Johan van Wyk. Man Bitch. Selfpublikasie, 2001/2006.
Durban 2006
Resensent: Joan
Hambidge
Daar bestaan by
my geen twyfel nie dat Johan van Wyk van die opwindendste gedigte in die
tydperk van sewentig en tagtig geskryf het. Hy het punk verstaan lank voordat
enige persoon hier te lande begryp het wat dit is. Die komiekstrip het hy saam
met Rina Sherman in Stet beoefen met
die onvergeetlike opmerking van ‘n karakter wat na die Voortrekker-monument kyk
en opmerk: "Ek hou van die Sfi-fi-kwaliteit van Pretoria in die aand.”
Hy het ‘n
grensverskuiwende studie oor Ingrid Jonker geskryf en die liggaam van die teks
anders definieer: die teks Ingrid Jonker beweeg tussen haar geboorte- en
sterftedatum het hy opgemerk. Jy kan eenvoudig nie oor Jonker skryf sonder om
hierdie baken in ag te neem nie. Net soos wat hy die intertekstuele verbintenis
tussen skilderteks en gedigteks in Heldedade
kom nie dikwels voor nie op ‘n nuwe wyse deurgrond het. Digters gaan nooit
werklik weg nie. Hulle staan op uit die dode: Casper Schmidt het skielik
teruggekeer in By en Johan de Jager
gooi ‘n draai in ‘n nuwe Afrikaanse roman. En ons wag op ‘n nuwe Van Wyk-bundel
met die wete dat dit werklik belangrik en rewolusionêr sal wees, omdat hy
volledig buite die voorskrifte van die Afrikaanse digkuns werk. Sy bome gaan
dood op ‘n punk-wyse; sy metafore gloei in stille heldedade.
Sy jongste
selfpublikasie wat in gesprek tree met die heerlike Gillespie-slenters wat
destyds op Litnet verskyn het, heet:
Man Bitch.
Soos by Bukowski
word die hardepad-lewe van die onderwêreld beskou. Die slotsin sal menige
stoere pruik afruk en hierdie boek wat jy van die outeur kan bestel, gooi
dekorum by die voordeur uit. Ons onthou die skrywer se slenters in
Gillespie-straat: die professor in kultuurstudies aan die Universiteit van
Durban-Westville wat saans navorsing doen in die hoerebuurt en sonder skroom
vertel wat hy sien en beleef. En veral beleef.
Werklikheid word
bo fiksie verhef. Ons verneem van 27 Oxford House in Gillespiestraat, Durban,
van “adult video”-winkels, van die Four Seasons Hotel – van die gatkant van
Durban as jy wil.
Daar is
prostitute, pool word gespeel en die meeste mense leef op die rand van die
samelewing, omdat hulle self vertrek het uit Londen of deur die gemeenskap
verwerp is. Hulle is sowel van die verre buiteland as van Mosambiek of
Swaziland.
Daar is Luisa.
Daar is Mbali.
Daar is harde,
meedoënlose seks. Met kondome. Geen genade. Geen emosie. Vigs. En ander
siektes.
“Oop en buite
bakens is die pyn” het Van Wyk Louw geskryf. En dit is presies wat hier gebeur.
daar is geen vesting of baken nie. Die karakters is almal uitgelewer aan die
wreedhede van “dirty realism” en die leser voel hier ‘n hartklop van die
werklikheid.
Hierdie roman
(of dalk kortverhale wat ook as ‘n roman gelees kan word?), word vir die leser
onthutsend, omdat die spreker / fokalisator / verteller meer verwag as wat die
mense rondom hom vir hom kan gee. Hy trek geld vir hulle, hy wag op Luisa om te
bewys dat sy werklik omgee – terwyl jy as leser kan sien wat aan’t gebeur is.
Tsotsi’s – die
verteller se woord – steel sy selfoon.
Hy reis na
Mosambiek, maar Luisa is klaar met hom.
Hy keer terug na
sy ouers in die Vrystaat – hier word dit hortend vertel – asof hy iets terughou
vir leser en moet gewoond raak aan sy nuwe beeld. Genoeg verklap.
Onthou: dis soos
by Bukowski.
Of Hunter S.
Thompson.
Op sy
belangrikste is dit ‘n tydsdokument oor ‘n verloopte samelewing. Wat is feit?
Wat is fiksie? Of is dit faksie? Of ontwerp hy ‘n nuwe leesmodel soos vir
Ingrid Jonker waar hy eerste opgemerk het dat jy nie die gedigte sonder die
lewe kan lees nie?
Niks kom egter
by die digter nie.
Hopelik is daar
binnekort weer ‘n bundel beskikbaar en ek koester die versameling wat die
digter self uitgegee het.
Bestel van Johan
van Wyk, 22 McArthurstraat Fichardtpark, Bloemfontein 9301.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]