Monday, February 4, 2013

Lourens Fourie - Leuens en ander liegstories (2007)



Lourens Fourie. Leuens en ander liegstoriesLapa, 2007. ISBN 97807993 4076 1.

Resensent: Joan Hambidge

Stel jou ‘n lewe sonder humor voor? Trouens, die sogenaamde ‘lag met die traan’ het ons al almal deur donker dae gedra en in my biblioteek staan ‘n galery van groot humoristiese skrywers met Woody Allen as die koning.

Sy werk as gehoorkomediant is waarskynlik net so kragtig as sy snaakse rolprente.

Natuurlik is daar verskillende vorme van lag. Die uitbundige uit-jou-maag-uit-lag versus die lip-op-‘n-plooi-trek-glimlag. Lag kan ook venynig en ten koste van iets / iemand wees as ons Freud glo in Grappe en hul verhouding tot die onbewuste.

Wys my waarvoor jy lag en ek sal jou vertel wie jy is.

Die ergste van erg is natuurlik wanneer ‘n mens ‘n grap of anekdote vertel en niemand lag nie. 

My versameling Truly Tasteless Jokes wat op elke stereotiep en afwying gemik is, neem lag na die kader van die onbehoorlike. Hoeveel grappe sirkuleer nie ná ‘n skandaal of ellende nie? Jurie Els is ‘n Springbok in Kleilat en nog veel meer…

Dan is daar die fyn spothumor van Dana Snyman en Blou Willem wat soms in die kol is.
Verder terug ‘n koning in Afrikaans: Jan Spies.

Hier is snaakse uitdrukkings soos “so gespanne soos ‘n sendeling in ‘n escort agency” (p. 68) in ‘n verhaal “Die dal van doodskaduwee” wat vir hierdie leser onsnaaks bly ten spyte van die poging om snaaksighede op te stapel.

Kennelik wil die outeur ‘n ouwêreld bewaar: nagmaal, dominee Lentegeur, ‘n piekniek, jongetjies en nooientjies (p.20) oor ‘n boerbok wat onmin saai. Dalk snaaks vir diegene wat daar was, maar vir die leser bly humor se skietbevel hier uit.

Natuurlik is daar ‘n verhaal oor ‘n nagkar wat weer Oom Kootjie Emmer aan die vergetelheid ontruk. Hier is dit ‘n rooftog waar die nagkar aangesien word vir ‘n geldwa. 
Skoolinspeksie, ‘n verwysing na ‘n kroeg vind ons ook hier.

Wie weet nog wat is ‘n aanpassingsklas?
Of Zephyr-6?
Doekpoeding?
Kennetjie?

Die fantasie rondom ‘n baber herinner aan Herman Charles Bosman se slang wat die kerk verlaat het wanneer die dominee oor die sondeval preek. In “Oom Bertie se baber” word die baber deel van die bestaan (liegstorie en oordrywing, vanselfsprekend) en dit is een van die sterker wolhaarstories. 

Besluit self of Lourens Fourie se boek met jou praat. Dis kennelik gemik op die soort leser wat op ‘n nostalgiese reis wil gaan en die goeie ou dae wil onthou.

Die eerste was Sowaar as vet (2005). Hy skryf lirieke onder andere vir Thys die Bosveldklong.

Vir hierdie leser het die meeste verhale ‘n klein suinige glimlaggie ontlok. Ja selfs oor die vegetariese krokodil.

En die voorblad is werklik niks om oor huis toe te skrywe nie, sowaar as wat padda manel dra.

Bestel by lapa@atkv.org.za

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]