E. Kotze. Die wind staan oos. Tafelberg
Uitgewers, 2007. ISBN 0 624 03503.
Resensent: Joan
Hambidge
Hierdie skrywer
se hartland is die Weskus en haar verhale speel af teen die agtergrond van
hierdie genadelose, dog boeiende agtergrond. In 1982 verskyn sy op die
Afrikaanse toneel methaar bundel Halfkrone
vir die nagmaal wat waarskynlik een van die suiwerste debute in Afrikaans
is. Dit word tereg bekroon met die Eugène Marais-prys. Daarna verskyn Silt van die aarde (1986) en Halwe hemel (1992), asook die outobiografiese
teks Slag van die breekbrander
(2000).
Die gevaar van
die kontreikuns is oorbekend: ‘n valse beeld word dikwels geskep waarin mense
rassisme en seksisme laat gedy; die vader ‘n stil patriarg, die moeder ‘n
verwonde, verbitterde vrou – met die verteller wat vanuit die hede nostalgies
terugverlang na ‘n bestaan wat in wese oneerlik, pynlik en emosioneel gevaarlik
was. Gewoonlik vind ons by die onbehendige skrywer ook ‘n paar idiomatiese
uitdrukkings, ‘n stukkie verlore volkskultuur, en voilà: daar het jy die
Overberge of Weskus of Boesmanland “verpak” met ‘n verteller wat brrrry of
simpel, ouderwetse Afrikaans praat.
Hierdie slaggate
vermy Kotze soos die pes. Sy skryf uit die hart uit en by die lees van die
jongste bundel het hierdie leser by herhaling gedink aan die kortverhale van
die Nieu-Seelandse skrywer, Katherine Mansfield wat in wese ‘n komplekse,
vertrekte mens was maar in haar verhale met ‘n suiwer, nie-kompromislose blik
die gegewe weergee. Dieselfde geld Kotze: sy vertel suiwer. Sy manipuleer of
kies nie kant nie en sy laat die verhaal vir sig self vertel. Kortom sy maak van die streeksvertelling iets
universeels-menslik.
‘n Besonder
aangrypende analise van ‘n vrou se psige is die verhaal “Vlees en bloed” waarin
‘n huwelik en ‘’n vrou se stille opstand teen ‘n swakkeling-man geanaliseer
word.
Kotze gebruik
die manlike simbool van jag om die rolle tussen man en vrou uit te werk. Die
bitterheid oor en opstand teen dit wat van vroue verwag word, kan sy egter nie
in woorde uiter nie. Ons lees haar gedagtes en uiteindelik is stilte
(letterlike floute) al manier waarop sy haar ongelukkigheid kan demonstreer.
Hierdie verhaal behoort gebloemlees te word en dit kan ook as ‘n belangrike
voorbeeld vir ‘n soort feministiese analise dien waar die onderhorigheid van ‘n
sekere geslag vroue met stille opstand gepaard gegaan het.
Die ou-wêreldse
is dikwels die “back-drop” waarteen ‘n verhaal gelanseer word soos in
“Maagkoors”, maar terselfdertyd word die eg-menslike na vore gebring. In die
slim opneingsverhaal, “Die aartappeleters”, word armoede en vervreemding
ondersoek wat van die boek iets byderwets maak, omdat identiteit tans so ‘n
“buzz”-woord is in die literêre kritiek.
Die gebruik van Van Gogh se beroemde kunswerk gee aan die verhaal ‘n
verdere lading en dit word as’t ware ‘n kortpad om ‘n klomp assosiasies by die
leser op te roep oor armoede en die gevolge daarvan. Die moderne leefwyse word
eweneens geanaliseer in die aangrypende “Aan die Waterkant” waarin die soeke na
hartstog die einde van ‘n huwelik beteken. (‘n Mens sou terloops die verhale
kon lees as antwoorde op die sewe doodsondes!)
(In hierdie
verband is die voorblad – inderdaad onopgesmuk – ‘n bietjie verbeeldingloos vir
‘n skrywer wat so intens met sub-teks woeker. )
Talle verhale
word gekenmerk deur ‘n spanning tussen die morele en immorele, soos “Lyding”
wat handel oor “onwettighede en ongeregtighede” (p. 57) en die kleindorpse
spanninge wat geskep word omdat mense oor te veel kennis beskik van hul
ewemense. Die “klakkelose laster” soos dit genoem word. Dan word die verhaal ‘n
knap analise van verval en siekte. Ek ken min verhale waarin die besonderhede
rondom kanker se fisiese en psigiese aftakeling so helder beskryf word. Die
leser word op ‘n subtiele wyse ingekatrol in die lyding van die karakter.
In
“Verwildering” word ‘n stuk volksmitologie – naamlik mense wat sonder tande
rondloop en net die valstande in die mond sit wanneer hul eet – ondersoek met
‘n ironiese wending en kommentaar op suinigheid.
Vir my
persoonlik is twee van die knapste verhale die ontginning van ‘n gay-man se
interaksie met ‘n eensame vrou (“Hy soen nie”) en ‘n ongelooflike analise van
‘n huwelik en swangerskappe (“Die laaste kus”). Kotze verwoord die binnespraak
van die onvervulde, die ontstigte, die opstandige vrou met soveel deernis en
opstand.
In die laaste
verhaal dan is daar ‘n volledige ontwikkeling in die vrou se identiteit. Sy
word ‘n skrywer en op ‘n subtiele wyse word die oorhand wat sy gekry het in
hierdie manjifieke verhaal beskryf. Daar
is min verhale waarin die ontwikkeling van geslagsrolle so vernuftig beskryf
word: hoe die vrou algaande agentskap kry en in opstand kom teen oorheersing,
maar terselfdertyd binne die huwelik bly met ‘n nuwe identiteit en nuwe
selfkennis. ‘n Mens sou die bundel gewoon kon aanskaf net vir hierdie twee
verhale!
Op p. 73 staan
daar “opge-blaasde”? Kennelik ‘n setfout.
Dit is ‘n
kortverhaalbundel vir diegene wat nostalgies terugkyk, veel het aan eenvoudige
waardes en verhale wat subtiel inmekaar steek. Daar is ‘n behendige hantering
van binnespraak en subtiele ontwikkeling in ‘n karakter se gemoed.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die
Volksblad geplaas.]