gert vlok nel. om te lewe is onnatuurlik. Tafelberg
Uitgewers, 1993/2006. ISBN 0 O624 04505-6.
Resensent: Joan
Hambidge
gert vlok nel
(sy naam is in kleinletter soos fanie olivier en ee.cummings) het met een
digbundel kultusstatus bereik. om te
lewe is onnatuurlik is in 1995 bekroon met die Ingrid Jonker-prys en na sy
debuut het gert vlok nel, ‘n troebadoer, eerder bekendheid verwerf as sanger.
Poetry
International, rock-feeste, konserte, ‘n film oor sy lewe en die mitologie van
die sekuriteitsbeampte wat digter geword het, het deel van sy lewe geword. Hy
het die “beautiful” woorde van Beaufort-Wes die wêreld ingedra en die
eenvoudige spoorwegbestaan vir mense oopgemaak.
Hy het
waarskynlik nie die digkuns verlaat nie, maar eerder van die bedompige
verseboeke beweeg na die verhoog. Vir party kritici is dit ‘n teleurstelling
dat hy verhoog verkies bó die “koue, hoë eensame modernistiese paaie”. Vir
ander dui dit egter op die verandering van die digterlike diskoers wat in ‘n
postmodernistiese tydperk o.a. die parlando verkies. Jong mense bely dat dit ‘n
aand by ‘n “show” meer beteken as om voor ‘n boek te sit. Oh dear reader(s), we
are a dying breed!
Persoonlik wag
ek op die tweede digbundel; nie ‘n “song”-boek nie, maar ‘n bundel waarin die
belofte van die eerste boek vérder gevoer word. Vir my is die openbare optredes
die “maklike uitweg” veral vir ‘n skrywer wat soveel belofte getoon het.
Die eerste is
immers geloof om die gesprek met Van Wyk Louw, die e.e. cummings spel met taal,
die ongewone gebruik van die ‘n wat hier foneties “i” geword en die genadelose
uitstalling van die naakte “ek”. Verder is / was die gebruik van sketse
eweneens ‘n aanduiding dat hierdie bundel buite die orde van die konvensionele
bundel beweeg.
Die “nuutheid”
is nie meer so nuut nie. ‘n Mens lees die boek dus nou ‘n paar jaar later – en
sedert 1993 het daar vele nuwe stemme bygekom. gert vlok nel het wel ‘n nuwe
aanslag gebring; dit is bepaald só, maar ‘n mens voel dat die belofte nog nie
volvoer is nie.
Die eenvoudige
praatvers bly die hartsnare roer soos die gedig “Rita” wat ‘n lewe het waarvan
die hoop op uitkoms bly roep of die uitmuntende “dit maak nie saak wanneer nie”
waarin ‘n verspeelde lewe raak beskryf word:
dit het alles te
doen met skooljaarboeke en spoorwegdorpe
en ver droomuniversiteite
en hartstog en jare en
lyding &
leed. en sukses & seks. en wie wat in die lewe erf:
meneer Joubert
het weggegaan en het gesterf (p. 35).
Nog steeds bly
“die dag toe hulle vir Donkie Viviers” ‘n kragtoer met sy inspeel op Van Wyk
Louw:
& die
laat-middag het chroom geword.
& trein wat
ysig fluit (p. 38).
En natuurlik bly
die volgende uit “die eienaardige verwikkeling op lemoen” onthoubaar:
godweet daar is
baie digters in afrikaans Oupa
soveel metafore
(vir alles wat
ongesê moes bly)
om te lewe (p.
41).
‘n Persoonlike
gunsteling bly: “laaste herinnering aan Magdaleen” en die volgende reël som ‘n
hele bedryf op:
toe die liefde
nog nie intertekstueel was nie... (uit “hillside”).
Dit is aardse
verse oor “hard-luck”-mense geskryf met oënskynlik geen kennis van die werkinge
van die digkuns, maar die aantal self-refleksiewe verse en die verwysings na
Louw en die funksie van ryme, bewys dat daar ‘n berekende spel met die leser
gespeel word.
Dit is ‘n
besonderse talent. ‘n Digter kan egter net ontwikkel wanneer daar gepubliseer
word en hy/sy deur die groeiproses van publikasie, ontvangs en die toets van
kritiese mening beweeg.
Anders bly jy
vassteek by ‘n eerste. By die benaming kultusfiguur. En later word jy onthou om
jou kultusstatus en nie om jou gedigte nie.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]