Breyten
Breytenbach. oorblyfsel / voice over. Human &
Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981
5071 2.
Resensent: Joan
Hambidge
Mahmoud Darwish
(Darwiesj) (1941 – 2008) was ‘n leier in die Palestynse bevrydingstryd en ‘n
belangrike figuur binne die Arabiese letterkunde.
Hierdie gedig
van Breytenbach is ‘n lykdig of ‘n treurvers. En bekend aan die struktuur van
hierdie soort vers word ‘n bekende gestorwene vereer. Hier dan deur ‘n
mede-digter wat in sowel Afrikaans as Engels met die digter praat, sy vriend en
toeverlaat. ‘n Digter wat soos die spreker ‘n stryder was binne ‘n politieke
arena. Die gedig is ‘n oorblyfsel, ‘n naskrif, ‘n nawoord. Dit is egter ook op
Engels ‘n “voice over”, ‘n filmiese term waarin die stem die storie
interpreteer vanuit die agterna-perspektief.
Die bundel
getuig van Breytenbach se besondere beeldvermoë: die maan is soos ‘n mandolien,
maar ook maagdelik vol (8), terwyl die aangesprokene se skedel soos ‘n skip is.
Daar is dan ‘n volgehoue spanning tussen beweging en stolling, tussen die hier
en nou. Breytenbach se gedurfde vermoë om telkemale grense verskuif, is
eweneens hier aanwesig. Die leser is deurgaans bewus van die verlies wat deur
die gedig spreek. Dit het ales begin toe Magmoed se slagaar kronkelend en sloom
soos ‘n pers slang gebars het. Die digter is dus besig met ’n bestekopname
namens ‘n mede-digter met ‘n gewete. Op ‘n retoriese wyse word die volk dan ook
aangespreek en tot orde geroep. Eers
wanneer alle mense begrip het vir ander se ellendes, kan daar van so ‘n begrip,
naamlik volk, sprake wees:
ons sal ‘n volk
wees wanneer die sedepolisie
die hoer en die
owerspelige vrou gaan beskerm
teen die klip en
die klap van die knuppel op straat (28)
Die digter
Breytenbach is dus buikspeker vir sy mede-digter.
In die nawoord
verduidelik Breytenbach hoe intens sy gedigte vervleg is met die gedigte van
Darwish. Hier is dan sprake van verskillende reise: van die lewe na die dood,
van een digkuns na ‘n ander en uiteindelik: van selfgesprek tussen Afrikaans en
Engels. Die twee spieëltekste maak belangrike stellings oor hoé die digter van
een taal na ‘n ander beweeg of reis.
“Ek beskou
hierdie fragmente as lofbetuigings. Miskien ook ‘n poging om die sluier te kan
wegtrek van die bekende gelaat wat nou stil geword het”(62).
En die
noulettende leser sal veel plesiere (eintlik jouissance) put uit die eindelose
vervlegtings tussen twee digters se tekste én hoe Breytenbach uiteindelik sy
eie Afrikaanse teks verander en subverteer.
‘n ander dag sal
aanbreek, ‘n vroulike dag
deursigtig in
vergelyking, geheel in syn gebrand (58)
word
another day will
inbreed, froglike and female
transparent in
comparison, gavelled in being (59)
Hierdie tekste
is helaas nie deursigtig nie. Dit sit vol verwikkelde en opwindende raaisels
wat die leser moet oplos. Soos waarom word vroulike herdig in froglike / female
/ womanly?
En op my beurt
lees ek weer hierdie gedig as ‘n briljante gesprek met Julia Kristeva se
nooit-volprese studie oor digterlike taal, Desire in language, waarin die
siening van poëtiese taal as intiem-vroulik gedefinieer word. ‘n Terug beweeg
in die semiotiese of pre-simboliese dimensie. Hierom dan ‘n tersaaklike beeld
soos “water sal syfer uit die klip / se skoot” (58).
Dit is ‘n teks,
nee eintlik twee tekste, waaragter vele ander skuilhou, wat die liefhebber van
die digkuns sal behaag.
Die bundel is ‘n
treursang of lykdig.
By geleentheid
het die digter hierdie bundel beskryf as ‘n collage, oftewel getransformeerde
variasies. Die afskeid van die geliefde vriend is terselfdertyd ‘n bewuswees
van ‘n eie nietigheid en sterflikheid.
bo die bouvalle
skater ‘n leedvermakerige maan
soos ‘n mal vrou
met ‘n stukkende skepbeker
wanneer sy haar
gesig in die put sien verrimpel (54)
Onsienbaarheid /
unseeingness – niksheid. Hieroor het Breytenbach al so uitgebreid gedig. En die
spieëls sal inderdaad aan die stemme gehang word.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad
geplaas.]