André le Roux. Kom ons sit
sommer by die tafel. Human &
Rousseau, 2008. ISBN 978 0 7981 4924 2.
Resensent: Joan
Hambidge
André le Roux se
tekste was nog altyd in omstredenheid gedompel. As jong digter word hy deur die
sensuurraad hok geslaan met Struisbaai-blues (1977), ‘n digbundel. Hierna volg
‘n novelle Te hel met ouma! (1980) en Sleep vir jou ‘n stoel nader (1987).
Deur
grensverskuiwings. Deur tekste wat die werklikheid uitdaag, beskryf en aan ons
terugkaats sodat die leser ongemaklik voel oor geweld, machismo en
ongeregtigheid.
Dit is relevant
dat op die oomblik wat Human & Rousseau André le Roux se kortverhaalbundel
lanseer, daar terselfdertyd ‘n versameling van Koos Prinsloo se gedurfde
verhale weer uitgegee word.
Le Roux en
Prinsloo het die kortverhaal in Afrikaans op sy kop gekeer, soos Alexander
Strachan in ‘n Wêreld sonder grense waarin die grensoorlog vanuit die
perspektief van die jong soldaat beskou word.
Die tagtigerjare
het kortprosas opgelewer wat dikwels digterlik in aanbod was. ‘n Soort heupvuur
van verwonding én opstand.
Le Roux het met
sy verhaalbundel Sleep vir jou ‘n stoel nader – wat in hierdie bundel weer
opgeneem word – die sogenaamde new journalism in Afrikaans ontgin. As
voormalige joernalis van Die Huisgenoot het hy verhale geskryf na aanleiding
van werklike gebeure: ‘n opehartoperasie op ‘n kind, ‘n besoek aan ‘n lykshuis,
die naglewe…
Die leser word
op die voorblad meegedeel dat ons dokumentêre fiksie lees of realiteitsfiksie
wat die skrywer toelaat om kommentaar te lewer deur waarneming. “I am a camera”
van Christopher Isherwood word dus opnuut betrek en uit erkennings blyk dit dat
‘n teks “bygevoeg” is. As ‘n soort nagedagte, ‘n voetnoot, ‘n endnoot.
Dit word dan ‘n
eiesoortige soort ego-dokument deur ‘n skrywer wat via nuusberigte die
ongekaarte roetes van ‘n gemeenskap se onbewuste beskryf.
In hierdie ryk
geskakeerde bundel ruk Le Roux jou oudergewoonte aan die keel met sy vonkprosa.
Hy skryf ‘n eerste verhaal wat so minimalisties afgeweeg is rondom ‘n weduwee
Celliers se eensaamheid en haar huishulp. In die tweede verhaal vind ons ‘n
verhaal oor dieselfde Beauty: gebaseer op ‘n koerantberig uit Die Burger van 6
Januarie 2007. Welvaart teenoor armoede; madam teenoor bediende teenoor mekaar
afgespeel en die leser voltrek die eintlike verhaal in haar gemoed.
“Deur ‘n
loergaatjie” is ‘n gelade skokkende verhaal wat inspeel op die gegronde vrese
van die daaglikse bestaan in Suid-Afrika: selfs die behulpsame nutsman moet
wantrou word. Dit word gesinkopeer met dokumente soos ‘n doodsberig vir P.W.
Botha, ‘n rasseklassifikasie en ‘n Akte van die Suid-Afrikaanse Weermag wat die
leser laat intuimel in die niemandsland tussen die ellende van die ou
Suid-Afrika en die nuwe Suid-Afrika.
Dit is ‘n ruimte
van ontheemding, onsekerheid, geweld, brutaliteit en ‘n versugting na ‘n ruimte
van rus. Al hierdie toestande verken die skrywer met sy priemende blik. Hy is
‘n Isherwood met ‘n videokamera wat onder alles ingaan en afneem. Die outeur
gee vir ons die “dreigende oog van ‘n veiligheiskamera” (p. 87) wanneer ‘n
onskuldige man daarvan verdink word dat hy ‘n selfoon opgetel het wat nie aan
hom behoort nie.
In ‘n Kafkaeske
toneel word die man uitgevra oor vreemde sms’e op sy foon en die einde, weet
die leser, is gelade en sal vir ewig ‘n effek hê op die man se waarnemings.
Inderdaad herhaal ‘n klein vinjet hom later in ‘n flardeverhaal.
Vele van die
tekste speel met die outobiografiese gegewe, of dit, wat ons meen herkenbaar of
realiteitsfiksie is. Wat is teks? Koerantberig, FAK-program, dokument, brief word alles
verhaal. Tekste flits heen en weer: Ferdi Greyling se verhaal word al hoe
hewiger…
Die invloede van
Raymond Carver se ‘dirty realism’ is hier te lese en die verbluffende kortkuns
van Dave Eggers wat soos Le Roux ‘n verhaal skryf geanker tussen gedig en
kortverhaal. Bukowski praat saam en die ouer en nuwe bundels word ‘n tweeluik:
een vorm van geweld word vervang deur ‘n nuwe aanslag. Die styl is gestroop;
die effek afgeweeg bykans asof jy ‘n prosagedig lees. Waarom is daar soveel
verlore kinders? Op die dag wat Khensani Mitileni se moordenaars gevonnis is,
verskyn hierdie boek oor ‘n gemeenskap waar kinders geen beskutting het nie.
Die bundel praat met Ingrid Jonker se “Die kind”, oor die ellende wat net nie
wil endkry nie.
Dit is tekste
van paranoïa.
‘n Allamagtige
boek. Grensverskuiwend goed. Te hel met al die middelmatige prosa wat tans in
Afrikaans verskyn!
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]