Daniel Hugo. Die panorama in my truspieël. Protea Boekehuis, 2009. ISBN 978 1 86919
296 9.
Resensent: Joan
Hambidge
I.
Daniel Hugo
beklee ‘n uitsonderlike posisie binne die Afrikaanse digkuns. Hy het veral die
vernufsvers ontgin en besondere hoogtes bereik met die limerick, die speelse
vers en slim toespeling. My gunstelingbundel is Skeurkalender. Maar daar is ook te midde van die speelse en vernufsvers, ‘n
sterk melancholiese draad wat deur sy digkuns loop. Enersyds speels, andersyds
seer.
Verder is hy ‘n
voortreflike vertaler en dikwels herdigter. Veral sy vertalings van Herman de
Coninck is uitstaande. Dit moet steeds as ‘n vraag gestel word: waarom is Hugo
se vertalings nie in Groot Verseboek opgeneem
nie, terwyl ander vertalers wel gekanoniseer is?
Vir die
digkuns-liefhebber is sy keuses uit die werk van Ina Rousseau en Olga Kirsch
eweneens belangrike versamelings. En ook die werk van Philander benader hy met
sorg. Hugo is ‘n kundige letterkundige en veral sy werk by RSG en sy vele
onderhoude met skrywers, is van uitstaande gehalte.
Sy jongste
bundel heet Die panorama in my truspieël uitgegee deur Protea met ‘n voorbladontwerp na ‘n foto van
George Hugo, die digter se seun, en versorg deur Hanli Deysel, wat werklik mooi
voorbladontwerpe maak. Die redakteur was die uitstekende Martjie Bosman.
II.
Die bundel begin
met ‘n motto van De Coninck waarin die verhouding tussen die tydelike en ewige
uitgespeel word met ‘n voorkeur vir die tydelike.
In die
programgedig word die afwysing van die metafisika op ‘n komplekse wyse beskou.
“Voyeur” (7) beweer dat God sy rug op ons gedraai het, maar kyk via die maan,
‘n kosmetiese spieël, na ons:
wat hy daarin
sien, sal hom nog ‘n eeu
of so plesier
kan gee en dan finaal laat gru –
mens sou dink
God is ‘n digter: hy leef per-vers.
Tog is God nie
afwesig nie. In ‘n winterkwatryn (28) lees ons:
II
takke knak en
dakke kraak
in die noordwes
wat loei:
god is weer met
‘n swaar hand
dié seisoen aan
die snoei
Dit is egter ‘n
God met ‘n kleinletter. In “Grootdruk” 30, opgedra aan George Weideman wat
weens sig-probleme in groot font moes skryf, word die verhouding met God ook
uitgespeel:
God rangskik
versreëls
oor die vlakte –
ry op ry
lê inkblou berge
In “Mossie en
mens” (55) word God se kosmiese simfonie beskryf.
Die verhouding
tussen gedig en lewe is bekende tema in Hugo se werk met die gedig as
afbeelding of “glancende kiemzel” (Vestdijk). Die leser word dus gerig na die
vers se bindmiddele en tegnieke word behendig uitgestal. In ‘n gedig vir
Eybers, “Sonland”, word die verhouding tussen Afrika en Europa beskou met die
wete dat die digter in sy taal gevange gehou word aan Afrika. Die slot aktiveer
ook G.A. Watermeyer se bekende gedig en die digter maak hier die teks oop na
ander gedigte waarin die verbintenis met taal en identiteit beskryf word.
Eybers se afstand/verbintenis-spel word eweneens hier geaktiveer.
Die digkuns is
‘n obsessiewe proses, een waarna die digter vlug (“die donkerkamer van die
digkuns”, “Filmologie”, 11) en die gedig is uiteindelik ‘n proses waardeur sin
gemaak word en al wat sin maak.
Die ontginning
van woorde se betekenisse, soos in “Die hakkelaar” 12, ‘n vers oor Barrie
Hough, werk behendig rondom die leser se mede-skrywing van wat tersaaklik is.
In Roland Barthes se terme word die leser dikwels genoop om ‘n scriptible
(writerly)-lesing van die gedig te maak. ‘n Goeie gedig hoef dus nie ‘n
filosofiese steling te maak nie; trouens, die gedagte-inhoude is dikwels maar
aan die dun kant (“Sinne en sin”, 13), maar die spelende, saam-digtende leser
lees nie vir filosofiese waarhede nie.
Klank en ritme
en beeld is dus vir die digter Hugo waarom dit gaan, hoewel hy in die vers die
verskillende maniere van doen erken.
Vir my is die
skitterende “Loflied op die letterkunde” (20) ‘n hoogtepunt in Hugo se oeuvre
en dit is nou onlangs tereg in Die Burger
aangehaal op Wêreld-Boekedag. Hy wys in hierdie gedig op al die foute en
vergissings, die stommiteite en leuens. Maar die gedig dekonstrueer die vorige
stelling dat ‘n gedig nie ‘n filosofiese waarheid hoef uit te dra nie! Hierdie
gedig lewer felle kommentaar op die traak-my-nie-agtige houding rondom die
letterkunde wat alte maklik op pad is na ‘n pulpfabriek.
III.
Kemerkend aan
Hugo se digterskap vind ons telkens woordspel (Poseidaan) en ‘n ontginning van
die haikoe-vorm in ‘n handvol mooi gedigte. “Blanko blad” (27) vra vir ‘n
saamlees met Opperman se Kuns-mis, onder andere.
Daar is winterkwatryne wat goed werk en Hugo se vernuf is telkens by sodanige
vorme opvallend. Sy bemoeienis met die digterskap word uitgespeel in “Lees by
lamplig” (33) waar die digterlike woord as onskadelik gesien word. In
“Bestemming” (34) word die titel geaktiveer en word die digterlike proses dan
weer as gevaarlik gesien. Die digter is ‘n klein god wat skep en gedigte lewer
kommentaar op vorige verse of laat dit
verval (“met dit gedicht…). Daar is dus verse wat kommentaar lewer op die
proses en die eise wat dit aan die digter stel (“Kortsluiting”, 42 en “Toe en
nou”, 44).
Daar is lykdigte
en reisdigte aanwesig in hierdie bundel. En humoristiese verse oor ‘n kat soos
Ogden Nash dit kon doen.
IV.
Daar is egter
verse waar die blik in die truspieël dof en flets is. Hierdie leser dink ‘n
vers soos “Verdubbeling”(45) illustreer dit by uitstek:
snags terwyl die
naakslakke
op die sitkamer
se mat
blink spore maak
doen ons op die
dubbelbed
(ná ‘n paar
doppe)
ons eie
slakding: naak
Die herhaling
van die woord naak, is hier onfunksioneel. Die gedig hou dus geen verrassing in
nie. Hierdie soort spel eis veral die onverwagse rym of wending op. Dieselfde
geld ‘n gedig soos “Naak” (46). “Paradyskloof” (47) kom eweneens nie verby die
voor-die-hand-liggende nie, ofskoon die beeld van die tarentale se geskree wat
soos ‘n geroeste swaai klink, ‘n oomblik van vervreemding of ostranenie skep.
Trouens, Hugo
het al vantevore knapper en vaardiger gedig oor ‘n onderwerp soos “Huwelik”
(39).
V.
In die sterk
slotvers “Die lang pad” (64) is die digter besig met ‘n bestekopname:
jy word gedwing
om ‘n palindroom te versin:
begin is
bestemming en bestemming is begin.
Die tyd het
geleer dat ‘n digter dikwels met ‘n mindere bundel uitkom by ‘n sterker bundel.
En hopelik is die volgende bundel sonder mis op die truspieël.
Hugo se
digterskap is een van vernuf én spel. André P. Brink het jare gelede Hugo se
digterskap met ‘n kamerorkes vergelyk. En dis hoe ‘n mens hierdie oeuvre moet
benader en waardeer.
Bronne:
Roland Barthes: S/Z/ An essay. Hill and Wang, New York. 1970/1974.
Daniel Hugo: Speelse verse. Tafelberg, Kaapstad. 1988.
Relevante samestellings:
Olga Kirsch: Nou spreek ek weer bekendes aan. ‘n
Keur 1944-1983. Human en
Rousseau, Kaapstad. 1994.
P.J. Philander: ‘n Keur uit sy gedigte. Tafelberg, Kaapstad. 1996.
Ina Rousseau: Die stil middelpunt. Human & Rousseau, Kaapstad.
2003.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]