Friday, February 8, 2013

Jeanne Goosen - ‘n Paw-paw vir my darling (2006)



Jeanne Goosen: ‘n Paw-paw vir my darlingKwela boeke, 2006. ISBN 0 7967 0241.

Resensent: Joan Hambidge

Elke beroep het sy ingeboude gevare en eise. Die beroepsresensent word uitgeskep as die resensie negatief is; verheerlik as dit positief lui. Met die jare leer jy om die kaf van die koring te skei en jou te troos aan jou oordeel wat ingekleur is deur die oomblik, die modes van die tyd en die letterkundige klimaat. Dikwels keer jy terug na boeke en lees jou eerste indruk – en dit is terloops al wat ‘n resensie behoort te wees – en voel: ek was tog nie verkeerd nie. Of jy kyk terug en dink hoe die tyd verander het en die eerste lesing te postief was. Die goeie resensent is soos ‘n Recce. Jy moet fiks wees en net luister na die opdrag in jouself: is dit ‘n goeie boek en wie is die teikengehoor?

Toe Jeanne Goosen se ‘n Pawpaw vir my darling in 2002 verskyn het, was ek gaande oor die boek. Marlene van Niekerk het ‘n dwarsklap na my uitgedeel omdat ek die boek as te positief ervaar het en ellelange ander satires aangestip wat oortuigender is.

Goosen is ‘n vernuwer in Afrikaans en haar Om ‘n mens na te boots, Ons is nie almal so nie en Lou-oond, om drie seminale tekste uit te sonder, bly hoogtepunte in Afrikaans.

Ook haar weeklikse rubrieke in By stip ‘n aweregse blik aan met satire en swart humor as haar handelsmerk.

In ‘n Pawpaw vir my darling het sy dit weer oor die Afrikaner van die verkeerde-buurt worstelend met die nuwe Suid-Afrika. Om die nuwe Suid-Afrika te verstaan, moet jy natuurlik telkens die oue inbring.

Dit lewer skerp sosiale kommentaar en beweeg verby politieke inkorrektheid in ‘n post 1994-Suid-Afrika.

Tsjaka, die Beeslaers se hond, is die verteller: “’n free spirit en stud” en hilariese (dog hartverskeurende figure) soos Tango du Toit, die Beeslaers, Elvis en Mabeline kom gooi hier in draai in ‘n verhaal vanagter die wa-wiel-hek.

Pretoria.

Pretoria verdeel in sy kommen Weste en ryk Ooste en ‘n verdwaalde poedeltjie, Mignon, versteur die orde.

Loslyf, Frik du Preez- en Jaap Marais-strate, ‘n Emsie Schoeman-sopkombuis, Lucky Dube, slap tjips, chicken peri peri, bunions, Charlise Theron en wie nog.

Elvis het ‘n “cherry” wat Indies is; Rusty het ‘n gay-verhouding met ‘n nurse in Vanderbijlpark.

Hiperbool en stereotiep.

Rusty dra ‘n nommer 13-skoen, werk by Yskor en ry haar mini met ‘n swaar voet.

Girla van Huis Herfsblaar.

‘n Intrige by ‘n Bles Bridges-konsert.

Hierdie roman doen vir die vertelkuns wat P.G. du Plessis se Siener in die suburbs vir die dramakuns in Afrikaans gedoen het, was my oordeel.

En dat dit ‘n soort antwoord wil wees op Van Niekerk se Triomf sonder die outeursmanipulasie en dat ek diep onder die indruk was van die fyn orkestrasie van elke tema en motief. Ek was te midde van lagbuie ook ontroer deur die verdriet rondom Rusty se afgetekende kind en die soeke na erkenning by ‘n Bles Bridges-konsert.

Die leser sal egter self moet besluit of die tyd hierdie boek ingehaal het en of die roman nog so snaaks is.

Is die patos steeds daar?

Of word satire se tande ongelukkig deur die tyd getrek?

Is dit steeds snaaks om die spel met “pawpaw” – Pretoria-Oos Afrikaners se uitspraak van pa en Wôterkloof aan te hoor?

Overgesetsynde: as ‘n Seder val in Waterkloof vandag weer opgevoer word, sal dit dieselfde trefkrag hê as indertyd? Of is baie van die grappe nou erg gedateer?

Damnville (nie Dannville nie) wil alreeds ‘n verwringing van die werklikheid aanstip en dat ons hier iets oordrewe en sat gaan aantref.

Jeanne Goosen kan vertel. Dis nou maar wors.

Haar blik op vernaamdoenery is ‘n handelsmerk net soos die gebruik van platwoorde (Huibie Hoëhol) en die verwringing van bekendes se name (die arme Lina Spies!).

Een van my kollegas weier om ‘n eerste goeie leeservaring te bederf. “Nee,” meen hy. So ‘n boek moet jy onthou nes dit was. Dis amper soos om ‘n skoolre-unie by te woon. Die teleurstelling is net te groot!”

Die hou op die maag is egter minder fel. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]