Monday, February 4, 2013

Germaine Greer - Shakespeare’s wife (2007)



Germaine Greer. Shakespeare’s wife. Bloomsbury, 2007. ISBN 9 786 74769 170 2.

Resensent: Joan Hambidge

Die naam Germaine Greer roep etlike verwysings op: The female eunuch (1970), aantreklike feminis, Shakespeare-kenner, “bekeerde” feminis, kampvegter vir aborsie, belyer oor ellendes van aborsie, versugting na ‘n kind. En een van my gunsteling-Greer-uitsprake is dat vrouens vér te veel mag gee aan die manlike penis wat sy reduseer tot ‘n stukkie vleis. Daar was geweldige omstrede kwessies – soos ‘n aanranding deur ‘n mal bekruiper, waarop Greer verseg het om die slagoffer te speel; eindelose dispute met haar Australiese burgerskap en vermeende toestemming van aborigines ten op sigte van haar latere toelating tot haar geboorteland.

Boonop is sy een van die intelligentste skrywers binne ‘n bepaalde veld van feminismes en sy het deur die jare dikwels van standpunt verander. As dosent was sy verbonde aan instansies in die VSA, Brittanje en Australië. In 1967 het sy haar doktorsgraad aan Cambridge behaal met ‘n studie oor Shakespeare se komedies. Haar jongste studie heet Shakespeare’s wife en Ms. Greer wys op al die manlike wanopvattinge oor die eggenoot van Will. Ann Shakespeare is weliswaar uit sy testament gelaat, maar die verhaal is nie so eenvoudig as wat manlike lesers wil voorgee nie.

Hoewel sy ouer was as hý, het hy kennelik die huis verlaat om hom ten volle aan sy skryfwerk te wy. Germaine Greer ken die kodes van die tyd en sy maak ‘n komplekse analise van hierdie verhouding. Dit is dan onregverdig om háár as ongeletterd en as sy vyand voor te stel. Die mites rondom Shakespeare se vrou (wat ‘n besigheidsvrou in eie reg was) word deur ‘n gedugte kenner ontmasker met bronne en bewyse. Ek bewonder Germaine Greer vir haar nougesette navorsing en dat sy as feminis deur die jare haar posisie genuanseer en verander het.

Daar is onder andere ‘n verskil aantoonbaar tussen die jonger en ouer Greer.

Vanaf The female eunuch tot nou het geweldig baie gebeur in haar denke. Die jong feminis wat eksperimenteer met seks en die publisiteitsfoto waar sy kasueel uitgestal is tot die latere ouer vrou wat haar kwellings uitspreek oor die ekstreme uitsprake van eens.

Die feit dat sy steeds ‘n boek skryf soos Shakespeare’s wife (2007) bewys dan waarskynlik dat vroue nooit moet ophou om hul posisies te verdedig nie. Trouens, vir my is Germaine Greer se grootste bydrae om juis te kyk na geïnsitusionaliseerde ‘othering’ van vroue wat dikwels só deel word van ons denke en benadering tot tekste (soos o.a. Shakespeare) dat dit nie eens bevraagteken word nie.

Die titel van The female eunuch tree natuurlik in gesprek met Freud se siening van die vrou gedryf deur penis-nyd.

Wat ons dan neem na Simone de Beauvoir se opvatting dat die vrou ‘n tweede seks is. Danksy Germaine Greer se baanbrekerswerk kon vele ander feministe voortbou en skaaf aan haar uitgangspunte, radikaal en minder radikaal.

Sometimes a penis is just a penis, sou sy Sigmund F(r)eud waarskynlik nou aanpas. En haar bynaam is tereg The untamed Shrew. Ander boeke is Sex and Destiny: the Politics of Human Fertility (1984) en The Change: Women and the Menopause (1991).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]