Sunday, February 3, 2013

H.P. van Coller - Tussenstand: Letterkundige opstelle (2009)




H.P. van Coller. Tussenstand: Letterkundige opstelle. Van Schaik, 2009. ISBN 978 0 627 027 81 9.

Resensent: Joan Hambidge

Tussenstand is ‘n tydige bundel letterkundige opstelle. Verspreide artikels in tydskrifte of op die internet maak van die navorsing en naspeur dikwels ‘n tydrowende en moeilike opgaaf. ‘n Studie in die diaspora en hierom is ‘n mens uitgewers dankbaar wanneer opstelbundels of monografieë verskyn. Nou onlangs was daar Louise Viljoen se deeglike studie oor Antjie Krog en Gerrit Olivier se teoreties-vae monografie oor Koos Prinsloo, wat beide by Sun uitgewers verskyn het.

Van Coller is ‘n bekende Leroux navorser en deeglike prosa- kritikus. Nou onlangs het hy goeie vertalings van die Vlaamse digter Luuk Gruwez behartig (‘n paar verse is opgeneem in die nuwe Groot verseboek) en ‘n Broederbondprys ontvang vir sy eerste manuskrip gedigte. Daar is ‘n gedig – ‘n niemendalletjie – van hom opgeneem in JL Marais se versamelbundel oor Eugène Marais: Honderd jaar later (Praag. 2006).

Die studie bevat bydraes oor Die jakkalsjagter van Strachan en die plaasroman. Daar is bydraes oor nostalgie en parodie, ‘n uitgebreide prosakroniek en ‘n stuk oor die Afrikaanse prosa as ‘n waarheidskommissie. Opstelle oor Leroux, C.M. van den Heever, Van Wyk Louw en die ingewikkelde proses en kwessie van kanonisering kom aan bod soos die samestelling van bloemlesings as kanoniserende strategieë.

Soos dit dan ‘n studie van hierdie aard betaam, is die uitgangspunt dikwels polemies. In die eerste bydrae verskil hy oor die gebruik van die begrip ‘intertekstualiteit’ wat by Kristeva iets anders beteken as invloed en argumenteer hy dat Elize Botha se siening van aanhaling en verwysing relevanter is.

Op bladsy 32 word daar verwys na Marion Hattingh, wat nie in die bibliografie vermeld word nie en wat beteken ‘n ‘strategiese verskuiwing’ by Opperman met betrekking tot die opnames van Leipoldt, Stockenström en Cussons? In ‘n bundel soos hierdie moet man en perd genoem word: hy verwys na die onverkwiklike gekonkel en afdreigings agter die skerms met die samestelling van Groot verseboek 2000. Dit sou tog tersaaklik wees om nou die volle verhaal te vertel oor sekere digters se ongelukkigheid dat ‘n ‘bekende en omstrede vroulike digter’ ‘n leser was. Haai wie sou dit kon wees?

Dit sou juis belangrik wees om dit te onthul, omdat Van Coller ons telkens daarop attent maak dat daar baie politieke speletjies gespeel word met kanonisering.

Van Coller maak dikwels insigryke opmerkings en sy studie versoen kritiek en literatuurwetenskap. Sy opstel oor die kanon, veral wat normdeurbreking en – bevestiging betref, is van onskatbare waarde.

Hy gee ook mildelik erkenning aan sy studente se ongepubliseerde Honneurs-werkstukke. Ek wil voorstel dat dit op Litnet se seminaarkamer gepubliseer word sodat die volledige bydraes gelees kan word vir verdere speurwerk.

J.C. Kannemeyer het reeds verskil van ‘n bydrae in hierdie boek op Litnet. Die doel van hierdie soort teks is immers om ‘n gesprek aan die gang te hou en die Van Wyk Louw-ideaal na te streef: die oop gesprek. Hierdie leser is nie seker of die literêre anekdote of skinderstorie in so ‘n teks tuishoort nie. Kan ‘n mens byvoorbeeld bewys dat ‘n literator positief was oor ‘n boek omdat hy by hierdie persoon se uitgewershuis gepubliseer het?   
Hierdie solo-vlug is tydig, omdat Van Coller dikwels saam met Bernard Odendaal publiseer. Nou kan ons sy bydrae takseer.

Lees gerus ook op Die Burger se blog: ‘n Blinde in ‘n mynveld

So sluit hy af:

"Die woning van die letterkunde het verskeie kamers en daar is baie aan te verdien; selfs geld. En self gun ek elkeen wat op “entrepreneuriese wyse” ’n markgaping in die letterkundige bedryf sien, sy of haar anglisistiese pond vleis.

Reël gerus letterkundige toere, skryf die koerante vol met interessante anekdotes, praat oor die lengte en breedte van die land vir ’n bord en beker. Maar die werk van die kritikus, soos die skryf van resensies, is nie vir opportuniste bedoel nie en dit doen jy nie om den brode nie.

Dit is ’n bedryf vir mense wat op ’n billike wyse weeg en dán oordeel. En dit verg nie net eerlikheid en beskeidenheid nie, maar ook ’n etiese instelling."

Besluit maar self waar hierdie resensie val. En of objektiwiteit in ‘n piepklein-letterkunde (omtrent so bedompig soos ‘n volgepakte hysbak) waar Objektiwiteit en Regverdigheid iets is waarna ons streef. Wie terloops was op daardie komitee wat die Broederbond-prys beoordeel het?

So van billikheid gepraat. Was die kompetisie oop vir almal of net vir die Broers?
En is dit vergeethoek of vergeetboek op bladsy 86?

En daar word verwys na Sewe dae by die Silbersteins as een van die mees voosgeblaaide boeke in Afrikaans (16).

Van Coller se belangrikste werk is as redakteur van Perspektief & profiel.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]