Erika
Murray-Theron. Verblyf. Protea
Boekehuis, 2007. ISBN 1 86919 148 X.
Resensent: Joan Hambidge
Verblyf is ‘n roman geskryf deur Erika
Muray-Theron en dit bevat ‘n lieflike omslag van Tertia Dorfling. In hierdie
skildery, wat ‘n soort droomkwaliteit verraai, is daar ‘n huis, ‘n palmboom, ‘n
vrugteboom, die son. Waar staan die huis?, wonder die kyker. In die vreemde;
dalk Spanje? Hierdie voorblad skakel met
die belangrike verwysings in die teks na Maggie Laubser en Irma Stern en hul
unieke siening van die Ander.
In hierdie roman
word daar hoofsaaklik gewerk met die binnespraak. Ons het hier ‘n verteller wat
van binne na buite vertel. Moderne kwessies soos identiteit, vestiging in ‘n
vreemde land, globalisering word op ‘n sensitiewe manier aan die orde gebring.
Dit spreek vanself dat stereotipe idees oor die Vreemdeling / Ander in hierdie
roman aan bod kom, o.a. in die verbintenis tussen Helene en Alassane, maar ook
in die lewens van mense wat in die vreemde hul identiteite moet verander of
ontdek dat hulle gay is. En die uitwerking wat dit het op kinders en ‘n
voormalige eggenoot.
Die moderne mens
is dikwels op vlug na Amerika of Londen – op soek na beter weiwelde weens
ekonomiese eise of gewoon die geweld wat mense onderkry. Terselfdertyd is
hierdie vertrek nooit eenvoudig of finaal nie. Mense bly verknog aan hul land
en hul taal. Aan hul herkoms, Afrikaanse verwysings en gedigte. (Die roman
bevat ‘n handige verwysing vir diegene wat nie ‘n gedig herken nie en hoe
aangenaam was dit nie om Johan de Jager se Haggadâ
vir ‘n wit Afrikaan (1977) weer raak te lees nie. Nou onlangs het Casper
Schmidt ook weer “teruggekeer” in ‘n artikel in “By”).
Helena en
Nicolene se verhale word vertel met hul aanhangsels en teëspelers. Hulle is
twee susters wat behoort tot verskillende kontinente. Op ‘n skerpsinnige wyse
word die implikasies van emigrasie ontleed. Nicolene ontdek dat Amerikaners
oënskynlik gasvry is (ons weet almal van “let’s do lunch” wat beteken “gaan
weg”), maar terselfdertyd hul afstand bewaar en jaloers is op hul vrye tyd oor
naweke. Helena, die ander suster, woon in Pretoria en beleef die
nuwe-Suid-Afrika en die paranoïa van die moderne samelewing. Sy is verlaat in
‘n verhouding en sy soek naarstiglik na identiteit en hierom beweeg sy terug in
jeugherinneringe.
Sy beleef in die
nuwe Suid-Afrika al die ellendes bekend aan ons en sy vind aanklank by
Alassane, ‘n uitgewekene. Hy het gewoon aan die rand van Mbour, die land van
arm mense. Hierdie relasie word ‘n belangrike spieëlteks van Helena se psigiese
toestand en dit sal die leser eweneens loon om Sarah Nuttal(red).) se studie Beautiful/Ugly (Duke University Press,
2006) oor Afrika en diaspora estetika te lees waarin vele kodes waarop hierdie
boek berus, verder bespreek word.
Die hibriede
word raak beskryf in terme van duikbootnavorsing: ‘n gebou wat op die oog af ‘n
eenheid het, maar leterlik tot in die fondamente verdeel is (p. 66).Mense woon
op vreemde vastelande, maar hulle bly terughunker na die land van herkoms wat
hul identiteit gegee het en selfs in die vreemde klou Nicolene nog vas aan
familieskap sodat haar suster se gewese eggenoot nog vir haar belangrik bly.
Gary weer op sy beurt bly in ‘n kommune in Londen waar jong mense oorlewing
ontwille, moet aanpas in ‘n nuwe omgewing en waar “dos-geld” in die kommune ‘n
harde werklikheid word. Die roman lewer interessante kommentaar op die
veranderende rol van die moderne vader wat kinders uit vorige huwelike oorneem.
Of ‘n gay-vader wat begrip by sy kinders ontdek!
Daar is
verwysings na moderne tegnologie: mense maak meer onmiddellik kontak met
mekaar, maar is ironies genoeg steeds eensaam.
Die roman is
besonder vlot geskryf, sonder om oppervlakkig te wees. Die skrywer het reeds
vyf romans en ‘n bundel kortverhale gepubliseer en met hierdie teks bewys sy
dat sy Afrikaans se Anita Brookner is. Die roman ontglip sentimentaliteit, maar
dit word egter nooit ‘n bloedlose analise van dit waarmee elke moderne mens
worstel nie.
Lees hierdie
roman. Dit was ‘n lonende leeservaring wat my weer teruggeneem het na my
Brookner-rak en A.S. Byatt se analise van susterskap in The djinn in the nightingale’s eye.
Daar is baie
nagedink oor die onderwerp en al die kompleksiteite van verlyf/weggaan. Dit vul
‘n noodsaaklike gaping in ons leesmark waar daar goeie romans behoef word wat
nie net vir ‘n handvol letterkundiges bedoel is nie.
Die outeur erken
in ‘n bedankinsgwoord dat sy die briewe van expats gelees het ten einde insae
te kry in die psige van sodanige vertrekkers. ‘n Mens kan o.a. ook op Sênet kyk
en die toestand van die paradoks begryp: van vertrek, maar verlang. Van
weggaan, maar onseker bly oor jou keuse.
Hierom
waarskynlik die aanhaling uit die Poolse Jodin Eva Hoffman op bladsy 85:”...the
country of my childhood lives with me with a primacy that is a form of love. It
lives with me despite my knowledge of our marginality, and its primitive,
unpretty emotions...”
Met meer deernis
sal ons voortaan die briewe lees op Litnet.
Neet een vraag:
wie staan iemand nog vir ‘n bier?
Praat ons nog
so?
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]