Jerzy Koch. Outsider onder de Zijnen: Vormen van Zenofanie in de Afrikaanse roman. Wydawnictwo Uniwersytetu Wroclawskieg, 2007. ISBN 83 229 2250 7.
Resensent: Joan Hambidge
Jerzy Koch is ‘n
bekende Poolse literatuurwetenskaplike wat hom al geruime tyd onderskei het as
‘n besonderse kenner van die Afrikaanse letterkunde. Verbonde aan die
Universiteit van Wroclaw en Poznan het hy ook al geweldig baie gedoen vir die
verbintenis tussen Afrikaans en Pole en ‘n digter soos Fanie Olivier het dan
ook in sy departement waardevolle werk gedoen. Koch is ook bekend as vertaler
wat bekroon is met die gesogte Nijhoffprys (1995) en is tans navorsingsgenoot
aan die UOVS.
Sy studie Outsider onder de Zijnen karteer die
belangrike aspek van ‘n verbintenis met die buiteland en die blik van buite.
Die venster op Europa het deur die jare oopgegaan, toegegaan en is tans weer oop
vir Afrikaanse skrywers – maar let wel, net vir sekere geroepenes.
In ons
probematiek, meen Koch is die spanning tussen ons/hulle, hier/daar, binne/buite
sterk aanwesig. En so is dit dan ook in een van die oeroue spanninge in die
romankuns, naamlik die opposisie tussen stad en platteland.
Dit is nie binne
die orde van ‘n resensie moontlik om op al die kwessies te wys wat hier
aangeraak word nie. Dus net ‘n paar tersydes by dit wat my interesseer. Ek dink
een van die hoogtepunte is die beskouings rondom Sy kom met die sekelmaan wat hy tereg lees as ‘n boek wat
gekanoniseerd gebly het ten spyte van die feit dat dit nie aan die latere
ideologiese eise voldoen het nie. En, meen Koch in navolging van Mieke Bal, dat
daar geen feministiese metode van kritiek bestaan nie; alleen die vraagstelling
kan hoogstens feministies wees.
Hy beklemtoon
die aspek van outo-terapie in hierdie roman en die fyn konstruksie van die ‘n
metarefleksiewe teks wat die leser in een sentrale brief kan vind.
Benewens vir
hierdie skitterende analise van ‘n roman wat die toets van die tyd deurstaan
het, imponeer die skrywer se kennis van die geskiedenis van die
literatuurkritiek: Dekker, Schoonees, Malherbe, Antonissen, Kannemeyer, en
andere word histories korrek geplaas. In hierdie opsig is H.P. van Coller se
siening dat die skrywer nie werklik ‘n “outsider” is nie, maar die circuits,
periferale diskoerse en buite-literêre
kwessies ken. Wel moet daar verskil word van sy siening dat Koch hoflik en nie
polemies verskil nie. ‘n Polemiek hoef nie ón-hoflik te wees nie.
Elke
resensie/bespreking verraai immers ‘n bepaalde literatuursiening, -smaak wat
eweneens binne ‘n bepaalde tydsgees geplaas kan word.
‘n Mens kan
toe-oog ‘n resensie uit die tagtigerjare o.a. aanhoor en die politieke onrus
van hierdie tydperk optel.
Ander tekste wat
o.a. onder die loep geneem word, is Na
die geliefde land van Karel Schoeman, Die
son struikel van Dolf van Niekerk en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins
.
Laasgenoemde
teks is uiteraard ‘n goeie toetsgeval vir enige kritikus weens al die
“woordstorms” rondom die boek.
Hy gebruik o.a.
vertelinstansie teenoor kykinstansie (fokalisator) om die komplekse ideologie
van die teks vir die leser oop te maak. En waarom ‘n boek “moreel” moet wees,
verraai eweneens ‘n sekere historiese bewussyn binne die letterkunde tydens die
publikasie en die resepsie van kundige literatore èn Jan en Alleman. Leroux se
komplekse skryfstyl en die optrede van die meturgeman sou ‘n interessante
vergelyking met die resepsie rondom Nabokof se Lolita kon uitlok.
Wanneer hy oor Na die geliefde land skryf – veral met
die relevante opmerkings van J.M. Coetzee en Ampie Coetzee – wys hy tereg
daarop dat die belangrikste romansiers in Afrikaans hul hand gewaag het aan die
sogenaamde plaasroman! Etienne van Heerden het ontken dat Toorberg dit is – ja, sou ‘n mens kon opmerk: die roman is ‘n
plaasroman, maar veel meer. Dit is ook ‘n boek oor marginalisering. Oor
“othering”. ‘n Mens is deurgaans bewus van Koch se enorme belesenheid en
vergete essays en artikels word uitgehaal en afgestof om ‘’n belangrike punt te
illustreer.
Elize Botha se
prosakronieke is uiters belangrike prosa-essays, en ja, laat dit nou maar
eenmaal hard en duidelik geskryf word: daar is min stiliste soos Botha wat jou
op ‘n reis deur ‘n belangrike boek neem en al verskil jy van haar oordeel, bly
jy bewus van haar kundigheid en ingeligtheid.
Na die geliefde land, in
navolging van McHale, is historiese fantasie, apokriewe geskiedenis of
pseudo-profesie en P.A. du Toit het dit uitgewys vir ons.
Om te woeker met
die bekende retoriese strategie van Jerzy Koch: die Afrikaanse letterkunde is
te belangrik dat dit net in die hande van Afrikaanse literatore en lesers
gelaat kan word.
Kundigheid en
enorme navorsing is die oorwegende indruk wat hierdie boek maak. Dit hoort op
die rak van elke Afrikaanse dosent en literator. Papier is geduldig en
uitsprake gemaak deur literatore van toentertyd en nou word opgediep. Selfs
besprekings waarvan ‘n mens al vergeet het soos Marlene van Niekerk se satiriese
reaksie op ‘n intreerede.
Bierdajiew se
siening van die ‘sobornost’ word raak beskryf met verwysing na Carry van
Bruggen en Colin Wilson, natuurlik.
Van Bruggen se
programma kan die leser van nut wees.
Ek ken min
moderne literatuurtekste waarin kanonisering, gender en grenre so behendig
saamgesnoer en geteoretiseer word. Die toespassings is fyn.Dit is ‘n belangrike
verwysingsboek wat neffens Perspektief
& Profiel op jou rak moet staan.
Die studie is
boonop in ‘n toeganklike taal geskryf.
Bestel van marketing@wuwr.com.pl
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die
Burger geplaas.]