Friday, February 8, 2013

Margaret Atwood - Moral Disorder (2006)



Margaret Atwood. Moral Disorder. Bloomsbury, 2006. ISBN 07475 8162 2.

Resensent: Joan Hambidge

Margaret Atwood is die grande dame van die Kanadese letterkunde. Sy is voortreflike digter, uitstaande romanskrywer, gesogte kritikus en essayis. Haar romans – vanaf Cat’s eye tot The Blind Assassin (bekroon met die Booker) en Oryx and Crake – is bakens binne die Engelse letterkunde. Daar is gevoel dat sy vir die verkeerde roman bekroon is met die belangrike Booker-prys. Feit is, Atwood is soos Salman Rushdie: jy kan gewoon die Engelse letterkunde in al haar koloniale en post-koloniale gedaantes nie sonder hulle voorstel nie.

Die jongste roman heet Moral Disorder wat bestaan uit ‘n reeks kortverhale of stories wat ook as ‘n “roman” gelees kan word. Nou onlangs het Harry Kalmer se Groceries , ‘n versameling kortverhale, gepubliseer waarin die verhale eweneens inspeel op mekaar.

Sedert die sestigerjare het veral Amerikaanse skrywers begin eksperimenteer met kortverhale wat as aparte entiteite gelees kan word (Richard Brautigan o.a.), maar wat binne ‘n ander verband as ‘n roman getipeer kan word.

In Afrikaans het Chris Barnard se Duiwel-in-die-bos elemente van hierdie spel vertoon waar verhale kodes oordra na volgende verhale – die sogenaamde “eenheidsbundel” dan, ‘n voorloper van die postmodernistiese roman.

In Moral Disorder word elf verhale saamgesnoer.  In die uitgewersnota word die beeld van ‘n foto-album gebruik om die roman se aard op te som. Hierdie komplekse versameling waarin die toevallige oomblik en die geposeerde moment vasgevang word, is ‘n tersaaklike beskrywing vir hierdie boek. Daar is al veel geteoretiseer oor foto’s en die betekenisse van die medium. ‘n Mens dink aan Roland Barthes se konsep van die pinktum of punt van die verhaal; of Sontag se On Photography waarin sy die moraliteit van die foto bespreek: hoé regverdigbaar is dit om iemand sonder sy wete af te neem? Die  voorblad intimeer dat dieselfde persoon met verskillende klere ‘n ander rol vertolk.

Vir die skrywer is dit ‘n relevante vraag: mag private oomblikke in verhale gekaap of vasgevang word?

In “The Art of Cooking and Serving”  word ‘n verhouding tussen moeder en dogter geanaliseer.  Die kind se opstand teen die moeder – wat in geweld uitloop – het sowel skokkende selfontdekking tot gevolg as ‘n paradoksale bevryding tot gevolg.

Atwood gebruik hierdie intiem-vroulike aspek van die kombuis en laai dit met feministiese bevryding: die wegbreek van die konvensionele rol wat beteken dat die kind die moeder se rol moet kritiseer. Terselfdertyd verloor die dogter iets in haar kritiek op die moederfiguur. Atwood neem nooit ‘n “politieke” stelling in nie; sy plaas mense in komplekse lewensituasies waarin keuses, na watter kant toe, pynlike gevolge inhou.

Daar is min skrywers wat jeugervarings en die sadisme van kinders so goed kan verbeeld as Atwood (“The headless horseman”). Haar aangrypendste roman in my boeke bly Cat’s eye (1988) , die verhaal van Elaine Risley, ‘n suksesvolle skilder wat vyftigjaar oud is, terugkeer na Toronto en met jaar jeug wil vrede maak. ‘n Retrospektiewe uitstalling in die galery, Sub-versions, neem die leser na ‘n ander proses wat onder die oppervlakte skuilhou, te wete die emosionele leed wat sy aangedoen is as kind deur drie ander dogtertjies, by name veral deur Cordelia. Atwood analiseer die lewens van kinders tussen agt en twaalf op ‘n onthutsende wyse, maar veral wys sy vir die leser hoe onbetroubaar ons geheue is en hoe ons dikwels lewenslank letsels dra van dit wat ons meen ander aan ons gedoen het.

In ‘n onthutsende analise van die huwelik en die effek van skisofrenie, of  ‘n dergelike afwyking, van ‘n kind, word meesterlik geanaliseer in “White horse”.

Haar oog vir die kleinste besonderhede waarin ‘n huis beskryf word (“The entities”) speel in op die leser se begrip van wat gebeur tussen twee mense se verblyf en vertrek uit ‘n huis en die aanwesigheid van “spoke” of entities.

Hier word ‘n soort sardoniese humor ingebou: die huis kan met sy “entities” geadverteer word as ‘n bate.

By Atwood is daar nooit ‘n maklike oplossing nie. “The Labrador Fiasco” eindig soos volg:

“We’ll be fine,’ he says, but he sounds dubious. He doesn’t trust me, and he is right” (p. 231). 

Die vertellinge gee ‘n chronologiese ontwikkeling weer: van jonk wees tot ouerword met ‘n kind wat haar moeder se foto-album deurblaai om agter die kap van ‘n emosionele byl te kom (“The boys at the lab”):

“My mother loves happy endings. Earlier in her life – earlier in my life – any story that didn’t have such an ending was shelved by her as quickly as possible. I try not to repeat any of the sad stories” (p. 246). Dikwels met die wete dat die verhaal tussen foto’s lê.

Grepe, momente, vinjette uit Nell se lewe (met haar teenspeler Tig) vorm die basis van die elftal verhale. Ook dit wat uitgelaat word, moet die leser invul. Vir my persoonlik is die jeugervarings die sterkste, omdat Atwood ‘n métier het om die psige van die kind, in sy volledige skuldige onskuld, weer te gee.

Atwood is ‘n uiters produktiewe skrywer, vertaal in ander tale, bekroon in Kanada, Engeland en in Italië.

Sy erken in die nawoord dat Graeme Gibson, haar lewensmaat, ‘n roman begin het met die titel en dit aan haar geskenk het! Hoe sou sy onvoltooide roman daar uitsien?, wonder ‘n mens. En hier, meen ek, lê ‘n ander verhaal opgesluit oor die verhouding tussen twee kreatiewe persone wat saamleef en die een wat ‘n titel (boedel oorgee?) oorhandig aan die meer bekende en suksesvolle skrywer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]