Monday, February 4, 2013

Erika Murray-Theron - ‘n Tapisserie met klein diere (2007)



Erika Murray-Theron. ‘n Tapisserie met klein diere. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 978 0 624 046 18 9.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Tapisserie met klein diere deur Erika Murray-Theron het die Sanlam/Insig-romanprys verower. Ondertussen het twee resensente gebrom oor die postmodernistiese aard van die roman en een het selfs opgemerk dat die roman niks nuuts bybring in hierdie genre nie (“Ragfyn web van gesin-intrriges bevat ook slordige knope”, Beeld 16 Maart ).

En meen Jaybee Roux, ‘n populistiese skrywer, dat sy minder blatant te werk moes gaan as sy ‘n postmodernistiese roman wou skryf.

Sou ‘n mens Donald Barthelme wou versoek om subtiel te skryf? Is dit nie juis in die aard van hierdie soort roman dat stylbreuke, hiate, herhalings aan die orde van die dag is nie?
Die roman titel ‘tapisserie’ dui alreeds op ‘n weefwerk en in die klassieke letterkunde is die sogenaamde fout in die weefwerk juis daar om die outensiteit te verhoog.

Vir my skep die roman egter ander probleme. In vergelyking met haar vorige roman, Verblyf, wat op ‘n hoogs intelligente en leesbare wyse die komplekse kwessie van die ekspat aangespreek het, vind hierdie leser dat ‘n Tapisserie met klein diere net té vlot geskryf is. Die roman kort tekstuur en die komplekse kwessie van die Freudiaanse familie-romanse word nie genoegsaam beleef nie.

Die postmodernistiese aard van die roman is dus nie vir hierdie leser problematies nie, maar eerder die gevoel dat die verhouding tussen die familielede nie genoegsaam ontgin word nie.

‘n Familiebyeenkoms is uiteraard ‘n emosionele gebeurtenis, omdat daar soos hierdie roman aantoon,  onder die opppervlak demone en duiwels skuilhou. Tog word daar te veel verteltyd afgestaan om beuselagtighede aan die leser oor te dra soos in Stiltetyd.

Waar daar wel konfrontasie plaasvind – onder andere tussen Dorothea en Driessen – word dit met geweldige emosionele oortuiging gedoen. Terseldertyd word die onthulling rondom Alet se dood, eweneens aan die been gevoel. Vir my gevoel wou die werklike outeur té veel kwessies aanspreek: selfmoord, tronkstraf, buite-egtelike verhoudings, ‘n ander rasverhouding, vermeende gaywees sodat die leser al die drade vervaard moet saamknoop. Die titel ondervang weliswaar só ‘n beswaar.

Karakter, weet ons uit die moderne narratologie, word deur aksie gekenmerk. En karakters in boeke is “mense van papier”. Dikwels word karakters nie genoegsaam beskryf nie, behalwe vir Driessen wat die leser werklik kan sien. Nou goed: dit kan ook op die rekening van die skrywende aksie in die roman geplaas word wat besig is om die teks te skep en dat ons nog nie die voltooide teks beleef nie.

Ek dink nie dat die werklike outeur (‘n vrou) altyd daarin slaag om die binnespraak van die manlike skrywer / waarnemer suksesvol weer te gee nie.

Verder: die mening oor hierdie boek sou minder fel gewees het was dit nie vir die feit dat dit bekroon is met die Sanlam/Insig-romanprys nie. Hierdie prys is al deur Dan Sleigh se Eilande verower. Alexander Strachan se Die jakkalsjagter, eweneens ‘n metaroman soos Tapisserie, het ‘n romanprys losgeslaan.

As dit die oortuigendste /beste/eerste/indrukwekkendste roman was, sou ‘n mens eerder nie die prys moes toeken nie.

Dit is nie Erika Murray-Theron se beste boek nie en sodanige bekroning vra ernstige vrae oor die pryssisteem en die feit dat BoekeInsig nou met hierdie boek op toer gaan.
Op die voorblad van BoekeInsig verneem ons ‘Toe Harry en Erika ontmoet – twee groot wenners in gesprek’.

Daar is ‘n plek vir die lekkerleesroman, maar nie as ‘n voorstelling van ‘n pryswennende roman nie. Die skrywer word hierdeur ‘n onguns bewys en die leser word mislei.  Skryfstandaarde word aangetas.

Sou die Booker byvoorbeeld gewen word deur ‘n populistiese skrywer?

"Unputdownable" soos Harry Kalmer beweer? Hokaai.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]