-in
die omlysting van die verhaal. Die skrywer moet afgebeeld wees in die
vertellerkarakter in die verhaal, wat weer ’n verhaal vertel van iemand wat ’n
verhaal vertel, ensovoorts. Of andersom. Die ontwerp van die kader is die
wagwoord. Wie vertel wat vir wie, wanneer, waar, waarom, en veral hoe, dis die
punt ... (125)
Die skrywer (én
verteller) in die teks besin oor die verskillende funksies van skryf en lees.
Hoekom lees en vertel ons stories? Die siening van Flaubert, om te ontvlug uit
’n gewelddadige samelewing, kan haas nie ontken of geïgnoreer word nie. Kan ’n
skrywer enigsins die voorblad van ’n koerant troef met ’n “stranger than
fiction”-aanslag? In ’n Sondagkoerant beleef ons ’n waarskynlike huurmoord
versus ’n opgestelde huurmoord. (By ’n STIAS-kollokwium vroeër vanjaar het die
filosoof Van Niekerk ’n koerantberig gebruik om die komplekse verhouding tussen
skryf en sosiale verantwoordelikheid te bespreek.)
Verhaal 1
In hierdie teks
leer die leser implisiet van die fabrieksgeheime van die outeur, soos: dat daar
afstand geskep moet; “cut to chase”; gee aandag aan die werklikheidsgehalte;
leer hoe om skrywersblokkasies te hanteer. Deur Kasper (in die eerste verhaal)
weet ons dat daar verkykers gebruik word en die verteller gee die “dummy” van
haar eerste boek aan hom – hierin skryf hy vir haar ’n brief wat verhaal word!
By implikasie put die mentor soveel uit die student as die student uit die
mentor. Daar sal altyd intertekste in die spel kom: die eerste verhaal speel
terug op Eybers se swaan wat oor sy dubbelbeeld gekeer bly.
Ons leer dat
daar altyd ’n strikdas nodig is by ’n varkslagtery (33). Die briewe, kassette
en sand van Kasper Olwagen skep vir die mentor ’n verhaal: dit is haar ruwe
materiaal en die sand word in die sandloper geplaas wat hierdie
leser-as-aanhoorder by die Intreerede (in die werklikheid) meegemaak het. Is hy
alter ego? Is hy muse? Bestaan hy? Dit maak ten slotte nie saak nie, want die
leser leer deur hom die basiese beginsel, die verskil tussen wat ’n skrywer
moet wéés versus wat ’n skrywer moet skrýf.
Op ’n vreemde
manier het die student dus nie sy kursus gestaak nie; hy het nuwe lewe geblaas
in die fantasie van die skrywer oor sy ontmoeting met ’n vreemde persoon. Hy
het bewysstukke dat hierdie persoon wel bestaan het. Dit mag delirium wees,
dalk ’n skisofreniese uitbarsting, want die verhaal word vertel vanuit ’n
siekeboeg in Amsterdam. En die verhaal eindig met ’n gedig wat dus iets wil
vertel (of voorspel?) van Van Niekerk se eie kreatiewe versugtinge, naamlik om
terug te keer na die digkuns.
Verhaal 2
Hier is ons by
die grafrede. En ’n grafrede is per definisie die teenoorgestelde van die
Intreerede wat die lewe gedenk. Tog is ons by die dood van ’n persoon sterker
bewus van die bydrae van ’n mens as by ’n intreerede, omdat daar afsluiting en
dus “closure” is. Die grafrede, gerig aan Mevrou Oldemarkt, oor haar broer
Willem, is eweneens ’n kunsteoretiese besinning. Vir ’n tegnikus praat hy te
geleerd en kan die leser Van Niekerk as buikspreker hoor. Dit was ook my
beswaar teen Memorandum: mooi gegewe ja, maar ’n karakter wat so
filosofies-geleerd kan praat? Boonop klink al die verhale dieselfde – die
register is nie afgewissel nie.
Of is dit ’n
geval van skoenmakers loop sonder skoene?
Die verhaal
lewer sinryke kommentaar op hoe skrywers uit die lewe kaap: ”’n blik op die
verskole dimensies van die lewe” (64), of “’n Goeie verhaal is soos ’n
appelboord wat gevind moet word in die digte newels van die taal” (71), verneem
ons in die relaas van Willem aan die oorledene se suster. Dit gaan hier om die
kuns as “skoonheidstroos” en die vertolking van die ontslapene se kunswerk én
kunssiening. Dit is dan ’n verhaal oor dubbele verlies: die dood van die vriend
wat sy verlange na ’n beeldskone meisie probeer vergestalt het. Die verhaal
wentel rondom die spanning tussen stilte en perkussie (slagwerk).
Thys Human
betrek die aanhaling op bladsy 79 om die kraaines van verlange te beklemtoon
[3]. Die ambivalente verhouding met die skryfobjek word hier uitgewerk: sonder
haar is hy ’n droogdok, met haar kan hy nie anders as om obsessief elke emosie,
elke beweging te noteer nie. Maar, die verhaal is ’n konterfeitsel as ons op
bladsy 94 ’n ander perspektief vind: die verhaal is ’n verdraaiing van ’n
gay-obsessie oor ’n buurman wat afgeloer is. Skrywerskap word so gelykgestel
aan leuen en voyeurisme. Teen die einde van hierdie verhale is daar ’n
inbuiging na die ander verhale in die boek – wat ons bring by Verhaal 3.
Verhaal 3
Dit is die
titelverhaal en Helena Oldemarkt stuur ’n gedig (vertaling!), ’n brief,
transkripsies (weliswaar geredigeer) oor ’n hawelose aan ene professor
Sprinkhuizen. Hy is die direkteur van die Landelike Onderzoeksteam Onbehuisend
in Amsterdam. Sy is ’n doktorale student wat besig is met navorsing en hier
lees ’n mens ’n kritiese kommentaar op wat navorsing vir ’n skrywer behels: jy
vertaal, jy redigeer, jy stuur briewe, jy staan onderhoude toe …
Ons het ’n
verhaal oor hobo-spotting, en die noukeurige beskrywing van Amsterdam as stad
neem die leser terug na die eerste verhaal waar die mentor dit duidelik stel
dat ’n skrywer nougeset moet waarneem. Die clochard is ook digter en dra
dramaties sy tekste voor wat Helena opneem. (Die verhaal speel in op die eerste
verhaal met sy opnames en kassette.) Die verhaal gaan eweneens terug na die
vertelling: Helena se kommentaar oor haar broer, Willem die skrywer wat, nes
sy, ’n voyeur was/is. Karakters beweeg na volgende verhale en die migrasie van
karakters is kenmerkend van ’n selfrefleksiewe teks wat die ontologiese grense
tussen verhale bevraagteken. Die verhale se grense is dus vol openinge en met
elke nuwe optrede kry ’n karakter ’n nuwe narratologiese fiksie. Alles stroom
deur grens en eeu aaneen.
In hierdie
verhaal word daar eweneens besin oor die rol van die digkuns en die begeerte om
eerder digter as romansier te wees. Hierdie clochard praat poësie (“ek is van
wêreldrampe alleen maar seremoniemeester”) en soos Simenon se boemelaar is hy
ingelig en intelligent.
En in Memo 12
het ons die essensie van die skryfkuns: die glipraam van die aanbod, die
verhaal-binne-die-verhaal, die omkering van verhale, die versnelling, die
omlysting, en dies meer. Die ouroboros-beginsel: die begin sluk die einde in
(soos dit in hierdie boek gebeur) en niemand staan ooit op vaste grond nie
(125).
Hierom is Alice in Wonderland ’n interteks, soos Zen en Rumi.
Die vertellinge
illustreer die beginsel van liminaliteit, omdat tekste inspeel op mekaar en ’n
herlesing of herkyk (vide die verkyker as motief in die boek) opeis. En hierdie
vertelling lewer implisiete kommentaar op familieskap: wat dit beteken om
oewerloos te wees en sonder die sekerhede van ouers of ’n ondersteuningsisteem.
Is die sneeuslaper werklik wie hy voorgee om te wees?
Die verhaal –
veral na die uitstalling van die fotomateriaal – neem ons terug en die einde
van hierdie verhaal aktiveer Aucamp se siening dat ons geduldig ryp word vir
ons slotte. Dit is ’n verhaal oor verlies, oor eindes.
En slotte is dan
ook sleutels, wat ons neem na die slotverhaal.
Verhaal 4
Oor vriendskap
handel hierdie verhaal wat aangebied is as ’n gaslesing, en meer spesifiek, die
Albert Verweygedenklesing. Hierdie verhaal bou die spanning tussen Amsterdam en
Stellenbosch verder uit. Weer eens word ons teruggeneem na die reeds geskrewe
tekste: oor die verantwoordelikheid van fotografie (dit waaroor daar so pas
besin is) en die kwessie van mimesis, poësis en parodie. (Van Niekerk parodieer
ook haar eie skryfstyl en manier van vertel.) Die skrywer se politieke
verantwoordelikheid (veral in die tagtigerjare) kom aan bod en hoe moeilik dit
nou is om teen die heersende orde in opstand te kom. Die skrywer in sy
ivoortoring, die invloed van musiek, filosofie, die werklike Van Niekerk versus
die fiksionele Van Niekerk word hier geproblematiseer.
Ons dink aan
Derrida se essays oor vriendskap. En beteken vriendskap dat jy alles moet
opoffer? En selfspottend (wanneer mense huisvesting gebied word) blyk l’art
engagé ’n ongemaklikheid te wees.
IV. Memoranda
Dit is ’n boek
wat uitdagings stel. Dit hou waarskynlik soms te lank aan en die ruie
vertellings speel inderdaad met feit en fiksie soos Crous aandui [1]. Dalk is
die politieke systappery opsetlik; ’n beswaar wat Visagie aanroer [2].
Verder is die
romantisering van die kuns, ’n o so verhewe bedryf, plek-plek te dik
aangesmeer. In die bundel is daar baie Amsterdam en baie Stellenbosch, maar
van plekke soos Karatara en Khayelitsha lees jy feitliks niks nie. Ook die
boemelaars is uitstalstukke vir estetiese verwondering en nie allereers
sosiaal-ekonomiese gemarginaliseerdes nie.
Tog lewer die
boek wel politieke kommentaar. Dit is inderdaad ’n moeilike terrein, soos Human
aantoon, omdat dit deur geleerdes al snuif getrap is [3].
Langs die kluif
romans wat besin oor skrywerskap neem dit ’n plek in. Veral JM Coetzee se
Elizabeth Costello is ’n duidelike gespreksgenoot. Die leesversperrings is met
opset; die outeur noop jou om terug te keer, by herhaling, te besin, eerder as
om net troos te vind in ’n gladde, tekstuurlose verhaal. Die ryk tekstuur is
waarskynlik hierdie boek se krag én ondergang. By tye selfkoesterend, oordrewe,
maar dis beslis nie ’n teks wat jou sal koud laat nie.
Die teks kan ten
beste met ’n kaleidoskoop vergelyk word: dieselfde vertelling vanuit ’n ander
perspektief, dieselfde karakters met ander name, dieselfde skryfproblematiek
oor die werklikheid, oor verbeelding en die rol van die skrywer as openbare
figuur, kom hier aan bod.
Daar ís lewe na
Agaat!
Eindnotas
[1] Marius Crous
as voormalige student van Van Niekerk resenseer dit in Beeld: “Vernuftige en poëtiese spel met feite”, fiksie, 22 November
2010.
[2] Andries
Visagie resenseer die roman in Die Burger:
“Bruisende talent”, 22 November 2010.
[3] Thys Human
resenseer die roman in Rapport:
“Welluidenheid van wegglydende woorde”, 6 November 2010.
Dis ’n verhaal
oor ’n jong perkussiespeler wat ’n beeldskone Asiatiese meisie ontmoet, maar
dan deur haar verlaat word en gevolglik sy tromstel uitbou met alles wat
bespeel kan word om dié verdwene geliefde voor te stel: “Sy hele kamer het hy
omgebou in ’n slagwerkinstallasie, buise, glase, sade, skulpe, opgehang aan
toue kruis en dwars en elke dag daarin geklim soos in ’n takelwerk en dit
saggies aangeraak, asof om haar, wat versink het in die kim, tog nog aan die
vaar te kry na daardie eiland waar die liefde altyd duur, ’n land van
somernagte, en hy die bootsman in die kraaines van verlange.” (79)
[4] Cilliers van
den Berg resenseer die roman in Die
Volksblad: “Die sneeuslaper ’n pragtige boek”, 22 November 2010.
[5]
Voetnoot Die Burger, 11
November 2010:
Die meeste
lesers is bekend met Mario Vargas Llosa se fiksie. Sy studie oor Marquez en die
rusie tussen hulle is sedert die bekendmaking van die Nobelprys vir letterkunde
afgestof. Sy werk as letterkundige verdien ook vermelding en sy studie oor Flaubert: The perpetual orgy (1975) en
in Engels eers in 1986, is ’n besondere imposante werk.
Hy reageer op
Flaubert se lewe, sy briewe, skryfdrang, reise en verklaar waarom hy Madame
Bovary so ’n belangrike roman vind. Ons kom veel te wete van Llosa wat bely hoe
hy as jong mens soos ’n kannibaal boeke verslind het. Oscar Wilde se stelling
dat Lucien de Rubempré se dood vir hom ’n groot drama was, ervaar hy as ’n
letterlike werklikheid. Romankarakters kan jou lewe verander en die eerste
afdeling heet: “An unrequited passion”.
Hy wys hoe felle
kritiek van twee vriende op ’n manuskrip Flaubert se siening van die skryfkuns
dramaties verander het.
“Ons dink jy
moet die boek in die vuur gooi en nooit weer daaroor praat nie,” was hulle
striemende kommentaar.
Of Du Camp en
Bouilhet gelyk had, is nie ter sake nie. Dit het Flaubert so aangespreek dat hy
hierdie klassieke roman vir ons gelewer het.
Llosa se studie
waarin nie geskroom word om sy eie reaksie te registreer op ’n boek wat hy
telkens herlees nie, herinner aan Vladimir Nabokof se Cornell lectures (1980)
waarin daar ook etlike tersydes is oor die invloed van die roman op sy lewe:
beide Madame Bovary en Lolita het morele reaksies ontlok. So gesien, word
hierdie studies nuttige kompendiums om twee groot skrywers se siening van skryf
en letterkunde te begryp.
Llosa bely hoe hy die stadig-bewegende romans van
Henry James nie kon lees nie, totdat hy ’n essay van James oor Flaubert gelees
het wat sy siening van James verander het.
Groot
letterkunde, voer Mario Vargas Llosa aan, is ten slotte altyd gevaarlik. So ’n
boek wys vir die leser hoe óntoereikend die lewe se wette en voorskrifte is. In
sy transformasie van die lewe tot kuns is vorm uiteindelik die grootste
verdediger téén die lewe.
In ’n brief bely
Flaubert (5 Oktober 1856) dat sy roman méér vertel van sy geduld as van sy
talent; méér van sy werketiek as van talent. Mario Vargas Llosa herskryf
hierdie opmerking met die volgende woorde: “His genius is wrought of patience;
his talent is the work of labor alone.”
In Afrikaans is
DJ Opperman se briljante Digters van
dertig waarskynlik die beste voorbeeld van ’n skrywer wat alles gebruik om
ander digters se werk te begryp en oop te maak.
En die titel van
Llosa se studie?
In ’n brief aan
Mademoiselle Leroyer de Chantepie: “The one way of tolerating existence is to
lose oneself in literature as in a perpetual orgy” (236).
Daardie brief
van 4 September 1858 klink nog steeds tersaaklik, omdat Flaubert (soos vele
skrywers) voortdurend in stryd was met die lewe. In ’n aktiewe polemiek, soos
Mario Vargas Llosa dit klinkend stel.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Litnet
geplaas.]