Ilse van Staden. Fluisterklip. Lapa uitgewers, 2008. ISBN 978 0 7993 4263 5.
Resensent: Joan Hambidge
Delikaat.
Dis hoe ‘n mens hierdie digterskap
moet beskryf en vir haar debuut, Watervlerk,
is Ilse van Staden bekroon met die Ingrid Jonker – en Eugène Marais-pryse.
Watervlerk het ‘n
gewisse indruk gelaat: gedigte wat eenvoudig in aanbod is en as’t ware voor jou
oë transformeer of verander.
Die tweede bundel is vir die
meeste digters die moeilikste bundel om te publiseer.
Waarskynlik omdat die
reaksie op die eerste bundel die digter selfbewus gemaak het vir tegnieke en
truuks en daar dan ‘n soort selfbewustheid intree.
Fluisterklip is as
bundel nie so gaaf as die eerste bundel nie. Die dieper-magiese kwaliteit van
die eerste bundel word hier uitgepraat.
As ons egter die bundel benader as
‘n meta-poëtiese besinning oor die aard van die digkuns, dan word dit ‘n
verrassende leeservaring. Die buiteblad met sy klipmuur, aktiveer ander
kliptafels in die letterkunde, soos Pablo Neruda se gedig oor Machu Picchu. En
die geskiedenis van die Suid-Amerikaanse kontinent.
Nader tuis Opperman en natuurlik
Wilma Stockenström.
Ons vind in hierdie bundel ‘n
besinning oor die klip/kliptafel en hoe hierdie klippe kan vergaan en verweer.
In die gedig “embrio” (p. 10) word
die klip gelyk gestel aan die geboorte van ‘n gedig en sy helder wonder van
onwaarskynlikheid.
Die klip word dan die simbool vir
die digter se soektog na die onmoontlike proses. Hoe vra sy, “kap ‘n mens
fluisters uit ‘n klip?” In die gedig “dryfsand” (p. 33) besef sy dat niks kan
oorleef op die dryfsand van woorde nie. Die klippe (vesting) het dus verbrokkel
en die digkuns word ‘n verneuksand. Oor hierdie proses het Elisabeth Eybers
eweneen só gedig.
Onderliggend hieraan is daar ‘n
bewuswees van die metafisiese en spirituele wat as ‘n fluistering tipeer word.
Dit skakel dan met die bundeltitel.
Op hierdie soektog word die leser
egter bewus van ‘n soort outydse segging (waarom poeët en nie sommer digter
nie?). In die reis is die digter bewus van sowel die rypwording as die
verrotting. Vir die geliefde word daar dan ‘n klip gestuur (in navolging van
Breytenbach) wat transformeer tot skip.
Die leser word eweneens bewus van
‘n bemoeienis met die goddelike dimensie, soos in “Besoek” (p. 19).
In sekere gedigte, soos
“Troetelklip” (p. 38) en “Op eie risiko”(p. 39) word die gedig deur ‘n sterk
stelling ondermyn. Beelde moet dit vertel of oordra aan die leser.
Hier gebeur die gedigte nie
rakelings genoeg nie (in die digter se eie woorde) en die besondere spel in die
debuut is afwesig.
Die geheelindruk is dus nie so
oorrompelend-positief as met die debuut nie; trouens, hierdie leser dink min
gedigte haal werklik die paal. Dikwels moet ‘n digter beweeg deur ‘n fase om by
iets anders uit te kom.
En dis dan wat hopelik hier mag
gebeur.
Soos die bundel nou daar uitsien
is dit moeilik om te glo dat die digter bekroon is en soveel bewondering
afgedwing het met die debuut.
Heiligdom
Daar is nou ander weide om my
huis,
ander veld en koeie:
net die heiliges
mag nou hul tonge
om my tuin se grasse knoop
en afpluk teen ‘n skerp gebit.
Daar mag op hierdie grond
geen oningewyde vreter
meer ‘n hoef neersit.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]