Tom Gouws. Ligloop. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 780798 15239 6.
Resensent: Joan Hambidge
Die titel Ligloop aktiveer om in die lig te loop, dus spiritueel te wees en
om versigtig om te gaan met die gegewe in hierdie bundel. Reeds in die
programgedig word die leser gemaan “trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde
loop” (“he wishes for the clothes of heaven”, 11). Die motto uit Bakhtin (“We
are the voices that inhabit us”) aktiveer die gesprek met T.T. Cloete en Antjie Krog. Daar is ‘n gesprek
met Achmatowa en Sergei Esenin wat ‘n gesprek met die Russiese letterkunde
oopmaak.
Yeats word herskryf – met sukses, en ‘n gedig oor Johannes Kerkorrel
tree in gesprek met De Lange se vers en die liedere van die sanger. Die Bybel,
veral Elia, verskaf ‘n ander ryk voedingsbron waarop die digter teer. Die spel
met die Afrikaanse digkuns en die WVK word in ‘n wrang distigon van Watermeyer
beskryf: “elia en die ou boereplaas” (73).
(Trouens, dit sou ‘n fassinerende ondersoek wees om al die motto’s en
verwysings te aktualiseer.)
Cloete se klassieke vers “Die vroue van Vermeer”
word deur Gouws “vermeerder in vers”. Krog se Jerusalemgangers word herbesoek via J.P. Claasens se studie oor
hierdie trekkers. Breytenbach se “allerliefste” word nou in die kuberruim
aangespreek en in ‘n distigon, “elia en die ou boereplaas” (73) word die
profeet Elia ‘n masker vir Gouws se blik op die Afrikaanse letterkunde en die
siening van die plaas. In ‘n wrang “aftelrympie” word die bloedige verloop van
die land se geskiedenis weergegee met die onthutsende slot via Peter Blum:
allesverloren.
Daar is vele motto’s by gedigte en
Van Wyk Louw open die religieuse dimensie in hierdie bundel wat in sterk
kontras staan met die verwysings na die politieke en aktuele wat soos ‘n
fyndraad (of lig?) deur die bundel skyn.
En ook Eybers is hier in sowel ‘n
vers wat aan haar opgedra word en in daardie bekende spanning tussen die man en
vrou. Die webbe roer hier en die leser word telkemale bewus van die gedig wat
uit die self spruit. Gouws is bewus van die self as ‘n konstruksie en die spel
met die “wisseling van lywe” word behendig volgehou: soms in die skoene van
Vermeer, dan as diensmeisie, dan as Elia, soms net as digter of méns. In ‘n
“wyding”, ‘n liefdesvers, word die geliefde ‘n vers gegee waaruit sy eendag
moet put:
eendag as jy oud is en saggies met
jouself praat, en bewe,
en die tou te kort word vir die skep
uit putte van herinnering,
vat dié vers, geliefde, lees dit weer
as onvoldoende wyding
van ‘n digter wat na woorde soek vir
die diepgang van ‘n lewe.
Soms is die self ‘n kleitablet, ander
kere ‘n sakrament.
Titels van bundels en gedigtitels is
in kleinletters en die verse getuig van ‘n streng tegniese beheer. Die beelddig
is veral in Afrikaans deur Johan van Wyk met Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978), verrassend ontgin.
Cloete se Marilyn Monroe-verse bly eweneens bakens hier. Dit is ‘n ryk
geskakeerde bundel bedoel vir die ernstige poësieleser.
Woordspel, flink ryme,
eksperimentering met vorme maak van hierdie bundel ‘n genoeglike leeservaring.
Veral die verse oor Vermeer is aangrypend. Die bundel nooi eweneens ‘n
psigoanalitiese lesing uit via Lacan veral met die verwysings na spieëls, die
camera obscura, meniskus, en studies oor die betekenis van simbole (soos die
leeu) in die skilder se werk. In ‘n gedig “advent” (44) word die self
genadeloos bekyk. Die twee hooftemas in die bundel word goed teen mekaar
afgespeel in ‘n gedig oor Moeder Theresa se nalatenskap en Vermeer se
bankrotskap. Die speelse vind ons hier in ‘n klein juweel:”resep vir sinlike
soesji”(53).
In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002.
Ligloop is ‘n bundel oor die
“verskeie teksture van die landskap van die self”, soos die digter skryf in
“die geograaf” (29). Die invloed van D.J. Opperman en die maskers van die
digter word aanskoulik geïllustreer in die slot gedig wat ons as ‘n visioen kan
lees.
Die verwysings is goed verwerk en
vorm en inhoud word één in hierdie ontroerende bundel.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]