Fransi Phillips. Die donker god. Umuzi, 2007. ISBN 978
1 4152 0008 7.
Resensent: Joan
Hambidge
Die romankuns
van Fransi Phillips huiwer altyd tussen droom en werklikheid, verbeelding en
omtowering daarvan in verhale. Deur die jare het sy ‘n aantal belangrike tekste
gelewer wat die binnespraak van die skrywer se “dromende denke” ten volle
ontgin: Sewe-en-sewentig stories van ‘n
clown, Theresa se droom en die
pragtige Herfsverhale. Sy het haar
ook al as digter onderskei met verse waarin die metarefleksie, oftewel die
proses tussen dink oor die gedig self, die leser bybly soos in ‘n vers oor
Lorca.
Haar jongste
roman word deur Umuzi uitgegee onder die titel Die donker god met ‘n stroperige voorblad wat by hierdie leser
aanvanklik weerstand ontlok het. Net soos die buiteflap wat ‘n wanindruk skep.
Maar wanneer jy
die roman begin lees, word jy ingetrek in ‘n teks wat jy nie kan neersit nie.
Die gegewe is oënskynlik eenvoudig: ‘n vrou raak verlief(?) by ‘n man wat haar
wil beheer. Hy koop selfs vir haar ‘n apie uit ‘n eksotiese land, allerlei duur
geskenke – maar wanneer sy met ander mense probeer kontak maak, reageer hy
woedend op haar optrede. Geweld, fisiek en verbaal, word deel van hierdie roman
wat die fyn interspel tussen man en vrou ontleed. ‘n Boek wat vroue at by FAMSA
werk sou kon lees: waarom verlaat vroue nie mans wat hul mishandel nie?
Daar is dikwels
die opmaak (met geskenke, die versoening in lyflike plesiere), maar daar is ook
‘n psigologiese afhanklikheid waarop die menslike psige teer. Die verhouding
tussen meester en slaaf, onder meer en sado-masochisme (De Sade se
Sodom-tekste) ondersoek hierdie afhanklikheidsindroom. Die jong vrou, ‘n
student, word verlei deur die ouer “god”, ‘n lewenswyse man wat haar selfs
toesluit om haar te probeer beheer. Jaloesie, nydigheid, passie is van die temas
wat hierdie roman op ‘n tipies Phillips-wyse analiseer: kort hoofstukke wat
staccato-agtig in afdeling na afdeling oorloop. Suggesties van pyn en die
fantasie wat ‘n wyse van ontvlugting word.
Georges Bataille
se Story of the eye (1979) en
Pauline Réage se Story of O (1965)
het raakvlakke met hierdie boek: eersgenoemde wat betref die droomkwaliteit en
laasgenoemde in die ontginning van die liggaamlike oorskryding. Die roman het
‘n belangrike motto van Camille Paglia as rigtingwyser waarin seks beskryf word
as ‘n donker mag. Paglia meen dat die feminisme dit nog nie genoegsaam erken
het nie. In die erotiek is daar spoke opgesluit meen sy:”It is the place beyond
the pale, both cursed and enchanted”. Sy gebruik die sterk woord “stalk”.
En dit is wat
Pippa beleef vanaf die ervaring van ‘n Lina Wertmüller-film, die belewenis van
fluitmusiek, die ervaring van eensaamheid, die beluistering van Callas, ‘n
tragiese ikoon.
Erotiek kan by
implikasie net werk as dit grensoorskrydend, vol geheime, betredend of “verkeerd”
is. Die donker drifte van die seksuele word vergestalt in die aanskaf van ‘n
primitiewe apie en die verhaal van Pelléas en Mélisande en die verwysing na die
verbode liefde (p. 31).
Die vroulike
apie se naam is natuurlik...
Paglia het
uivoerig geskryf oor die donker drifte van seks en erotiek en veral in Vamps & Tramps (1994) belangrike
stellings gemaak oor die paganistiese aspek van die seksuele.
Die Arabiese Nagte is
eweneens ‘n belangrike interteks – net soos die relevansie van die skoene wat
die hoofkarakter dra.
Hierdie teks
gaan net om vertelling nie; dit gaan om die vrou wat stories vertel vir ‘n
koning om ander vroue te red. So gelees, het hierdie roman ‘n sterk
waarskuwingselement en wil die boek iets oordra van die gevare wat die
obsessionele liefde inhou.
Dit oortree die
jong vrou – hierom moet sy en haar minnaar in aparte kamers slaap wanneer hulle
by haar ouers oornag.
“Die donker god”
studeer in die Sterrekunde en die verwysings na sterre is ‘n motief wat
betekenisse indra, nes die verwysings na vakume en ander geleerde kwessies in
die fisika. Die hoofkarakter lees De Sade en is goed onderlê in die
kunsgeskiedenis. Die roman maak belangwekkende stellings oor die modernisme se
obsessie met oorlog en liefde.
Die roman het my
meegesleur. Dit is geskryf met seker hand. Dit suggereer en terg soos ‘n
erotiese fantasie. Agterna bly passasies jou by.
Miskien – aan
die debietkant dan – is daar soms passasies wat ‘n bietjie te veel klink na ‘n
hygroman?
Dit is ‘n boek
wat almal moet lees wat dink jy kan erotiese afhanklikheid rasioneel “begryp”.
Die boek lewer sydelingse kommentaar op vroue en meer spesifiek op jong
Afrikaanse vroue wat grootgeword het in ‘n Afrikaanse, Calvinistiese omgewing
waar die pers jakarandas die stad versier.
Bronne:
Paglia,
Camille: Sex, art and American culture.
Viking, 1993.
Paglia, Camille: Sexual personae - Art and decadence from Nefertiti to Emily Dickinson. Penguin, Londen.
1991.
Paglia, Camille: Vamps
& tramps. Vintage Books, New York. 1994.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die
Volksblad geplaas.]