Jeanette Ferreira. Die son kom aan die seekant op. Human &
Rousseau, 2007. ISBN 978 0 7981
4882 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Jeanette
Ferreira is sowel digter as romanskrywer. Sy het reeds bekendheid verwerf as ‘n
deeglike uitgewer en ‘n skrywer van ‘n hoogs leesbare kampusroman Sitate om ‘n
rewolusie (1985), ‘n behendige kortverhaalbundel wat o.a. die struggle
aanspreek Die mammies, die pappies, die hondjies, die katjies (1989) en ‘n
reeks historiese romans Babette (1995), Catharina (1996) en Charlotta (1999).
Sy het ook die gewilde Boeroorlogstories in 1999 uitgebring en deur die jare
haar belangstelling in die komplekse veld van die geskiedenis laat blyk. Verder
is daar Die onsterflikes (1995).
Dit is teen
hierdie agtergrond wat die leser dan haar jongste teks benader, Die son kom aan
die seekant op, wat verduidelik word as ‘n epiese tog van Louis en Martha
Tregardt (sic) van die Kolonie tot by Delgoabaai.
Die boek word
tereg op die skutblad aangeprys deur ‘n gesiene historikus en skrywer wat enorm
baie gedoen het om droë geskiedkundige feite vir die gewone mens óóp te maak,
te wete Louis Changuion.
Ferreira verskaf
‘n uitgebreide bronnelys vir die leser wat verder wil naspeur en ‘n naamlys –
omdat dit soms kophou kos in die roman. (Is dit toevallig dat daar ‘n tersyde
verwysing na Couperus se Van oude mense en de dingen die voorbijgaan is?)
Wat Antjie Krog
as digter gedoen het, naamlik om as buikspreker op te tree vir die stemlose
vrou, ‘vertaal’ Ferreira hiér in romanvorm.
Dit sou byvoorbeeld ‘n navorser kan loon om die verskille tussen ‘n
historiese omdigting in versvorm teenoor ‘n romanteks te vergelyk.
Ferreira bely
tereg in die nawoord dat ‘n teks nie deur mens geskryf word nie. Veral nie
wanneer die werklike skrywer as buikspreker optree vir die stemlose persoon
nie, soos uitmuntend gedoen deur Yvette Chritianse in Unconfessed.
Ferreira
verduidelik o.a. die relevansie van getrouheid aan die dagboek (soos sebras wat
kwaggas is); die vraag rondom die egtheid van die foto van Tregardt, aangesien
fotografie eers teen 1845 die Kaapkolonie bereik het; die gebruik van die
dagboek (1938), ensomeer.
Jeanette
Ferreira erken tereg wanneer sy gefabriseer het, en, beklemtoon dat Tregardt
waarskynlik ‘n dagboek gehou het Martha ontwille!
Trigardt/Trigard/Tregardt/Tregaardt
was van die verskillende vorme waarop hy sy naam geskryf het, maar die roman
volg die oorspronklike spelwyse wat op ‘n Sweedse afkoms dui.
Dit is ‘n hoogs
aangrypende roman wat vir sowel die historiese belangstellende leser as die
feministiese leser van waarde sal wees. Wat my in die besonder geïnteresseer
het, is die nougesette navorsing en hoe een persoon se representasie van ‘n
(stemlose) ander, deur ‘n fiksionaliserende skrywer tot lewe gebring word.
Ons lees hier ‘n
sober gestroopte prosa, minder dramaties (of dan melodramaties) wat so steurend
ingewerk het in die vroeëre historiese werke.
Dis
bewaringswerk om só ‘n optekenaar en vertolker te wees van ‘n stuk geskiedenis.
As kind het ek
hierdie gedeelte van die geskiedenis geháát en oervervelig gevind. Nou is dit
‘n wonderbaarlike leeservaring en in jou geheue praat al die geskiedenislesse
uit jou jeug saam.
En die gebruik
van die Meester (wat verduidelik wat ‘n sloep is) en die verwysings na die
Bybel, maak van hierdie roman iets meer as ‘n roman. Die outydse aard van die
gegewe is bewaar: in Martha se huis sal Lewies vir haar ‘n “dienlike” kookplek
aanlê (p. 200). En dis hier waar die titel dan ook vir die leser verduidelik
word: vol ironiese implikasies.
Dit word ‘n
tydsdokument. ‘n Kladboek van ‘n optekenbaar.
Jeanette
Ferreira het die hortjies van die geskiedenis vir ons oopgemaak.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]