Saturday, February 9, 2013

Kgebtli Moele - Room 207 (2007)



Kgebtli Moele. Room 207Kwela,  2007. ISBN 0 7957 0234 5.

Resensent: Joan Hambidge

Room 207 gepubliseer deur Kwela, beloof om Suid-Afrikaanse fiksie in ‘n nuwe rigting te gooi. Dit teken glo ‘n “vivid, engrossing picture of a Jo’burg that is the very heart of South Africa”.

Groot oordrewe woorde is dit egter wanneer ‘n mens hierdie roman begin te lees. Skrywers wat fiksionele grense verskuif het, was diegene soos Marcel Proust of dalk vandag Thomas Pynchon. Maar nou ja, iemand moet seker die bemarking van ‘n roman hanteer, wat dikwels in sy oordrewenheid eerder lesersweerstand as lesersvriendelikheid tot gevolg het.
Die ruimte is Hillbrow en wat die roman wel vir my pakkend gemaak het is die verwysings na die Universiteit van die Noorde en die ervaring van só ‘n universiteit wat in die ou aparheidsjare opgerig is. Ons tref hier dus die blik van binne aan en hoe swartmense so ‘n universiteit ervaar teenoor Wits, ‘n gelibereerde stadsuniversiteit.

Die lewens van Matome, Molamo, Zulu-boy, D’nice, Modishi en die anonieme verteller se wel en wee word weergegee. Dit is ‘n roman wat kommentaar lewer op korrupsie, die jong swart stedeling se ervaring van die nuwe Suid-Afrika, die verval van Hillbrow en die jong mense se inetraksie met wit jong mense.

Ek het myself gedwing om te kyk of daar nie fyner nuanses is nie. Het ek dalk kodes misgelees? Wat van die vertelperspektief? Die fokalisasie uit verskillende hoeke?

Die prosa is tekstuurloos en sonder enige weerstand.  Die roman sleur jou nie mee nie. Die storie kom nooit werklik uit die verf nie en die vraag wat by die leser bly opkom is, wat is / was die punt?

Daar is baie “hard luck stories”of “coming of age”-verhale wat worstel met die donker drifte van  die lewe. Maar dit moet steeds verpak word sodat die leser geïntrigeer sal bly. Hier gebeur dit egter nie.

Ek lees hierdie room in Kamer 322 in die Polano Hotel in Mocambique oor my Paasvakansie.

Opvallende verskille tussen die mense alhier en die swart mense soos verbeeld in die roman kom na vore.

Die swart mense in Maputo is nie aggressief nie. Hulle ken ook armoede, maar terselfdertyd is daar ‘n vredigheid oor hul bestaan. In die roman lees ons van korrupsie, agteruitgang, verloedering, onsekerheid en haat vir wit mense. Karakters word geteken waar hulle in ‘n swart mini-bussie sit met geen gesprekke tussen mense nie. Alles is uitsigloos. Die waarnemer wil dit egter maak, hy wil ‘n nuwe lewe hê wég van onderdrukking en eenvoud.

In hierdie opsig bly die roman dan tog met ‘n mens praat. Dit wys op die effek wat apartheid op mense gehad het, na die strewe om ryk te wees, om dit te ”maak” binne ‘n Westerse kultuur waar sukses geld en ‘n selfoon beteken. ‘n Mens onthou ook hoe daar in Room 207 gelet word op ‘n karakter se kleredrag en hoe belangrik dit vir hom is om “labels” te dra. Om sy sukses na buite te vertoon. Amerikaanse navorsing het onder andere getoon dat jong swart mense gesteld is op blink klere ten einde hul armoedige jeug te besweer.

Hoewel dit dus ‘n tekstuurlose roman is, blyk die belangrike waarde van die boek te wees dat dit bly torring aan jou. Jou bewus maak van wat mense beleef in die nuwe-Suid-Afrika waar alles verander het, en alles tog nie verander het nie.

‘n Groot roman is dit egter nie.

Hoogstens ‘n tydsdokument.

Bladdraaier, onneersitbaar, ‘n boek wat die grense van fiksie verruim en verander? Gewis nie. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]