Izak de Vries. Byna Liefde. Tafelberg Uitgewers, 2008. ISBN 978 0 624
04684 4.
Resensent: Joan
Hambidge
Byna liefde, die
tweede bundel van die kortverhaalskrywer Izak de Vries ondersoek die liefde in
al sy (haar?) vorme. Is die liefdesverhaal net die domein van die vroueskrywer?
Of kan mans ook liefdesverhale skryf? Teoretici soos Umberto Eco het immers al
oor die struktuur van die liefdesverhaal geskryf – en belangrike opmerkings
gemaak dat wanneer ons liefde verklaar dan is dit teen die agtergrond van ‘n
Cartland-roman. En een van die belangrikste teoretiese tekste oor die liefde is
Roland Barthes se A lover's discourse. Dié Franse teoretikus wys op liefhê as ‘n
semiotiese tekensisteem wat jou oorweldig: die Geliefde word jou hele universum
waarin elke teken jou herinner aan hom / haar.
Byna liefde is
geskryf deur ‘n man oor die problematiek van liefhê. In die openingsverhaal
“Die engelman” is daar ‘n verwysing na Eco (‘n besliste kode hier) en die
verhale dekonstrueer die geykte liefdesverhaal op verskillende wyses. Onder
andere deur die verhale dikwels metafiksioneel te maak (soos in “Haar
verlange”) sodat ‘n spanning ontstaan tussen skrywer en skryfwerk. Bekende
temas van die liefdesverhaal soos die ongehude moeder en ander kodes van Tryna
du Toit se Groen koring word in nuwe gedaantes hier aangebied.
Ons het almal
menings oor en ervarings van die liefde.
Selfs ‘n afwys
van die liefde, is ‘n erkenning van die mag daarvan. Byna liefde neem standpunt
in teen die populistiese siening van vir-altyd-en-altyd. Wat gebeur agter die
skerms? Of: die verliefde paar moet werk met sweet en moegheid, al sien ander
hul aan as ‘n wittebroodpaartjie.
“Die sagkant van
‘n vrou” is ‘n seminale verhaal in hierdie bundel waarin verskillende kulture
teenoor mekaar geplaas word. Dieselfde geld “Diepblou”. In die verhale word die
leser dikwels gekonfronteer met ‘n weerlose man wat huil of emosioneel voel
wanneer omstandighede hom dwing om sy vrou te verneuk. Hier is dus geen Me
Tarzan – You Jane-aanslag nie, maar ‘n besondere verwikkelde blik op die man as
‘n gevoelige persoon wat uitgelewer is aan gender-verwagtings waaraan hy nie
altyd kan voldoen nie.
Die skrywer
ontgin die moontlikhede van die kort-kortverhaal en dit word besonder behendig
gedoen in die verhaal “Los kruit” met sy dubbelsinnige titel. Die hele bundel
bevat eksplisiete verwysings na manlike en vroulike seksorgane en die skrywende
instansie maak telkemale ‘n punt daarvan om daarop te wys dat manlike tepels
(byvoorbeeld) ook as ‘n erogene sone gesien moet word. Of hoe die manlike
geslagsorgaan daar uitsien tydens die seksuele spel. Dit is duidelik dat die De
Vries hier in gesprek tree met buitelandse ‘chick lit’ waarin ons dikwels
verneem hoe dinge gesteld is met die vroulike geslagsorgane.
Pornografies is dit
egter nie. Dit is net ‘n eerlike verkenning van presies wat gebeur in die
sogenaamde liefdespel. In “‘n Poelpetaterpastei” word die metafiskionele
dimensies van die skryfaksie ondersoek na aanleiding van ‘n liefdespel en die
leser word uitgenooi om soos in ‘n Koos Prinsloo-verhaal die
werklikheidsdimensie te betree, of dit as ‘n blote poets af te maak. Dis ‘n
vernuftige verhaal juis omdat verskillende dimensies oormekaar geskuif word en
die werklikhede én verswygings (fiksionaliserings) aan bod kom.
“Once threw a
party” woeker met Elvis en gayseksualiteit. Leuens, bedrog, falsifikasies teen
die mite dat Elvis dalk nog lewe word knap ondersoek. In die verhaal
“Transgressie” bekyk die skrywer die skryfproses en die grensoorskrydende aard
daarvan. ‘n Karakter uit ‘n vorige verhaal word as ‘n moontlike karakter gesien
wat hierdie verhaal dan as werklik wil aanbied. Maar dis nie net ‘n verhaal
nie. Dis ‘n verhaal waarin daar nagedink word oor ‘n film en die
problematisering van werklikheid en fiksie, bekend aan die postmodernisme, word
hier ondersoek.
Geslagsverandering
– natuurlik met ‘n verwysing na Pedro Almodóvar – vra vrae oor wat begeerte
behels.
Byna liefde is
‘n manlike antwoord op Rachelle Greeff se Die rugkant van die bruid.
Verskeie van die
verhale het alreeds elders verskyn, soos onder andere in Die mooiste liefde is
verby (1999), wat destyds verpulp is weens ‘n plagiaataanklag teen ‘n verhaal
in die bundel. Verhale saamgesnoer in ‘n bundel kry egter ‘n nuwe betekenis in
‘n bundel wat maskuliniteite op gedurfde en sensitiewe maniere ondersoek. Dis
uiteindelik ‘n boek oor begeerte in al sy gedaantes en selfs internet-‘dating’
en die liefde as ‘n konstruksie word betrek. (En ‘n man getroud met ‘n lesbiese
vrou op soek na Ware Liefde. Of is dit begeerte?)
Daar is
kragwoorde, maar dit pas in die mond van die karakter of spreker.
In die
slotverhaal tree karakters uit verskillende verhale saam op in ‘n ‘after-party’
om die manipulasie rondom skryfwerk te beklemtoon.
Dit is ‘n
versameling kortverhale waarin etlike verhale lank na die lees in jou gemoed
nawerk. By ‘n handvol sou ‘n mens selfs briljant kon skryf.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die
Volksblad geplaas.]