Saturday, February 9, 2013

Mmatshilo Motsei - The Kanga and the Kangaroo Court. Reflections on the Rape Trial of Jacob Zuma (2007)



Mmatshilo Motsei. The Kanga and the Kangaroo Court. Reflections on the Rape Trial of Jacob Zuma. Jacana, 2007. IBSN 978 1 77 009 2556.

Resensent: Joan Hambidge

Daar is waarskynlik min sake waaroor daar soveel emosionaliteit opgewerk word as verkragting. Wat is verkragting presies? Wanneer word ‘n nee ‘n ja?  “No means yes” staan daar op ‘n graffito by die ingang van die UK. Mag jy toestemming op nommer 99 weier? Mag jy die volgende dag ‘n konstruk van verkragting op ‘n gryserige interaksie plaas omdat jy skaam / ongelukkig / verneder / kwaad vir jouself is?

 Verkragting en aborsie. Twee emosionele onderwerpe waaroor ‘n mens lank kan praat en teoretiseer. Die primordiale verkragtingsverhaal staan natuurlik in Rooi Kappie opgeteken – wat nie na haar Moeder geluister het nie en deur die Wolf  mislei word. Hélène Cixous het insigryk oor die vrou se “dekapitasie” geskryf en Camille Paglia is uiters vokaal oor die onderwerp: wanneer jy met die donker drifte van die seksuele omgaan, beweeg jy op gevaarlike grond en moet jy die gevolge van jou dade dra.

Ons het almal Jacob Zuma se verhoor gevolg: in die pers met ‘n joernalistieke verhoor, in feministiese analises daarvan en in Zapiro se skitterende cartoons van sy stort-episode à la Pontius Pilatus. In welke mate het die media se intrede die regsuitspraak oor hom geswaai?

Kwezi se dapper daad om ‘n klag van verkragting teen die toenmalige Vise-President, Jacob Zuma, te lê word deur Motsei bespreek. Boonop, soos ons almal weet, ‘n uiters gewilde man onder sy mense.

Dit is ‘n hoogs emosionele boek wat o.a. vir die leser daarop attent maak dat hy binne die Afrika-tradisie ‘n vaderfiguur is (“my kind is jou kind, jou kind is my kind”) en die regter – ‘n wit man – word die verwyt gemaak dat hy nie in staat was om baie van die Afrika-tradisies en folklore te snap nie.

Ons lees die volgende soort aanslag:”It was his hands that lowered the kanga and massaged her with baby oil; it had nothing to do with the invisible hand of a third force. It was his hands that turned her body around and his fingers that were inserted into her vagina; it had nothing to do with political camps. It was his arms that held her as he penetrated her; it had nothing to do wit the arms deal. It was his hand that he raised in court swearing to tell nothing but the truth. it is indeed his hand that he may use to sign the document in 2009 after being sworn in as the leader of one of the most powerfully evolving nations in the southern hemisphere” (p. 15).

Inderdaad.

Maar sy het agentskap gehad. ‘n Mond om ja / nee te uiter.  En post-feministiese teorie wys op die komplekse interaksie en interspel tussen die twee partye. Ek lees uiteraard uit ‘n Westerse verwysingsveld en my blik is gekleur deur Freud se Dora-saak en die ambivalensie(s) wat vroue dikwels voel in seksuele of intieme arenas. 

Natuurlik moet daar opgetree word teen verkragters, maar faux-verkragtingsake maak dit vir die ware slagoffer ónmoontlik om te gaan kla. Die outeur van hierdie studie gee belangrike inligting weer oor geweld teen vroue –  soos liggaamlike mutilasies, e.d.m., maar om die Zuma-saak per se as ‘n geweld teen alle vroue te lees, moet jy al die aannames oor geweld teen vroue saamlees en die siening van die patriargie en Zuma se verantwoordelikheid. 

En hier is die paradoks in haar argument: enersyds looi sy die fallosentriese denke; andersyds verwag sy dat die Man / die Vader die Dogter moes beskerm. Hierdie saak maak ‘n byenes oop van vroueregte in Afrika, ou Afrika versus die rol van die gemoderniseerde en gelibereerde vrou binne hierdie opset. En dis waar ek Paglia aanhang: as jy bevryd is, moet jy die verantwoordelikhede wat daarme saamgaan, aanvaar. Maar ek is ‘n wit leser. Die swart persoon, soos Motsei tereg aantoon, hoor die skeldwoorde en “chants” buite die hof waar Zuma verhoor is en onthou mense lewendig verbrand is. (Burn the bitch speel natuurlik in op burn the witch.)

Die saak dra aan soveel interpretasies en menings en analises dat dit onmoontlik is om feit en fiksie te skei.

Die waarde van hierdie teks is dat dit jou noop om kanttekeninge te maak, na te dink en jou eie vooroordele te ondersoek. En jou daarop attent te maak dat die seksuele woud swaar dra aan konvensies, gelowe, verwagtings en aannames. En dit is wat Zuma onderskat het. En dis hoekom Zuma se saak terselftertyd die pad geloop het wat dit geloop het.

Sou ‘n swart regter in ‘n egte Afrika-konteks anders geoordeel het?

Waarskynlik.

Vir hom sou die kanga ‘n tradisionele kleed gewees het.

Die boek leer die leser geweldig baie van Afrika-tradisies en geweld teen vroue.

Die outeur is egter nie altyd in haar sieninge korrek oor die regsisteem nie.  Ook is haar siening omstrede dat die advokaat vir Zuma te wete Kemp J. Kemp die binnetrede van die liggaam goedpraat, maar die opeis van private dokumente en die openbaarmaking aanvaar. Dit is nie op dieselfde vlak nie, terloops.

Die emosionele gevoel dat ‘n Murri-hof hier sou anders oordeel, is eweneens gesog. ‘n Mens kan tog nie ‘n ander regsisteem eis nie.

Hierdie debat word immers al jare lank gevoer deur regsgeleerdes wat hulle besig hou met Afrika en die regspleging.

Lees wel die boek vir ‘n ander siening op die Zuma-saak.

Bronne:

Hélène, Cixous: "Castration or Decapitation?" in Robert Con Davis & Ronald Schleifer(redd.) se Contemporary literary criticism - Literary and cultural studies. Longman, New York. 1989.

Camille Paglia: Vamps & tramps. Vintage Books, New York. 1994.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]