Monday, February 4, 2013

Yvette Christiansë - Unconfessed (2006)



Yvette Christiansë. UnconfessedKwela, 2006. ISBN 978 0 7957 0258 7.

Resensent: Joan Hambidge

Oor hierdie boek is groot gewag gemaak en dit is o.a. bekroon met die ForeWord Magazine BEA-toekenning en op die kortlys vir die Hemingway / Pen-prys vir ‘n besonderse debuut. As digter het sy die aangrypende Castaway in 1999 gelewer.

Anne Landsman van The devil’s chimney, ‘n boek wat die prys moet kry vir ‘n roman waarin ’suspension of disbelief ’ tot die uiterse gevoer word en Antjie Krog, digter en skrywer van o.a. A change of tongue, word op die voor- en agterplat aangehaal.

Die roman vertel die verhaal van Sila van den Kaap, slawevrou van Jacobus Stephanus van der Wat van Plettenbergbaai.

Was sy ‘n moordenaar?

Sy is gevonnis tot lewenslange tronkstraf op Robbeneiland waar sy klippe gekap het in die kwarrie.

Negentiende-eeuse tronkrekords is nagegaan en die Bleek / Lloyd-dokumente geraadpleeg om die verhaal te vertel.

Nou is dit so dat die leser onmiddellik wonder wat sou Dalene Matthee van die gegewe gemaak het? En hierdie roman, interessant genoeg, verskyn op dieselfde tyd as Jeanette Ferreira se Die son kom aan die seekant op, wat die epiese tog van Louis en Martha Tregardt (sic) van die Kolonie tot by Delgoabaai nagaan.

Historiese romans verg ‘n besondere talent. Die outeur moet getrou bly aan die historiese feite, maar terselfdertyd die verbeelding inspan om aan die vertelling ‘lyf’ te gee. Dikwels is die gevoelige romansier dan in staat om die hiate in die historiese gegewe in te vul.  Daar bestaan ook epiese en liriese verse waarin die historiese blik gefiksionaliseer word: ons dink hier aan Krog se vele verse oor geskiedkundige figure, veral oor Lady Anne Barnard.
Die outeur is ‘n buikspreker vir die diepste emosies en ideologie van sodanige karakter.
Dit spreek vanself dat hierdie identifikasie met so ‘n figuur neerkom op ‘n sonderlinge simpatie of ooreenkoms. Of die outeur wil die persoon aan die vergetelheid ontruk. 
Die titel Unconfessed wil dus duidelik belemtoon dat die leser nie belydenis moet verwag nie; of dat die vertelling nie as blote konfessie gelees moet word nie.

Distansie, historiese beheer, e.d.m. word deur die titel gewaarborg.

Die boek is vlot geskryf en Afrikaanse dialoog word weergegee met ‘n Engelse vertaling in die teks sodat die leeservaring nie versteur word nie. Die kwessie van slawe en hul posisie is tans in vele romans die tema van ondersoek. Trouens, veral wanneer ‘n vrou oor ‘n ander vrou skryf, kom daar sowel politieke as feministiese kwessies na vore. Die skrywer vir die rekord is self ‘n bruin vrou, wat hierdie teks des te meer ironies en ‘’aanvaarbaar’’ maak. Wanneer ‘n man hierdie onderwerp sou aanpak, mag daar verskuilde agendas wees, meen sekere feministe.

Vir my is die sonderlinge bydrae van hierdie roman die ontsettende beheer. Die boek word deur ‘n bedrewe, bykans gedistansieerde  stylaanbod gekenmerk wat die emosionele impak van kern-oomblikke sterk laai. Daar is eweneens iets digterliks in die aanbod, en die skrywer self ‘n knap digter, trek die leser by die binnespraak in. Die oorgang van die bewussynstroom na die dialoog of buite-waarnemings word oortuigend hanteer. Die mymeringe in Afrikaans word sonder breuke in Engels weergegee sonder dat steur. 
En wat het met haar uiteindelik gebeur?

Die verhaal eindig onbeslis met die uiting dat dat ‘n wens ‘n verhaal is wat nêrens het om heen te gaan nie…

Dit is dan die verhaal van ‘n vrou wat haar hart as haar grootse vyand beskou en ten slotte wonder ‘n mens of dit funksioneel was om hierdie binnespraak-uiting twee maal te herhaal. Veral omdat dit vroeër – by herhaling – weergegee word (p. 336).

Of wou die skrywer die nie altyd normale binnesspraak so vergestalt?

Sila teenoor haar medespelers, Oumiesies, Van der Wat en Theron, lewer kommentaar op die rassegeskiedenis van hierdie land.

Kwela boeke moet geluk gewens word met hierdie boek wat soveel internasionale aansien  verwerf het en vir die kenner van die postkoloniale diskoers ‘n wonderlike leeservaring sal wees. Om in die New York Times gunstig vermeld te word, is ‘n uitsonderlike prestasie.
Die hele kwessie van boosheid en die kompleksiteite rondom moord en vergelding word tans deur die Koos Sas-debat opnuut weer na vore gebring.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]