Isobel Dixon. A fold in the map. Jacana Press, 2007. ISBN 978 1 770 095281.
Resensent: Joan Hambidge
Die digkuns van Isobel Dixon word gekenmerk deur ‘n sterk
intellektuele beheer. Dit kortwiek egter nie die liriese of emosionele uitinge
nie. Haar debuut Weather eye (2001) is tereg bekroon met die Sanlam- en Olive
Schreiner-pryse.
Hierdie bundel word gekenmerk deur onder andere nostalgie,
wat in die tweede bundel, A fold in the map voortgesit word.
Nou onlangs is
Elisabeth Eybers oorlede, ‘n digter wat met die sowel/as-aanslag getipeer van
word. Behorende tot die Afrikaanse èn die Nederlandse digkuns. Daar is by
Eybers dan selfs sprake van ‘n tussentaal en in aangrypende verse ‘n verlange
terug en ‘n gevoelige kartering van die nuwe landskap.
In A fold in the
map vind die leser eweneens ‘n spanning tussen die leefwêreld van die huidige
(Cambridge) teenoor die herinneringe van ‘n jeug in die Karoo. Die sibaritiese
nou teenoor ‘n jeug van besuiniging en beperking. In die dorre jeug ontwikkel
die kind dan ‘n enorme verbeelding en is sy as’t ware besig om die innerlike
reis te begin soos beskryf in “Foreshadow” (p. 20).
Die gedigte
ontstaan dan in die spanning wat geskep word tussen toe / nou, werklikheid /
herinnering, ensomeer wat die teorie beklemtoon dat dit wat onder andere
verlore raak tussen ‘n teks en sy vertaling, die eintlike teks is. En digter is
hier deurgaans besig met ‘n andersoortige vertaling. Sy verduidelik haar
kondisie aan lesers in Engeland, terwyl die verlange terug na die plek van
herkoms weer praat met lesers tuis. Ons word dan deel van die innerlike
odusseia waar ‘n telefoon, die kontak met die land van herkoms, beskryf word as
“pain’s propaganda tool” (p. 46). Die eerste afdeling heet “Plenty” en in
“Fruit of the land” (p. 7) word nostalgie eweneens geaktiveer as ‘n belangrike
stylmiddel om die hede en verlede te sinkopeer.
Met die Bybel as
‘n belangrike bronmiddel vir die skep van beelde.
In “Positano”
(p. 25) is daar ‘n versugting dat die ou self afgesterf kan word in ‘n gedig
wat ons kan lees as ‘n variasie op die “wish you were here”.
En die gedig
speel ook voortreflik in op Mister Ripley se lot.
In die afdeling
“Meet my father” word die belewenisse rondom die afsterwe van die vader beleef.
Daar is twee foto’s van die vader op die buiteblad: op die eerste een sit die
jong kind langs die vader; op die tweede kyk die vader in ‘n tru-spieëltjie
waarskynlik afgeneem deur die digter. Die gedig as spieëlteks is ‘n bekende
gegewe in die literatuurteorie.
Hiermee dan die
dubbelloop-aksie van die gedig: die vader is die objek van verkenning waardeur
die spreker haar eie identiteit beskryf en evalueer.
Besoeke aan die
hospitaal en ‘n vereenselwiging met die vader se lyding word hier oortuigend en
in emotiewe taal weergegee. Die afstand wat vele van die ander verse kenmerk
word hier ópgehef in die navigasie van verlies.
Dixon aktiveer
dikwels ou Engelse verse en rituele wat die reikwydte van die gedigte vergroot
soos in “After grief” (p. 66) en “Tear” (p. 46) met die verwysing na stigmata.
Die hele tradisie van die Engelse lykdig en die dekorum wat dit vereis, word
dus hier geaktiveer. Selfs Rilke se sonnette vir Orfeus met die waarskuwing dat
brood en melk op die tafel die dooies mag aantrek.
In hierdie
afdeling word die aftakeling van die vader, met sy eens groot aptyt vir die
lewe, beskryf en in “Struggle” (p. 52)
word skip-beelde gebruik wanneer die spreker met die matrone in interaksie tree
rondom ‘n besoek: die vader, eens ‘n man van aansien, is nou onder haar bevel.
En in die gedig “Singsong” (p. 53) word die besoek as ‘n soort musical
aangebied. Deurgaans bly die leser bewus an die impak van hierdie ervaring. Dit
is telkens ‘n “fold in the map”, ‘n tegniek om ‘n kaart so te vou dat jy net
die gedeeltes oopmaak wat jy benodig. Op dieselfde manier is ‘n gedig ‘n
moment, ‘n oomblik waar verskillende roetes in die psige kruis.
In “Kudu Watch”
(p. 30) is daar ‘n pynlike slot en waarskynlik sal die digter in komende jare
hierdie pyn en woede karteer. Waarskynlik, soos dit dikwels met ouer digters
gebeur, sal meer formele vorme verder gekarteer word.
Dis ‘n
aangrypende en mooi bundel.
Net een beswaar:
die leser raak, soos by Gabeba Baderoon, ‘n bietjie op vir al die bedankings en
loftuitinge. Dit is nie vir ‘n digter nodig om elke leser en meelewer en
uitgewer te bedank nie en elke kompliment op die boek af te druk nie. Laat die
verse sélf praat. Dit skep dikwels
eerder ‘n leesweerstand. En beklemtoon die digter se onsekerhede. En dis
onnodig.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]