Louise Viljoen. Ingrid Jonker. Jacana, 2012. ISBN
Resensent: Joan Hambidge
Sopas het daar ‘n studie oor Ingrid Jonker by Jacana verskyn in ‘n reeks waarin kenners oor ‘n bepaalde persoon of denkrigting skryf.
Een van die mees mitologiese digters in Afrikaans is waarskynlik Ingrid Jonker. Sylvia Plath en Anne Sexton se lewens (en digkuns) skep eweneens dieselfde probleme. Hoe lees jy die gedigte los van die digter se lewe? Ons ken Alvarez se The savage god en Janet Malcolm se studie oor Plath: The silent woman: Sylvia Plath and Ted Hughes wat in 1995 verskyn het. Verskeie digters het in Afrikaans met Jonker in gesprek getree: “Ontvlugting”, “Bitterbessie dagbreek” en “Die kind” het reaksies ontlok van digters soos Antjie Krog, Johann de Lange, Joan Hambidge, Fanie Olivier, Lina Spies en Daniel Hugo. Fanie Olivier en Clinton V. du Plessis het “Die kind” ‘n nuwe stem gegee en die gesprek tussen Jonker, Plath, Tsjvetajeva vind ons in die digkuns van Lina Spies en Petra Müller, o.a.
Laurika Rauch, Ddisselblom en Chris Chameleon het musiekmakers aangespoor.
Dramaturge het eweneens oor haar tragiese lewe geskryf. ‘n Mens dink hier aan Ingrid Jonker: Opdrag deur Jana Cilliers en Ryk Hattingh in 1997 en Altyd Jonker deur Saartjie Botha in 2006. Daar is ook ‘n film in 2011 Black Butterflies deur Paula van der Oest met Carice van Houten as Ingrid Jonker, dokumentêre en inderdaad: ‘n Jonker-industrie. ‘n Kultusfiguur.
Die troebel lewe word in oënskou geneem en die turbulente en pynlike verhoudings met mans soos Jack Cope en André P. Brink word hier ter boek geplaas. Die komplekse en jaloerse verhouding met die suster, Anna, word gekarteer soos die impak van die gedig “Die kind”. Die verhouding met die ouers, veral die vaderfiguur, wat haar in die openbaar verwerp het, is al deeglik onder die loep geneem deur die digter Johan van Wyk in sy doktorale proefskrif. Dit was Van Wyk wat ons daarop attent gemaak het dat die “teks”-Jonker op die grafsteen staan: dit is alles wat tussen geboorte en dood gebeur het. Soos met Plath en Sexton kan ons die gedigte nie los lees van die lewe nie. Die lewe het die skryfproses en die siening van die digkuns bepaal: vir aldrie hierdie digters was dit ‘n ruimte van verlossing, ‘n plek van ontvlugting.
Daar word verwys na Norman N. Holland se seminale essay oor selfmoord en dat die suicidair agentskap het en ‘n bepaalde besluit geneem het: Literary Suicide: A Question of Style.
“Perhaps we can change our style and accept the fact that suicide, even literary suicide, for all that we can invest in it of the sacred, is still a human act. It embodies a choice among alternatives made through the same principles of human motivation as other choices, even though this is a choice to end choice itself,” beweer Holland (133, 134).
Lees hierdie boek. So lyk die inhoudsopgawe:
1. Writing Ingrid Jonker
2. Childhood and youth, 1933–1951
3. Early adulthood, marriage and motherhood, 1952–1958
4. Separation, divorce and a new relationship, 1959–1962
5. Prize-winning poet, 1963–1964
6. Last days, 1965
7. Afterlife
Dit gee ‘n goeie opsomming van waarom hierdie digter ons almal aanspreek:
Korreltjie sand
Korreltjie korreltjie sand
klippie gerol in my hand
klippie gesteek in my sak
word korreltjie klein en plat
Sonnetjie groot in die blou
ek maak net ’n ogie van jou
blink in my korreltjie klippie
dit is genoeg vir die rukkie
Kindjie wat skreeu uit die skoot
niks in die wêreld is groot
stilletjies lag nou en praat
stilte in Doodloopstraat
Wêreldjie rond en aardblou
korreltjie maak ek van jou
huisie met deur en twee skrefies
tuintjie met blou madeliefies
Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan ’n kis
Ek maak my gereed vir die Niks
Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Fine Music
Radio geplaas.]